Dis besig om uit te werk.
Daardie plan van God wat Hy vir jou lewe het. Daardie plan waarvan Hy praat in Jeremia 29:11. Eintlik was dit nog altyd besig om uit te werk. Selfs daardie kere wat dit nie vir jou so gevoel het nie.
Want, Hy het ’n doel met jou en Hy sal daardie doel bereik. God maak nie foute nie.

Want sy liefde ken geen einde nie.
Sy liefde vir jou, die mens wat Hy geskape het, ken geen einde nie. Vir jou wat Hy uitgeroep en gemerk het as sy eiendom. Wat Hy weer laat gebore word het en nuut gemaak het sodat jy die goeie werke kan doen wat hy vir jou beplan het.
Vir jou ken sy liefde geen einde nie.
So miskien is daar ook ’n paar mense in jou lewe vir wie jy wil sê: Luister hier! Sy liefde vir my ken geen einde nie. Dit geld vir my ook!
Luister hier jy wat brûe brand omdat ek nie in jou religieuse boksie pas nie. Luister hier jy wat op my neerkyk in jou selfopgelegde aansien. Luister hier jy vir wie ek ’n groot teleurstelling is. Luister hier jy vir wie ek onsigbaar is. Luister hier jy wat in jou mou lag omdat ek stroomop swem en nie inpas nie.
Sy liefde vir my ken geen einde nie.
Ek is ’n doelbewuste meesterstuk.
