Eenvoudig

Dis eenvoudig. Daar hoef nie lang stukke daaroor geskryf te word nie. Dis nie moeilik om te verstaan nie. Dit is doodeenvoudig net woorde wat gelees moet word en dan moet wortelskiet in jou hart.

En as dit nodig is om dit weer en weer en weer te lees omdat die saadjie op harde grond val en heeltyd opgepik word, dan lees jy dit weer en weer en weer.

Jy lees dit en dink daaroor en skommel dit in jou kop rond totdat jou hart omgeploeg is en die saadjie kan wortelskiet in vrugbare grond. Want eers dan gaan jy werklik kan doen wat die woorde vir jou sê om te doen en eers dan word jy weer gebore.

Ek praat van Romeine 10:9-10

Lees dit…

“As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”

Afrikaans ’83

Lees dit weer…

“Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is (sy krag, gesag en majesteit as God aanvaar) en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want as ons glo met ons hart (al ons hoop en vertroue op Christus vestig), word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely (dat Hy die Messias, die Seun van die lewende God is), word ons verlos.”

Die Toeligtings Bybel

En nog ‘n keer…

“En ek sê vir mense om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om met jou woorde te erken Jesus is die Here en om met alles in jou te glo God het Hom uit die dood laat opstaan. As jy dit glo, spreek God jou vry van al jou sondes. En as jy dit met jou mond bely, word jy verlos.”

Die Boodskap

Gaan doen dit nou.

Om te dink

“Gee my tyd om daaroor te dink”

Ja, dit is moontlik om vinnig op jou voete te dink en te reageer. Dit is egter daardie tipe dink wat tyd nodig het waaroor ek vandag wonder. Daardie diep-en-lank-tipe-dink. En ek wonder… wanneer laas het ek tyd gemaak daarvoor?

In my jonger dae kon ek vir ure net so sit en dink. Nou mis ek daardie dae.

Wat het dan intussen gebeur?

Wel, deesdae as ek ʼn oomblik het, trek ek my foon nader en voor ek my kon kry, het ek vir ʼn halfuur gesit en tyd mors op sosiale media. Dan is daar ook die skuldgevoel wat alewig aan jou knaag as jy mamma, eggenoot en werknemer is. Daar is altyd iets wat gedoen moet word en vir stilsit en dink is daar nie tyd nie. Almal en alles plaas druk op jou om dadelik te reageer.

Waarom word mense deesdae nie meer tyd gegun om oor iets te dink nie? Jy moet nóú besluit of jy daardie kontrak wil uitneem – sommer oor die foon – en jy moet nóú besluit of jy daardie projek wil bestuur of nie.

Tog is die vermoë om te kan dink van kardinale belang vir die mens se voortbestaan. Dit is tog immers wat ons ʼn stappie bokant ons vierpotige soogdier-familie plaas, nie waar nie?

Dit is juis tydens daardie dink-tye wat probleme opgelos en emosies uitsorteer word.

En ek glo dit is ook tydens daardie stil word en dink tye wat ons wysheid van bo kry (Ps. 71:17; Ps. 32:8; Ps. 16:7; Spr. 2:6; Spr. 9:10). Miskien is dit die rede waarom ons beroof word van die tyd om te dink.

In hierdie jaar wat voorlê gaan ek aandring op dink-tyd en kwaai wees met myself daaroor.

Ek wil dink oor wat ek lees en dink oor wat ek hoor. Ek wil dink voordat ek antwoord en dink voordat ek doen. Ek wil tyd maak om te dink oor my lewensdoel en die skeppingswonder wat my omring.

Ek gaan tyd maak om te dink.

En ons wag…

En so wag ek al weer. Nog steeds.

Dit voel soms vir my asof ek my lewe om wag.

Ek het iewers gelees dat matrose briewe onder ʼn klip ‘gepos’ het voor Jan van Riebeeck se tyd. Die skepe wat dan op hulle roete na en van Indië af hier stop, sou die briewe vat en saamneem om aan die geadresseerdes te gaan afgee. Daar was geen waarborg dat jou brief sy bestemming sou bereik of dat jy ooit ʼn antwoord daarop sou kry nie. Jy moes maar wag en kyk.

Ek het dus eintlik geen rede om te kla oor die gewaggery in hierdie moderne era nie, maar nogtans hou ek nie daarvan nie.

Mens wag in toue en spreekkamers. Wag vir aflewerings. Wag vir antwoorde. Terugvoer. Uitslae. Wag vir ʼn vakansie. Wag vir betaling. Wag vir beter voel. Wag vir dinge om terug te keer na normaal.

Wag vir inspirasie. Wag vir leiding. Wag vir iemand om uiteindelik die lig te sien. Wag vir daardie droom om waar te word. Wag en wag en wag.

En terwyl jy wag, doen jy maar solank die volgende ding waarvan die uiteinde heel waarskynlik ook ʼn gewaggery gaan wees.

Die lewe bestaan heel duidelik uit wag. En ek wonder… is dit nie eintlik waaroor die hele saai en oes konsep maar gaan nie?

Die afrikanertjies wat ek twee jaar gelede in my tuin gesaai het, het hierdie jaar eers opgekom. Hoekom, weet ek nie. Die sonneblomme nou weer, wat skaars ʼn maand gelede in die grond gedruk is, staan reeds amper ʼn halwe meter hoog.

Jy saai. En jy weet jy sal moet wag voor jy kan oes. Vir sommige dinge moet jy langer wag as vir ander en jy weet nie altyd hoekom nie. Maar een ding is vir seker: jy gaan nie oes op dieselfde tyd wat jy plant nie.

Ek dink dit is dalk juis hierdie onvermoë om te wag vir die regte tyd wat die oorsaak is van meeste dinge wat verkeerd gaan in ons lewens. Mens wil vinnig ryk word. Vinnig gesond word. Vinnig sukses behaal. En dan vat mens kortpaaie. As die deur nie dadelik oopgaan nie, dan breek jy hom af. En as die Here nie dadelik ʼn antwoord gee nie, dan volg jy jou eie kop. Net soos wat die vleis van diere wat ʼn klomp groeihormone ingegee word nadele vir ons inhou, net so is dit nadelig om ʼn ding te wil laat gebeur as die tyd daarvoor nog nie reg is nie.

Daar word nogal baie in die Bybel oor die bestemde tyd gepraat. Hier is ʼn paar Skrifgedeeltes wat vir my uitstaan:

‘Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. ‘

GALASIËRS 6:9

‘Nou het Hy op die bestemde tyd sy woord bekend gemaak deur die prediking wat as opdrag aan my toevertrou is deur God ons Verlosser. ‘

TITUS 1:3

‘Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd. ‘

SPREUKE 25:11

‘Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. ‘

PSALMS 1:3

Lees sommer ook: Jes.49:8, Lukas 12:40, Rom. 5:6, 1 Tim. 2:6, Lev. 26:4, 1 Pet 5:6 en 2 Kor. 6:2 wanneer jy ʼn kansie kry.

Hierdie gedeeltes sê vir my dat ons geduldig moet wag vir die bestemde tye. Tye wat ingestel is vir ons beswil. Dit gaan oor vertroue in God se goedheid.

So, wat maak mens nou terwyl jy wag?

Vir my maak dit logies sin dat daar gegroei moet word. ʼn Saad moet tog ontkiem en dan groei voordat daar ʼn oes kan wees.

Daarom het ek besluit dat, in plaas daarvan om die wag tye om te kla, ek eerder daardie energie gaan gebruik vir groei.

Ek hoop ek kon, met hierdie plasing, jou ook motiveer om dieselfde te doen.

Groete

Madeleine

Jou lewe is ‘n droom

Het jy al ooit daaraan gedink dat jy besig is om iemand se droom te leef?

Selfs al voel jou lewe nie soos ʼn droom nie, vir iemand anders sou jou lewe die wonderwerk gewees het waarvoor hulle bid.

Dit klink nou alles baie soetsappig en nogal bietjie soos ʼn cliché, ek weet. Maar dit is ʼn gedagte wat kort-kort by my opkom deesdae en ek voel ek moet dit deel.

Het jy ʼn dak oor jou kop? Iemand sit in die reën vandag en droom oor daardie dak.

Het jy kinders wat om jou lag en speel? ʼn Kinderlose sit nou en huil omdat die huis stil is.

Het jy ʼn sielsgenoot aan jou sy? Iewers wag iemand nog daarvoor, of het hulle daardie sielsgenoot dalk al verloor.

Het jy vanoggend in jou eie bed wakker geword? Sommige se oë het vanoggend in ʼn hospitaal of ʼn tronksel oopgegaan.

