Vandag, 21 Februarie, is Internasionale Moedertaaldag. Hier is twee van my hartstaal gedigte. Die eerste gedig is verlede jaar opgeneem in Ink, Skryf in Afrikaans se bloemlesing, Inspraak 2. Mag jou hart steeds warm klop vir jou moedertaal.
My hart klop in Afrikaans Van afkoms en tuiskoms, oor grense, het jy die woorde gaan haal en word dit jou taal. Dit groei, haal asem en lewe, word die woord van die dag, ʼn magiese krag. So word jy jou taal in wese, Afrikaner is jy en dit sal jy bly. singtaal leertaal bidtaal preektaal word jou vegtaal ek-bestaan-taal. Ek ken ook die liedjie ek ken ook die dans. My hart klop ook in Afrikaans. © Madeleine Venter hartstaal hartstaal soos ʼn oseaan branders breek hier waar ek staan golf na golf wat oor my slaan strome woorde trek my in dieper – waar my hartstaal sing en die stories vir my bring na waar wondere gebeur word ek verder meegesleur sonder spartel of probeer gee ek oor en laat dit spoel totdat woorde in my woel en ek al die klanke voel © Madeleine Venter