Vandat ek kan onthou is boeke en stories so deel van my soos die geboortevlekkie op my regterknie.

Ek was van jongs af ’n ywerige leser en het, as die oudste van vier, my jonger sibbe vermaak met stories wat ek of vertel of uitgespeel het. Wanneer ons by my ouma-hulle op Middelburg gaan kuier het, het hulle een van die vele skilderye teen die mure gekies en dan moes ek ’n storie rondom die gekose kunswerk opdis. Ek het ook altyd vir myself stories vertel terwyl ons langpad gery het of wanneer ek nie aan die slaap kon raak nie. Soos ek ouer geword het, het my pa sy rekenaar aan my afgestaan tydens skoolvakansies sodat ek al die stories wat in my kop rond gedraai het kon neerskryf.

My droom was om eendag by ’n biblioteek in te stap en ’n hele rak vol van boeke wat ek geskryf het daar te sien.

In 2001 is ek met RA gediagnoseer, en dit, saam met my voete vind in die onderwys, trou en mamma word, het egter daartoe bygedra dat ek so te sê opgehou het met skryf. Alhoewel ek in 2002 die jaar-kursus, Kreatiewe Afrikaans, by die destydse RAU voltooi het, moes ek noodgedwonge my skryfdroom agtertoe skuif.

Wanneer ek wel geskryf het in die daaropvolgende jare, was dit so raak-raak aan ’n spesifieke boek waarmee ek al van studentejare af mee besig was. Die boek het egter intensiewe navorsing geverg waarvoor ek net eenvoudig nie tyd gehad het nie.

In 2014 het ek ’n wake-up-call gekry en besef dat my droom om ’n gepubliseerde outeur te word nie vanself gaan realiseer nie. Ek het meer doelgerig begin skryf en ’n kortverhaal vir Vrouekeur gestuur wat toe goedgekeur en gepubliseer is. Dit was vir my ’n baie groot mylpaal.

In 2015 het ek Blog vir Jesus begin en die jaar daarna ook ’n Engelse blog. Uit onkunde het ek ’n teksboek vanity press-uitgewer genader om van die gewildste plasings op Blog vir Jesus in boekvorm uit te gee. Duisende rande later het ek met twee bokse foutiewe boeke gesit waarvan die eerste honderd se laaste bladsy ontbreek het en die tweede honderd so lelik gebind was dat mens dit nie eens verniet kon weggee nie. Dit was ’n duur les, maar ek skryf dit af as skoolgeld.

’n Ongelooflik talentvolle vriendin het aan my genoem dat sy graag illustrasies wil probeer en dit het my laat besluit om ’n kinderboek te skryf wat dan aan haar die geleentheid sou bied om die boek te illustreer. So het dit gekom dat ek Skaperjolle – Vrug van die Gees, geskryf het. Soos die lewe maar is, het sy egter saam met al haar ander verpligtinge nie daarby uitgekom om die illustrasies te doen nie. Die boek is op die ou end deur ’n belowende jong kunstenaar in ons familie geïllustreer.

Intussen het ek gehoor van Kindle Direct Publishing (kdp) en besluit om daardie roete te gaan met ’n Engelse novelle wat ek geskryf het, The Grace Song. Aangesien Engels my tweede taal is, het ek nie die selfvertroue gehad om die manuskrip aan ’n tradisionele uitgewer te stuur nie en wou ek, uit vrees vir nog ’n vanity press-bloutjie, ook nie gebruik maak van enige ander selfpublisering-uitgewers nie. My debuut het dus as ’n selfgepubliseerde Young Adult Contemporary Christian Fiction op Amazon verskyn. Nie heeltemal die debuut-droom wat ek gekoester het nie.

Omdat Skaperjolle, wat intussen stof opgegaar het, opgedra is aan al die kinders in ons familie waarvan een van hulle Engels is, het ek die boek oorgeskryf in Engels as Little Lambs Learning about Fruit of the Spirit en ook deur kdp uitgegee. Gedurende die inperkingstyd van 2020 het ek met baie bloedsweet en tandekners self die uitleg in Adobe Indesign gedoen en toe sommer ’n tweede boek ook aangepak, Little Lambs Learning some Proverbs.

Die wêreldwye inperkingstoestand het veroorsaak dat Amazon nie my boeke kon aflewer nie en ek was genoodsaak om die boeke onder nuwe ISBN nommers te publiseer sodat dit hier in Suid-Afrika gedruk kon word. Die tweede kinderboek was nog by die drukkers toe verskeie lesers my gevra het om die twee boeke asseblief in Afrikaans ook uit te gee. Die oorspronklike manuskrip vir Skaperjolle is toe nader gesleep vir eksterne redigering en het uiteindelik ook die lig gesien.

So het dit dus gebeur dat ek aan die ouer kant van veertig met ses selfgepubliseerde boeke sit en my skryfwerk in ’n besigheid ontaard – kompleet met ’n aanlynwinkel en alles wat daarmee gepaard gaan. Dit was ook glad nie deel van my droom nie

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie spyt oor die boeke wat ek self gepubliseer het nie en ek het ook glad nie ’n probleem met skrywers wat self publiseer nie. Inteendeel, ek het ’n heilige respek vir die wat dit wel suksesvol deurvoer. Selfbemarking is egter nie my sterkpunt nie en van besigheid weet ek bitter min. Daarom het ek besluit om nie weer daardie roete te volg nie.

