
Madeleine Venter
Skrywer
Welkom op my blad en dankie dat jy kom inloer het! Hier is ‘n bietjie meer oor my…
Ek is in Vryheid gebore en het in Ermelo groot geword. Tydens my Hoërskool jare verhuis ons na Roodepoort waar ek dan ook in 1994 matrikuleer. Nadat ek onderwys gaan studeer het in Pretoria, het ek vir sewentien jaar skool gegee as grondslagfase en musiek onderwyseres.
Nadat ek uit die onderwys bedank het, het ek verder studeer en ʼn medegraad in Pastorale Berading verwerf.
Ek skryf al van skooldae af en het ʼn paar skryfkursusse voltooi, o.a. UJ se ‘Kreatiewe Afrikaans’- jaarkursus onder leiding van prof. Willie Burger, SA-Vryskutskrywers se kortverhaalkursus en Carpe Diem uitgewers se ‘Skryf vir die Gees’ slypskool. Tans is ek besig met dr. Mia Oosthuizen se jaarlange skryfskool vir kinder- en jeugboeke.
In 2001 is ek met Rumatoïede Artritis gediagnoseer. Hierdie diagnose was tot ʼn groot mate daarvoor verantwoordelik dat ek vir ʼn paar jaar so te sê opgehou het om te skryf.
Ek het egter weer die pen opgetel en in 2014 verskyn my kortverhaal, Tjomma in die 17 Januarie uitgawe van Vrouekeur. Sedertdien is verskeie kortverhale in Huisgenoot opgeneem. Ek het ook twee kinderboeke en ‘n novelle gepubliseer wat op Amazon.com beskikbaar is.
My eerste plasing op Blog vir Jesus verskyn in September 2015 en in Maart 2016 begin ek ook ʼn Engelse blog.
Van my kortverhale en gedigte is opgeneem in verskeie gesamentlike bundels. My inskrywing het die langlys gehaal vir LAPA se 2021 Jeugromankompetisie en ek was ‘n finalis in die 2022 RSG radiodrama skryfkompetisie. My skryfwerk kan ook op LitNet gelees word.
Wanneer ek nie skryf nie, lees ek – ek is ’n regte boekwurm en lees baie wyd. Ek hou my ook besig met kreatiewe handewerk en geniet dit om nuwe vaardighede aan te leer.
Ek, my man en ons tienerdogter woon tans in Krugersdorp waar ek voltyds skryf.
Gaan lees my Engelse blog hier: