Sommerso, Huisgenoot, 7 Januarie 2022

Die hond hardloop sommerso by die oop skuifdeur in en gaan sit met ʼn glimlag voor Riëtte waar sy lui-lui op die bank lê en lees.

“Hallo?” groet sy onseker. “Waar kom jy nou vandaan?”

Dit lyk soos ʼn baster van baie basters. ʼn Reuse hond. As dit nie vir daardie vriendelike oë en breë glimlag was nie, sou sy haar boeglam geskrik het. Hy lê sy kop op haar skoot met ʼn asseblief-tog-streel-my-kyk. Versigtig steek sy haar hand uit en streel die wollerige kop. Hy is goed versorg en daar is ʼn halsband met ʼn naamplaatjie om sy nek.

Sy vroetel die naamplaatjie uit tussen die lang krullerige hare. “Bosman,” lees sy en hy lig sy ore opgewonde, “is dit jou naam? Bosman?”

Sy stert waai vrolik in antwoord op haar vraag.

“Nou wat maak jy hier, Bosman?” vra sy en stap na die skuifdeur toe.

Bosman gaan sit langs haar en kyk so ewe saam die straat op en af, amper asof hy ook wonder waar hy vandaan kom. Die straat is egter verlate.

Hier in Struisbaai los almal hulle skuifdeure oop op ʼn warm dag en die meeste huise is ook nie omhein nie. Iets waaraan stadsjapie-Riëtte met ʼn gesukkel moes gewoond raak vandat sy ʼn bietjie meer as ʼn maand gelede sak en pak hier kom wegkruip het.

“Dan moet ek seker die nommer op jou naamplaatjie bel,” sê sy vir Bosman.

Sy lui die nommer in en wag. Die foon gee twee luie en dan praat ʼn ouman-stem: “Hallo, Jakob se foon, ek is nie nou beskikbaar nie. Los gerus ʼn boodskap.”

“Err… hallo,” sê Riëtte, “meneer se hond het hier by my aangekom. Bel my asseblief sodra meneer kan. Baie dankie en groete.”

Bosman luister met ʼn skuins kop na haar gesprek.

“Is jy dors?” vra sy en staan op.

Sy kry ʼn leë roomysbak en maak dit vol water, sprei ʼn ou koerant op die vloer oop en het skaars die bak neergesit of Bosman begin drink asof hy dae laas water gesien het.

Net dan lui haar foon en sy sien dat dit Jakob is wat terugbel. “Hallo, Jakob?” antwoord sy.

“Wie is jy en waar het jy my nommer gekry?” brom hy kwaai.

“Jou nommer is op Bosman se naamplaatjie,” antwoord sy verskrik.

As hy nie dadelik iets sê nie, voeg sy versigtig by: “Bosman die hond. Jou hond?”

“Ek het nie ʼn hond nie!” kap hy en druk die foon in haar oor dood.

Riëtte staar verslae na die skerm. Sou sy dalk die nommer verkeerd gelees het? Sy gaan hurk by Bosman en vergelyk die nommer op sy naamplaatjie met dié op haar foon. Nee. Dit is tog presies dieselfde nommer wat sy geskakel het.

“So wat nou?” vra sy vir Bosman. “Waar kom jy vandaan, hè?”

Bosman gee twee vriendelike blaffe.

“Hmmm…” sê Riëtte ingedagte, “ons sal seker nou by die bure moet gaan hoor. Kom.”

Op die dag wat sy ingetrek het, het die Botha-gesin – met hulle string seuntjies wat soos mal goed in haar leë huis rondgehardloop het – nuuskierig koek en koffie aangedra. Sy het hulle net die nodige vertel. Hulle hoef nie te weet dat sy net hier gestop het omdat sy nie verder Suid kon ry nie.

Die laaste ding waarvoor sy nou lus is, is om op ʼn Sondagmiddag aan hulle deur te gaan klop. Sy het egter nie ʼn ander keuse nie. Bosman het ʼn eienaar iewers op die dorp en hier ken almal vir almal.

Die Bothas se deur staan ook oop en sy hoor die seuntjies binne skree asof iemand vermoor word.

“Hallo!” roep sy baie hard, want sy weet nie hoe enige siel iets bokant daardie lawaai sal kan hoor nie.

Bosman begin sy stert vrolik te waai as Lisa Botha aangestap kom met een seuntjie op haar heup en ʼn ander aan haar been.

“Haai! Hallo Riëtte!” skree sy ook. “Maar dis nou vir jou ʼn verrassing!”

Dan kyk sy na Bosman. “O, en ek sien Johan kuier bietjie by jou.”

“Johan?” vra Riëtte.

“Is mos Johan se hond, of bedrieg my oë my nou?” frons sy en skree dan iewers na binne: “Tiaan! Eben! Sean! Ek praat nie weer nie!”

Die seuntjie op haar heup begin huil en sy druk ʼn fopspeen in sy mond. “Jammer,” glimlag sy verleë, “hulle is nog heeldag in mekaar se hare. Ek dink dis die hitte. Kom binne!”

“Dankie, maar ek wou eintlik maar net kom hoor of julle dalk weet wie se hond dit is,” antwoord Riëtte vinnig. “Hy het net sommerso by my opgedaag ʼn rukkie terug. Ek het die nommer op sy naamplaatjie gebel, maar dit is verkeerde nommer.”

“Ja, dis Johan se hond daai,” knik Lisa. “Ek bel hom gou. Kom sit.”