Nog twee van my kortverhale het die afgelope twee jaar in Huisgenoot verskyn en een van my kortverhale is ook in ’n gesamentlike bundel opgeneem. Ek het verlede jaar vir die eerste keer met erns my hand aan ’n gedig gewaag en was nogal verras dat die gedig ook in ’n gesamentlike digbundel opgeneem is.

Nou fokus ek al my aandag daarop om myself as erkende skrywer te vestig. (Hier staan en deel ek nou, baie senuweeagtig, ’n diep hartsgeheim!)

Ek het verlede jaar die moed bymekaargeskraap om in te skryf vir LAPA se Jeugromankompetisie en, alhoewel my verhaal nie die kortlys gehaal het nie, is ek ingelig dat dit wel op hulle langlys is en oorweeg word vir publikasie. Intussen het ek ook ’n kinderboek aan LAPA voorgelê, nog twee kortverhale aan tydskrifte gestuur en ’n verhaal vir PEN-Afrikaans se kortverhaalkompetisie ingeskryf.

Terwyl ek wag vir terugvoer op al die skryfstukke, skryf ek solank aan my volgende jeugverhaal wat ek wil inskryf vir die 2023 Jeugromankompetisie.

Soos julle dus kan sien, skryf ek vir ’n plek. En daar het julle dan nou sommer ook my skryfstorie tot dusver.

Soms wens ek dat ek sommer net weer vreesloos en met arrogante selfvertroue al die stories in my kop kon uitblaker soos wat ek dit as kind gedoen het. Maar die lewe leer mens om impulsiewe entoesiasme aan realiteit onderdanig te maak.

En daardie realiteit is dat niks wat die moeite werd is oornag ’n werklikheid word nie.

Ook nie ‘n mens se grootste droom nie.

9 Comments

  1. Toortsie sê:

    Die stories wat ek reeds van jou gelees het, is wonderlik geskryf. Ek kan net wéns om soos jy te skryf. Dalk moet jy die realiteit ‘n bietjie ignoreer en weer met kinderlike selfvertroue begin uitblaker. En dalk moet jy daardie boek wat swak gedruk was, weer afstof … miskien waag om dit vir ‘n uitgewer te stuur … of dalk as e-boek publiseer?

    Liked by 1 person

    1. Madeleine Venter sê:

      Dankie vir jou vertroue in my, Toortsie 😊 Dit beteken vir my baie. Ja, ek wou dit al doen, maar weet jy hoe skelm is hierdie vanity press uitgewers? Ek het, in my onkunde, kopiereg aan hulle oorgeteken, wat beteken ek kan niks met daardie boek doen nie. Dis nou maar water onderdeur die brug en ‘n lessie wat ek geleer het.
      Wat die stories uitblaker betref, stem ek heelhartig saam met jou. Dankie vir die aanmoediging 🙂

      Liked by 1 person

      1. Toortsie sê:

        Hulle is regtig skelm. As hulle al die regte het, moes hulle mos die uitgawes ook dra en seker maak dat die boek verkoopbaar is? Jy moet dalk daardie kontrak ook weer onder oë neem, want soos dit nou is, is daar geen voordeel in vir niemand nie. Nie vir jou nie en ook nie vir hulle nie. Is daar nie iewers ‘n betroubare regsgeleerde wat jy kan nader nie?
        Selfpublikasie beteken ook selfbemarking wat jy sê vir jou moeilik is. Dit is vir my maklik om my resepteboeke te bemark, maar ek weet ook nie hoe om ‘n storieboek te bemark nie.
        Nou wonder ek. Het jy nog daardie boeke? Kan jy nie die weggelate laaste bladsy laat druk en maar agterin die boeke plak nie?

        Liked by 1 person

      2. Madeleine Venter sê:

        Weet jy, ek het omtrent so 30 van die boeke verkoop voordat ek besef het die laaste bladsy is weggelaat. Die res het ek geskenk aan ‘n hospice winkel. Omdat dit die uitgewers se fout was het hulle toe op hulle onkoste nog laat druk en dit is daardie tweede klomp wat toe so lelik gebind was. Die houvas wat hulle op mens het is dat jy net deur hulle mag werk as jy nog boeke wil laat druk. Hulle help glad nie met bemarking of verspreiding nie.
        Ek weet ons moes dit seker verder gevat het, maar dis minder drama om dit net af te skryf as skoolgeld 😉

        Liked by 1 person

      3. Toortsie sê:

        Nou toe. Nou voluit vorentoe. Intussen is daar mos weer nuwe blogs geskryf wat weer as ‘n biek saamgestel kan word.

        Like

      4. Toortsie sê:

        Of dalk is dit nou die tyd vir ‘n regte storieboek …

        Liked by 1 person

      5. Madeleine Venter sê:

        Jip! Dit is waarop ek nou fokus 🤗

        Liked by 1 person

  2. Alle sukses op jou skryfpad – ek tjeer vir jou!

    Liked by 1 person

    1. Madeleine Venter sê:

      Baie dankie, ek het dit nodig 😁

      Liked by 1 person

Laat ‘n boodskap na Toortsie Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op ‘n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s