Rooi katjiepiering, Huisgenoot, 17 Januarie 2025
Beursies en oorringe en gebreekte plakkies het Daniel al by die dosyne teëgekom. Maar in die vier en dertig jaar wat hy nou al hier bly, het hy nog nooit so iets raakgehark nie.
Hy krap die boek tussen die blare uit.
“Nou toe nou,” mompel hy.
Hy bestudeer die deurleefde leeromhulsel. ’n Joernaal.
“Hallo, oom Daniel!”
Hy skrik en druk die boek onder sy arm in. Die Pienaar-boeties. Hy’t hulle nie eens hoor aankom nie.
“Hallo,” groet hy terug.
Gelukkig is hulle so haastig om in die branders te kom dat hulle niks opgemerk het nie.
“Oppas vir die stroom vandag, bly regs van die rotse!” vergeet hy amper om te sê.
“Ja, ons weet, dankie, Oom!” roep die jongste outjie oor sy skouer terug.
Daniel wag tot hulle oor die duin verdwyn voor hy weer die boek onder sy arm uithaal. Hy vryf met sy duim oor die bruin leer en probeer die nuuskierigheid onderdruk wat in hom opstoot. ’n Mens lees nie ander mense se joernale nie. Dis ’n heel ander storie as om in ’n beursie te krap op soek na die eienaar se identiteit. Met ’n joernaal sal dit wees asof hy in iemand se siel rondkrap.
Hy probeer onthou wie hy gister vanaf sy stoep met die voetpaadjie sien afstap het. Maar behalwe vir die Pienaar-boeties was almal vreemdelinge. Vakansiegangers.
Dan onthou hy skielik die vrou met die strooihoed. Sy’t voor die rooi katjiepiering tot stilstand gekom en haar asem ingetrek. Een van die blomme gepluk en dit by haar hoed ingedruk. Sy moes seker oë op haar gevoel het, want sy’t skielik in sy rigting gekyk en haar kop so half skuins gedraai.
As hy reg onthou, het sy nogal ’n groot strandsak saamgedra. Dis moontlik dat hierdie joernaal daarbinne was. Noudat hy daaraan dink, sy’t gelyk na die tipe wat so iets sal hê.
Maar hoe gaan hy haar opspoor?
Hy besluit om tog die joernaal oop te maak, ten minste net die eerste paar bladsye te lees. Miskien kry hy ’n naam of ’n leidraad. Hy hark die laaste entjie van die paadjie haastig skoon en drafstap oor die straat terug huis toe.
In die kombuis sit hy die joernaal versigtig op die tafel neer en skuif sy stoel eerbiedig nader. Sy hande huiwer ’n oomblik voor hy die riempie losknoop. Nee, hy doen niks verkeerd nie. Hoe anders moet hy weet wie sy is?
Voor sy moed hom begewe, slaan hy die boek oop.
“Wat de–?”
Die vergeelde bladsye is van hoek tot kant vol sketse van plante, en langs elkeen is aantekeninge in ’n vreemde taal. Daniel het nog nooit so iets gesien nie. Dit lyk nie soos Chinees of Arabies of selfs Grieks nie.
“Hallo?” roep iemand skielik by die hek.
Daniel sukkel uit sy stoel uit op en loop brom-brom stoep toe. Hoe die vakansiegangers elke jaar besluit dat die oom in die houthuis oorkant die strand die algemene inligtingsbron is, gaan sy verstand te bowe.
Op die stoep steek hy vas. Die einste vrou van gister staan by sy tuinhekkie. Kompleet met die rooi katjiepiering wat nou half verlep aan haar strooihoed hang.
“Ja, hallo. Kan ek help?” Hy probeer om nie te skuldig te klink nie.
Sou sy weet hy’t haar joernaal opgetel?
Dan besef hy sy praat waarskynlik nie Afrikaans nie. Miskien moet hy net die boek gaan haal en vir haar gee. Hy beduie aan haar om te wag en draai die huis binne. Ná ’n rukkie is hy terug en waai die joernaal bokant sy kop met ’n verskonende glimlag.
“Here it is! I found it in the path.” Hy draf met die houttrappies af.
Sy staan net daar met ’n kwaai frons.
“There you go,” sê hy.
Hy hou dit oor die tuinhekkie na haar toe uit. Sy staar na die joernaal asof dit iets is wat uit die lug geval het.
“En dit?” vra sy.
O, sy praat Afrikaans.
“Ek’s jammer, mevrou. Maar ek het dit in die paadjie opgetel en nie geweet wie s’n dit is nie. Ek kon ook niks uitmaak van wat daarbinne staan nie, so ek–”
“Jy’t dit oopgemaak?” vra sy geskok.
“Wel, hoe anders moes ek nou weet wat om daarmee te doen?” verdedig hy.
“Gee dat ek sien.”
“Versigtig,” maan hy toe sy sonder seremonie die riempie loswoel.
Sy loer met opgetrekte wenkbroue na hom en slaan die boek oop. “O, ek sien wat jy bedoel. Lyk of dit ’n Slawiese taal kan wees. Jy weet? Dalk Russies.”
“Huh?”