“Ag ek wil nie pla nie,” maak Riëtte weer verskoning.

Lisa is egter reeds besig om met iemand oor haar selfoon te praat en Riëtte beduie dat sy solank teruggaan huis toe met Bosman. Sy stap vinnig weg en draai verlig by haar stil erfie in. Die Johan vent kan maar gerus sy hond hier by haar kom optel. Sy sal nie vyf minute in daardie malhuis oorleef nie.

Bosman krul homself langs haar op die bank op en ʼn warm tevredenheid gaan lê in haar hart soos wat sy hom agter die ore krap. Die hond se teenwoordigheid verjaag die eensaamheid wat saam met haar hier ingetrek het. Die dag toe sy haar goed gepak het om finaal uit Gert Labuschagne se selfsugtige lewe pad te gee, het eensaamheid ongenooid ook in haar tas gespring. Al die pad Suid het hy haar geselsskap gehou en toe sowaar homself ook nog hier kom tuis maak in haar nuwe huisie.

Bosman se kop ruk op as ʼn motor voor haar huis stilhou en hy storm opgewonde op die man af wat uitklim.

“Bosman!” roep die man en gaan hurk om die hond te groet. “Waar loop jy rond, hé?”

Riëtte gaan staan in die skuifdeur en die man kom regop. “Hallo!” groet hy vriendelik en stap nader, met Bosman vrolik op sy hakke. “Jy is seker Riëtte?”

“Dis reg ja,” antwoord sy en neem sy uitgestrekte hand huiwerig.

“Johan. Aangename kennis. En jammer dat Bosman jou lastig geval het.”

Hy is een van daardie mans wat sjarmant is sonder dat hy bedoel om te wees. Lank, donker en misterieus. Kompleet asof hy uit ʼn liefdesroman uit stap. Saam met sy skewe glimlag verskyn daar ʼn astrante kuiltjie in sy linkerwang en sy sjokolade-bruin oë is inderdaad die vensters na ʼn komplekse, onweerstaanbare siel.

Dit is die laaste ding waarvoor Riëtte nou krag het. Drie jaar saam met ʼn narsistiese Griekse god het haar vir eers genees van mooi mans.

Daarom antwoord sy koel: “Dit is geen probleem nie, hy het glad nie gepla nie. Ek is net bly Lisa het geweet dit is jou hond, want die nommer op die naamplaatjie is verkeerd.”

ʼn Skaduwee skuif oor sy gesig. “Nee, dit is nie verkeerd nie. Dit is my pa se nommer en Bosman is eintlik sy hond.”

“Is jy seker?” vra sy sonder om te dink.

“My pa het alzheimer’s,” antwoord Johan bot.

“Ek is jammer,” sluk sy verleë.

Hy kyk haar ʼn oomblik ondersoekend aan voordat hy weer praat: “Ek het so drie maande gelede my werk in Kaapstad bedank en teruggetrek hierheen om hom te versorg. En jy?”

“En ek wat?” vra sy vererg. Dink hy nou sy gaan sommerso haar persoonlike sake met hom deel?

“Waar kom jy vandaan en waarom is jy hier?” vra hy sonder om doekies om te draai.

“Ek het hier kom bly om alleen te wees,” antwoord sy kil en voel dadelik spyt.

“O, ek sien,” sê hy en in sy kyk weet sy dat hy regtig sien. “Nou ja, dan loop ek maar. Dankie dat jy so gaaf met Bosman was en totsiens.”

“Totsiens,” groet sy swaar en kyk sy lenige figuur teleurgesteld agterna.

Dan wip sy soos sy skrik as Bosman skielik hier reg langs haar blaf. Verbaas kyk sy na die hond wat bly sit asof hy geplant is.

Johan draai stadig om en frons vir die hond. “Bosman! Kom!” beveel hy, maar Bosman roer nie.

“Toe, gaan huis toe!” probeer Riëtte haar deel ook doen, maar tevergeefs.

Johan lyk heel in sy skik soos wat hy weer aangestap kom en sê met ʼn grinnik: “Dit lyk my hy wil graag nog ʼn bietjie langer saam met jou kuier.”

“Dit lyk my so,” lag sy verleë.

Hy kruis sy arms oor sy bors en stel versigtig voor: “Miskien moet ons dan maar ʼn entjie met hom op die strand gaan stap?”

Sy kyk af na Bosman wat stertswaaiend op ʼn antwoord wag. “Ek kry gou my hoed,” stem sy uiteindelik in.

Met ʼn hart wat bollemakiesie slaan glip sy vinnig na haar kamer, gryp haar hoed en sit lipstiffie aan.

Johan staan geduldig vir haar en wag en wanneer hulle oë ontmoet tuimel die mure om haar hart sommerso inmekaar. Hier staan sout van die aarde, weet sy instinktief. Hy is nie soos Gert Labuschagne of enige ander man wat sy al ontmoet het nie. Hulle stap in stilte oor die straat met Bosman wat uitbundig tussen hulle deurvleg.

Eers op die strand praat Johan weer: “Jy het nou sowaar Bosman se dag gemaak.”

Sy slinger ʼn stuk dryfhout die branders in vir Bosman wat dit blaffend agterna sit. “Wel, eintlik het hy my dag gemaak,” glimlag sy en laat haarself toe om te verdwaal in sy oë.

Sommerso stilletjies, vat eensaamheid die pad.

Die einde