My eerste kortverhaal wat in Huisgenoot opgeneem is, het in die 4 Junie 2021 uitgawe verskyn.
Tweede kanse
As ʼn grondpad net so doodloop beteken dit net een ding – niemand ry hom meer nie. Twee dae se reis van onder in die Kaap tot bo in die Vrystaat was dus verniet.
Haar vingers soek ingedagte na die goue rosie om haar nek. Tannie Berta het die kettinkie van haar eie nek afgehaal en om Rina sʼn gesit met die woorde: “Sodat jy my kan onthou as jy al van alles vergeet het.”
Sy was skaars sewe.
Nou, na baie jare se opsetlike vergeet, kom soek sy die tannie wat gevra het dat sy haar moet onthou. As sy tog net vroeër onthou het dat daar wel mense uit haar verlede is wat sy maar kon onthou. Nou is dit klaarblyklik te laat. Met ʼn knop in haar keel, skakel Rina haar motor se enjin aan vir die lang terugtog Kaap toe. Dan sien sy die hond.
So skielik en stil staan hy daar dat sy mooi moet kyk of sy reg sien. Sy skakel die enjin weer af en klim versigtig uit die motor uit. Die hond gaan sit voor haar.
“Hallo,” groet sy vriendelik.
Hy spits sy ore en draai sy kop skeef.
“Waar is die mense?” vra sy en hy gee ʼn kort blaf.
Haar oog vang die geroeste tuinhekkie tussen die lang gras en nog ʼn entjie verder, skaars sigbaar tussen die digte bosse, ʼn stukkie huis.
“Haai? Is dit Tannie Berta se huis wat hier agter die bosse wegkruip?” vra sy vir die hond.
Sy wil net in die rigting van die huis begin stap, as sy ʼn motor met die grondpad hoor aankom. Verbaas kyk sy hoe ʼn rooikop man, pak klere en al, uit die wit bakkie klim wat in ʼn stofwolk agter haar motortjie stilhou.
“Ah…mevrou Coetzee! Ek het net begin wonder of hierdie pad ooit iewers heen lei,” lag hy, al sukkelend in haar rigting deur die lang gras.
“Nie juis nie en ek is nie mevrou Coetzee nie,” antwoord sy.
Hy frons, “Nie?”
“Nee. Ek is Rina Swart en ek het Tannie Berta hier kom opsoek, maar dit lyk my nie sy of die plaas bestaan nog nie,” blaker sy alles aan die vreemdeling uit – want sy voel ʼn bietjie soos Alice in Wonderland en sal glad nie verbaas wees as hier nog ʼn wit haas ook aankom nie.
Hy staar haar stom aan en sy wil net herhaal toe die hond skielik kwaai begin blaf. Nie vir haar of die man nie, maar in die stukkie huis se rigting.
“Berta…ja mevrou Berta Coetzee. So, sy is jou tannie?” probeer hy bokant die geblaf uitpraat.
“Ek weet nie eintlik nie, maar waarvoor dink jy blaf die hond?”
ʼn Onheilsgevoel wil-wil oor haar kom.
Hy skud sy kop asof hy moet wakker word en sy weet hoe hy voel.
“Wie is jy?” vra sy en begin in die rigting van die huis stap.
“Willem,” hy volg haar deur die tuinhekkie, “Willem Brits.”
Die hond staan en blaf vir die voordeur en Rina besluit dat dit dalk maar beter is om eerder om te draai. Sy het al iewers gehoor dat honde spoke kan sien. Sy draai in Willem vas en tree verleë terug.
“Is jy nou bang?” grynslag hy.
“Ek het twee dae gelede uit Kaapstad uit gery om ʼn tannie op ʼn plaas te kom soek wat ek twintig jaar gelede gesien het. Op my eie, met my laaste spaargeld en in ʼn ou kar. So, nee, ek is nie bang nie, maar ek dink dis genoeg dapperheid vir nou.”
Willem lyk beïndruk maar sê niks nie. Vol bravade stap hy teen die stoeptrappies op, huiwer, loer eers deur die venster en draai dan die deurknop. Die deur kraak oop.
“Hallo?” roep hy vraend en draai sy kop effens skuins asof hy iets hoor.
Rina loer oor sy skouer. “Sien jy iets?” fluister sy.
“Moenie beweeg nie ek sal skiet!” skree ʼn ouvrou-stem skielik agter hulle.
Rina sou inelkgeval nie kon beweeg nie, al wou sy.
“Mevrou Coetzee?” vra Willem versigtig.
“Wat soek jy?” kap die ouvrou-stem terug.
Willem draai stadig om: “Ek is Willem Brits en-“
“Staan stil!”
Hy vries.
“Willem Brits…” mompel sy.
“Ja mevrou, ons het oor die foon gepraat. Onthou u? Ek is hier om na u kunswerke te kom kyk.”
Daar is vir ʼn oomblik stilte.
“Jy kan nie Willem Brits wees nie,” sê sy uiteindelik, “draai om dat ek sien.”
Hy doen dit baie versigtig en Rina doen maar dieselfde.
Voor hulle staan Tannie Berta met ʼn windbuks teen haar skouer. Sy dra ʼn langbroek vol knapsekêrels en ʼn gebleikte valletjies bloesie. Haar grys hare is ʼn deurmekaar bondel op haar kop.
“My pa is ook Willem Brits…” verduidelik Willem.
Tannie Berta laat sak die windbuks stadig en vee ʼn grys sliert uit haar oë.