As ʼn mens só oor jou lewe dink, dan besef mens jy het eintlik geen rede om ooit jouself jammer te kry nie.

Vir wat moet ons alewig wens vir meer en beter?

Ek sê nou nie jy moet heeltemal ambisieloos deur die lewe gaan en nie streef na meer en beter nie. Nee. Ek dink die idee is om vreugde in jou hier en nou te vind en nie te wag tot jy meer of beter het voor jy daardie vreugde ervaar nie. Soos wat Nightbirde tereg in ons almal se harte in gepraat het: “You can’t wait until life isn’t hard anymore before you decide to be happy.”

Want dit wat jy het, is iemand anders se meer en beter. Dalk selfs báie meer en beter as wat hulle ooit voor kan hoop. Ja, selfs die dinge wat jou soms kopseer gee en jou bloeddruk opjaag. Stoute kinders is darem kinders en vuil wasgoed is darem klere. Skottelgoed is vuil omdat daar kos in was en ʼn moeilike baas beteken jy het ʼn werk.

‘Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. ‘

1 TESSALONISENSE 5:16-18

So, daarom is ek dan nou dankbaar daarvoor dat ek hierdie kon skryf en dankbaar teenoor jou wat hier lees en sommer net dankbaar vir die lewe wat ek het.

Baie dankie 🙂

Groete

Madeleine

Ek is Syne

Jy sal onthou dat ek so ’n rukkie terug vertel het hoedat ek die moed bymekaargeskraap het om vir ’n digkompetisie in te skryf. Dit was juis hierdie brawe stap wat my laat besluit het om ’n digbundel aan te pak. Nou wonder jy seker wat  van die kompetisie geword het, nè? Wel, kom ek bring jou op hoogte en deel  dan sommer terselfdertyd ook ’n lessie wat die Here my geleer het uit hierdie ervaring.

INK Skryf in Afrikaans het altesaam 1560 inskrywings ontvang waarvan hulle 616 gedigte gekies het vir publikasie in hulle bloemlesing, Inspraak 2.  Die wenners word eers in November hierdie jaar aangekondig tydens die gala-aand.

My gedig, My hart klop in Afrikaans, is een van die wat opgeneem gaan word in hulle bloemlesing! Dit is vir my persoonlik ‘n baie groot prestasie en ook ‘n ongelooflike groot eer.

Nog groter, was egter dit wat ek geleer het n.a.v. wat gebeur het net voordat ek hierdie wonderlike nuus ontvang het. Kom ek vertel…

INK het ook ‘n Facebook-groep waarvan ek deel  is. Een middag maak ek die groep oop en daar sien ek ’n aankondiging boaan die bladsy waarin die wenners van die digkompetisie bekend gemaak word en die organiseerders bedank word vir die pragtige aand. My hart sak sommer in my skoene. ‘n Mens neem mos maar aan ’n kompetisie deel met ’n verwagting.

Hoe hard ek ook al myself probeer troos daarin dat ek nie te veel van my eerste digkompetisie kon verwag het nie, is dit tevergeefs. Moedeloosheid begin groei in my hart en voor ek weet besluit ek dat ek nie ’n digter se sout werd is nie en sak ek weg in ‘n donker put van selfbejammering. Die put word ’n maalkolk wat my dieper insuig totdat ek oortuig is daarvan dat ek liewer my patetiese poging om te skryf heeltemal moet opgee en dat ek oor die algemeen eintlik maar ’n nul op ’n kontrak is.

Toe is dit asof die Heilige Gees in my hart fluister: “Wie is jy nou weer?”

En net daar tref dit my soos ‘n baksteen teen die kop: Ek is besig om my identiteit op die fondasie van my skryfwerk te bou en nie op Christus nie!

Ek het onmiddellik hardop bely dat ek heel eerste, boweal, ‘n kind van God is. Gekies, gekoop en gemerk. Ek behoort aan Hom. My vreugde lê daarin en nie in my sukses as skrywer of op enige ander gebied in my lewe nie. My lewe behoort aan die Here.

Later daardie middag kry ek sowaar ‘n e-pos met ‘n amptelike brief wat my meedeel dat my gedig gekies is vir publikasie, asook ’n uitnodiging na die gala-aand.

Jy kan seker net dink hoe verbaas ek was!