“Hierdie sketse is fantasties! Werklik iets besonders. En dis baie oud.”
“Is dit dan nie joune nie?” vra Daniel.
Sy lag. “Myne? Nee, man. Wat laat jou nou so dink?”
“Ek weet nie. Het maar gedink dis waarom jy hier is.”
“O, nee.”
Sy gee die boek terug. Skielik ernstig.
“Waarmee kan ek dan help?” vra Daniel.
“Jy herken my glad nie, nè?”
Sy trek haar oë skrefies en gluur hom aan. Hierdie vrou word net ál vreemder.
Daniel trek sy oë ook skrefies en gluur terug. “Nee. Ek doen nie. Wie’s jy?”
Sy sug. “Bertus? Jou partner in crime? Ek was sy vrou. Janie.”
Die beeld van ’n laggende blondine in ’n wye romp en heldergeel bloes flits deur sy gedagtes. ’n Beeld wat hy jare gelede aspris agtergelaat het. Janie.
Hoe op dees aarde het hy haar nie herken nie?
“Ek het nie gedink ek sal jou ooit weer raakloop nie. Jy’t van die aardbol af verdwyn.”
“Ja, wel.”
Daar’s nie eintlik veel meer wat hy daaroor kan sê nie. Wanneer ’n mens alles verloor, is dit soms nodig om self weg te raak.
“En toe wonder ek of jy ooit weet van Bertus?”
Daniel se hart krimp ineen. “Nee, ek weet nie.”
“Hy’t ook die pad gevat. Kamstig gaan werk soek in Frankryk, iemand daar ontmoet en besluit hy bly.”
Daniel blaas sy asem verlig uit. “O, sjoe, ek’t gedink jy gaan vir my sê hy’s dood.”
Haar oë vlam. “Dis so goed hy is.”
Sy draai om en wil wegstap.
“Wag!” keer Daniel.
En hy weet sowaar nie hoekom nie.
Sy draai op haar hakke om. ’n Vraag op haar gesig.
“E . . . ek het jou hulp nodig?” Hy swaai weer die joernaal bokant sy kop.
Sy staan ’n rukkie hande in die sye voor ’n effense glimlag om haar mond verskyn. “Ja, oukei. Ek’s ook nuuskierig. Kom!”
Sy begin aanstap en gee Daniel skaars genoeg tyd om deur die tuinhekkie te kom en op te vang.
Toe hy eindelik kortasem langs haar op die voetpaadjie inval, praat sy asof hy nog heeltyd daar stap: “Daar’s so ’n vreemde outjie in die huis oorkant my. Ek’t sommer ’n gevoel ons moet hom gaan vra.”
“Oukei, as jy so dink.”
Hulle stap ’n hele ent voor Janie versigtig vra: “Waarom het jy so verdwyn, Daniel?”
“Wat anders moes ek doen?”
“Bertus het gehoop julle twee kon dalk iets saam begin.”
Die verwyt in haar stem sny diep.
Daniel probeer dit aflag. “Wat? Ek en Bertus? Dis juis oor ons twee die moeilikheidmakers was dat hulle ons so maklik kon aflê.”
“Natuurlik.”
***
Hulle bereik die outjie se huis. Janie klop en die deur swaai amper onmiddellik oop.
“Yes?” ’n Swaar aksent.
Voor Janie enigiets kan sê, val sy blik op die joernaal in Daniel se hande en sy oë rek.
“You . . . you’ve found it!” ’n Snik ontsnap uit die outjie se bors.
Daniel stop verbouereerd die boek in sy hande.
“Thank you! Thank you!”
“Is it yours?” vra Janie onnodig.
“It . . . it was my . . . er . . . great grandfather’s.”
Hy maak die boek versigtig oop en beduie na een van die sketse. “Here to . . . er . . . find the plants. To confirm,” verduidelik hy. Hy wys na homself. “Ivan. From Bulgaria.”
Hy beduie in ’n rigting, en Janie knik asof sy presies weet waar Bulgarye is. Met die knikkery val die verlepte katjiepiering uit haar hoed en Ivan buk om dit op te tel.
Hy kyk met ’n grinnik van die een na die ander. “Secret love.”
Daniel hoes. “Ekskuus?”
“Red . . . er . . . gardenia. Secret love.”
Hy gee die blom vir Janie terug met ’n knipoog.
’n Blos kruip oor haar wange en sy maak keel skoon. “No, we are just friends.”
“Don’t worry. Secret safe with me.”
Hy bedank hulle nog ’n keer en gaan die huis binne met die joernaal teen sy hart vasgedruk.
Hulle stap in ongemaklike stilte terug. Voor die katjiepiering gaan Janie staan.
“Waarom het jy verdwyn?” vra sy weer.
“Jy weet waarom.”
Sy gooi die verlepte blom weg en draai by die strandpaadjie in. “Tot siens, Daniel.”
“Janie, wag.”
Dan pluk hy ’n vars blom en hou dit na haar toe uit.
Sy vat dit by hom. “Ek’t nie eens geweet ’n mens kry rooi katjiepierings nie.”
“Dit was my geheim,” antwoord hy.
’n Verstaan flits in haar oë. “En ’n geheim sal dit bly.”
Die einde