“Natuurlik,” snorklag sy en skud haar kop, “Willem moet seker nou al amper sewentig wees!”
“Agt en sestig,” antwoord jong Willem.
Tannie Berta kyk hom agterdogtig aan: “Jy sê jy’s sy seun?”
“My pa het baie laat getrou…”
“En wie is jy?” onderbreek tannie Berta sy verduideliking en frons in Rina se rigting.
“Tannie Berta, ek is Rina… Onthou tannie my?”
Die ou vrou frons nog steeds en Rina vroetel die goue rosie onder haar bloes uit. Tannie Berta se oë rek en sy trek haar asem vinnig in, “My liewe kind!” roep sy en gryp Rina om die nek, “Wat het tog van jou geword?” vra sy met trane vlak in haar oë.
Hulle volg haar na binne en gaan sit op bevel langs ʼn ou, ronde houttafel in die middel van die kombuis.
“Nou hoe het julle tweetjies mekaar ontmoet?” vra Tannie Berta terwyl sy die ketel aansit en bekers uit ʼn ogiesdraad kas haal.
Hulle kyk met monde vol tande na mekaar en Tannie Berta draai vraend om: “Moeilike vraag? Toemaar, ek kan ook nie sê hoe ek en Willem mekaar ontmoet het nie.”
Sy skud haar kop en gaan voort om opgehoopde teelepels kitskoffie in drie bekers te skep.
“Het mevrou my pa geken?” vra Willem nuuskierig.
Tannie Berta snorklag weer, “Het ek hom geken, vra jy? Ek het daardie man beter geken as enige ander mens. Hy was van altyd af daar. Ek weet nie hoe nie. Ons was net altyd saam, elke vry oomblik wat ons gehad het.”
Sy sit ʼn stomende beker koffie met skuimerige melk voor elkeen neer en vertel verder: “Toe gaan staan en trou ek met ʼn lang donker boer en trek sak en pak na hierdie verlore hoek van die Vrystaat toe. ʼn Paar jaar gelede is hy oorlede en nou sit ek stoksiel alleen op hierdie verlate plek. Ek het nie gedink ek sal ooit weer vir Willem enige plek anders as in my drome sien nie. Toe – vyf dekades later – is hy net skielik weer daar. In ʼn klein koerant advertensie met die opskrif: Willem Brits soek Suid-Afrikaanse talent in die kunste. Dit moes die Willem gewees het wat ek ken, want dit was juis hy wat my aangemoedig het om te skilder.”
“Vandat ek kan onthou versamel hy kunswerke,” beaam jong Willem.
“So hoe hét julle twee ontmoet?” vra Tannie Berta weer.
“Ook sommer net so,” antwoord Willem en grinnik in Rina se rigting.
“Ons het altwee gelyk hier aangekom op soek na Tannie,” verduidelik Rina, “so ons ken mekaar eintlik glad nie.”
Tannie Berta antwoord nie, vat net ʼn sluk koffie en staar voor haar uit asof sy nie regtig gehoor het wat Rina sê nie.
“Ek het hom weer opgesoek nadat ek getroud was,” sê sy vir haarself, “toe die oogklappe afval en my bene nie meer lam word nie.”
Rina en Willem sit in afwagting, maar sy vertel nie verder nie.
Skielik staan sy op, “Is jy klaar Willem? Kan ek vir jou die skilderye wys?”
“Ja asseblief,” sê hy saaklik, “ek wil dit graag sien.”
Hulle volg Tanie Berta tot in ʼn groot, sonverligte vertrek wat dalk eens op ʼn tyd ʼn eetkamer kon gewees het. Olieverf landskappe en portrette van mense wat vir Rina vaagweg bekend lyk, staan oral rond.
Tannie Berta staan eenkant met haar hande in die broeksakke, “Kyk maar rond,” sê sy, “hulle is almal te koop.”
Willem bekyk elke kunswerk aandagtig. Na ʼn rukkie draai hy vasberade om, “Wat sal tannie my vra vir hulle almal?”
“Hulle almal?” vra Tannie Berta geskok.
“Ja!” beaam Willem, “My pa sal my nooit vergewe as ek enige iets hier agterlaat nie.”
Na ʼn oomblik se nadink trek Tannie Berta haar skouers op en sê: “Moet jou nie bekommer oor ʼn prys nie. Ek het inelkgeval nie die geld nodig nie,” dan sag, “wou eintlik maar net weer vir Willem sien.”
“En,” grinnik jong Willem, “dit is presies wat gaan gebeur.”
“Hoe nou?” frons Tannie Berta.
“Ek besef nou waarom my pa plaaslike kuns so passievol bymekaar gemaak het,” sê Willem opgewonde, “hy het natuurlik gehoop dat hy op daardie manier weer kontak met tannie sou maak! Wil tannie nie asseblief saam met my kom nie?”
Tannie Berta se gesig helder op, “Is jy seker?”
“Natuurlik!” antwoord Willem opgewonde, “Ek laat my pa sommer nou dadelik weet ek bring twee gaste saam.”
“Twéé gaste?” protesteer Rina terwyl hy ʼn foon uit sy sak haal.
Hy laat sak die foon en kyk haar reguit in die oë, “Sal jy asseblief saamkom, Rina? Ek wil nie ook dekades wag voordat ek jou weer perongeluk raakloop nie.”
Rina loer na Tannie Berta wat bemoedigend vir haar knik.
“Wel, noudat jy dit so stel,” glimlag sy, “kan ek seker nie nee sê nie.”
Die einde