Het ek my dan die aankondiging op Facebook verbeel?

Natuurlik gaan soek ek die aankondiging en raai wat? Ek kry hom nie. Wat ek toe wel besef, is dat Facebook sommerso rond en bont aankondigings uit die argiewe van groepe gaan haal en dan boaan bladsye plaas. Dit wat ek gesien het, was dus heel waarskynlik die wenners van ’n vorige jaar!

Die hele gebeurtenis het my net weer bietjie perspektief gegee en my gedwing om my prioriteite te orden.

Plaas God eerste en die res sal volg soos dit moet en volgens Sy wil – want Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom lief het.

Wees geseën

Madeleine

Plant daardie saadjie

So ‘n paar jaar gelede word ek en my man albei ernstig siek – voedselvergifting. Ek was gedehidreer en moes dringend by ‘n hospitaal uitkom. Omdat my man self ook siek was, het my broer ons hospitaal toe gery. Op pad sê hy: “Madeleine, ek weet dit voel vir jou asof jy gaan doodgaan, maar jy sal nie, hoor?” In my toestand, het ek  hom heel waarskynlik nie eens geantwoord nie en hy het seker gedink ek hoor hom nie.

Dit was egter daardie woorde wat my deurgetrek het. Terwyl ek daar in die hospitaal op ‘n drip gelê het, het ek die hele tyd vir myself gesê: “Ek sal nie doodgaan nie.”

Hy het nooit besef hoe baie daardie woorde vir my beteken het nie. Woorde waarop ek  moontlik nie eens gereageer het nie.

Hoeveel keer het jy al vir iemand geglimlag wat nie terug glimlag nie? Of ‘n kompliment gegee wat nie erken word nie. Miskien het dit gelyk asof jou raad op dowe ore val en jou bemoedigende woorde geen impak maak nie. Die waarheid is, jy sal dalk nooit weet watter groot verskil dit in daardie persoon se lewe gemaak het nie.

Die einste broer van my getuig hoedat ‘n verpleegster se stelling, dat hulle oor ‘n paar dae beter gaan voel, hom bemoedig het toe hy en sy vrou albei deur ‘Die Virus’ platgetrek is.  Elke keer wanneer hy sleg gevoel  het, het hy net homself herinner daaraan dat die verpleegster gesê het hy gaan oor ‘n paar dae weer beter voel.

Ons lees in Spreuke 18:21 dat die tong mag het oor lewe en dood.

Het jy al daaroor gedink dat jou optrede direk of indirek die verskil tussen lewe en dood vir iemand kan beteken?

Soms voel dit wat jy doen klein en onbelangrik, maar dit is juis waarom Jesus hierdie gelykenis vertel het:

‘Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos ‘n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.” ‘

MARKUS 4:30-32

So moenie ophou om daardie saadjies te plant nie. Wie ook al daardie mosterdsaadjie in die land geplant het, sou dalk nooit in sy leeftyd gesien het hoedat dit ‘n groot boom word nie. Net so sal jy dalk nooit sien hoedat die saadjies wat jy vir God se koninkryk plant vrug dra nie. Moenie dat dit jou ontmoedig nie.

Ek dink aan Jesus se opdragte om lief te hê, te dien en te vergewe waarvan ons lees in die Evangelies. Ook aan Paulus se riglyne vir ‘n Christelike lewe in Rom. 12:9-21 en Ef. 4:25-31. Wanneer ons hierdie riglyne volg, sal ons optrede outomaties lig en sout vir die wêreld wees.

Glimlag vir die nors tannie wat by jou verbystap. Antwoord die ongeskikte winkelklerk vriendelik. Praat die kollega wat die heeldag loop en kla moed in. Komplimenteer die klasmaat wat met almal skoorsoek…

Jy weet nooit of jou optrede dalk net die saadjie van lewe is wat in daardie persoon se hart gaan wortelskiet nie.

Voorsmakie

Ek weet dit klink soos ʼn cliché, maar sonder dat ek dit so beplan, word elke gedig ʼn getuienis van God in my lewe. Hy is my God en ek behoort aan Hom. Daarom kan dit nie anders nie.

Soos wat ek in my vorige plasing aangekondig het, is ek nou druk besig met gedigte skryf vir die beloofde digbundel.

Hier is so ʼn voorsmakie van wat sover al in die digbundel gaan verskyn:

roes

alleen 
in jou probeer verstaan
gee jou glimlag sluk jou traan

veg
vir nog ʼn weer probeer
rek jou hartspier om die seer

hoop
op daardie nuwe kans
loop die stofpad soos ʼn dans

bid
die roes uit jou gestel
sit die las neer en vertel

saam
sit Iemand wat verstaan
dra jou pyn en tel jou traan

© Madeleine Venter 2021


Storm

Weer ʼn storm
nog ʼn keer
groter branders
dieper seer.

Donker tree aan
winde skree
dieptes sak weg
in die see

van die mensdom
met die stank
wat uit hulle
harte rank.

Dan hoor ek
ʼn stem so stil
harder as
die hele spul:

Bedaar

Golwe val plat
donker vlug
ranke verdor
winde sug.

Die Een wat
in my, om my praat
het die storm
stil kom maak.   

© Madeleine Venter 2021
bloeisels

in die grond gelê en vrot
op die roepstem draai my lot
baklei teen slik en modder tot
ranke uitsprei en ek bot
bloeisels
vrugte
vir my God

© Madeleine Venter 2021
Verskroeide aarde

Onder dooie, grys as
van iets wat was
besluip lewe jou nood
ʼn oorwinning oor dood
in nuwe-groen kleur
die wonder gebeur
staan op uit die roet
die dag tegemoet.

© Madeleine Venter 
 

Digter-drome

“Skryf jy ook gedigte?” is ek op ʼn keer al gevra.

En my antwoord: “Nie juis nie.”

Die waarheid is, ek is bang vir gedigte. Daar, dis uit, ek het dit bely!

Waarom is ek bang vir gedigte? Wel, ek dink my rede is geldig. Gedigte stel jou genadeloos bloot. Jy spoeg jou siel uit op papier en wys vir almal jou hart. Met fiksie, aan die ander kant, kan jy so half en half wegkruip agter die karakters van jou verhaal. Niemand is ooit mooi seker of jy nou eintlik besig is om jou hart te wys en of jy net oor ʼn bomenslike vermoë beskik om te kan empatiseer nie.

Dit is ook nie altyd maklik om ander se gedigte te lees nie. ʼn Gedig is nie iets wat jy sommer so lees soos ʼn storie nie. In die eerste plek moet jy in die regte bui wees vir ʼn gedig en in die tweede plek moet jy genoeg tyd hê daarvoor. Soms neem dit meer as een keer se deurlees om te begryp waaroor die gedig gaan en dan nog ʼn paar keer voordat die digter se meesterlike woordekuns aan jou openbaar word. En as dit eers gebeur het jy ʼn skat ontdek.

So skraap ek toe my moed bymekaar en besluit om aan ʼn dig-kompetisie deel te neem. Raak sommer voorbarig en stuur twee gedigte in. Kan jy jou indink? Nou sit ek en naels kou tot die dag waarop finaliste aangekondig word. Sal my leer!

Tog het daar iets goed uit hierdie voorbarigheid gekom. Die gedagte dat, as ek braaf genoeg is om aan ʼn dig-kompetisie deel te neem, ek seker ook braaf genoeg is vir ʼn digbundel? Nè?

En daarmee verklap ek dan nou waarmee ek my tans besig hou. Dis ʼn goeie ding, want nou moet ek dit deurvoer!

So wens my asseblief sterkte toe en verskoon maar as ek met tye nie by is nie.

Hierdie digter-drome kan mens nogal besig hou.

Groete

Madeleine

Kom ek vertel vir jou ‘n storie…

“Vertel vir my ‘n storie, asseblief!”

Ek is seker daarvan al die mammas en pappas, wat hier lees het al daardie woorde gehoor. Kinders hou van stories. Hulle hou van stories lees, stories hoor, stories kyk, stories vertel. 

Om die waarheid te sê, die beste manier om moeilike konsepte aan kinders – en grootmense – te verduidelik is met behulp van ‘n storie. 

Omtrent vyf jaar gelede het ek dus besluit om ‘n kinderboek te skryf. Die boek se naam was Skaperjolle en het gehandel oor twee skapies, Sonia en Timmy, wat deur hulle elke dag se kaperjolle nuwe konsepte leer oor die Vrug van die Gees. 

Vir jare lank het hierdie boek egter vergete gebly op my rekenaar se hardeskyf. Van kinderboeke publiseer het ek niks geweet nie en kontakte het ek ook nie gehad nie. Dit was ‘n groot berg voor my. Waar kry ek illustrasies vir die boek? Hoe doen ek die uitleg? Waar laat ek dit druk?

Al hierdie vrae – en nog ‘n paar waarvan ek oorspronklik nie geweet het nie – se antwoorde het egter so stuk-stuk na my toe gekom deur die Here se leiding en toe ek weer sien sit ek met die boek in my hande!

Omdat die boek opgedra is aan al die kinders van ons familie, waarvan my susterskind Engels is, en ook om meer mense te bereik, het ek besluit om die boek in Engels uit te gee as Little Lambs Learning about Fruit of the Spirit.

‘n Paar maande later maak die Here my drie-uur een oggend wakker en wys vir my Es. 34:11-24. Dit was ‘n stuk in die Bybel wat ek nog nooit voorheen gelees het nie, wat handel oor God wat as Goeie Herder optree vir sy volk. Daar is soveel ooreenkomste tussen hierdie gedeelte en Joh. 10, dat ‘n mens maklik tot die slotsom kan kom dat Jesus na Es. 34:11-24 verwys het toe Hy homself as die Goeie Herder verklaar het. 

“Here,” het ek gebid, “as U hiermee vir my sê om nog ‘n Little Lambs Learning boek te skryf, gee asseblief vir my nog ‘n teken.”

Daardie volgende oggend het ons teruggery huis toe na ‘n seevakansie. Terwyl ons so ry, merk ek langs die pad ‘n klein bordjie op so half in die middel van nêrens. En op die bordjie staan daar geskryf: “Little Lambs of His Flock”.

My hart het amper by my keel uitgespring. Hoekom? Wel, voordat die boek Little Lambs Learning geword het, was dit Little Lambs of His Flock!

Dit was my teken en ek het sommer dadelik weggespring met die tweede boek, Little Lambs Learning some Proverbs.

Die tweede boek was nog nie eens uit nie toe mense my begin vra het vir Afrikaanse weergawes van die twee boeke. Dus het ek skouer aan die wiel gesit met ‘n blye hart. Uiteindelik sou Skaperjolle die lig sien!

So kon ek toe uiteindelik hierdie twee boeke aan my lesers bekend stel:

Albei boeke se voorwoord is deur dr. Gerrie v. Deventer geskryf.
Hierdie boeke kan bestel word vanaf ons aanlyn-winkel.

Baie dankie aan almal wat my aangemoedig het. Dankie vir die ondersteuning en mooi getuienisse wat ek reeds ontvang het van diegene wat die boeke gekoop het.

Maar bo alles, baie dankie aan my hemelse Vader wat my toelaat om stories vir Sy skapies te skryf.

My gebed is dat hierdie stories sal wortelskiet in klein hartjies en eendag ‘n groot oes sal oplewer vir ons Goeie Herder.

Wees geseënd

Madeleine

Ek is nie bang nie

“Daar sit baie meer agter hierdie storie as wat ons dink.”

Ja, dit is dalk so. Daar sit miskien meer agter hierdie storie as wat ons ooit sal kan raai. Of, miskien is dit maar net nog ʼn vervalle-wêreld storie. Wie weet?

Wat ook al die geval mag wees, ek is nie bang nie.

Want God is baie groter en sterker as wie of wat ook al agter hierdie storie sit. Om die waarheid te sê, Hy is groter as die storie self.

Hierdie God ken dié wat Hom liefhet en by Hom skuiling soek en Hy laat alles ten goede meewerk vir hulle. (1 Cor. 8:3, Nah. 1:7, Rom. 8:28)


Ek is een van daardie wat Hom liefhet en by Hom skuiling soek. Dit is waarom ek nie bang is nie.

Ek gebruik my gesonde verstand en hou by die reëls soos wat die Bybel vir my sê om te doen. (Prov. 14:16, Tit. 3:1) Dit beteken ek dra my masker, ek was my hande, ek kuier nie rond nie.

Omdat ek bang is? Nee. Ek doen die regte ding en ek dink aan ander. Ook iets wat die Bybel vir my sê om te doen. (Jam. 4:17, Phil. 2:4)

Ons is almal nou ʼn bietjie moeg vir hierdie storie. Ek ook. Keelvol.

Maar nie bang nie.


Liefde

Madeleine