Dis makliker om op te gee.
Gaan lê is minder moeite as bly staan.
Om verbitterd te wees kom meer natuurlik as om te vergewe.
Hoe sterker die maalkolk is, hoe minder krag het jy om te bly spartel. Te bly staan. Te vergewe.
En dan gee jy op.
Ek glo persoonlik dat dit een van die duiwel se grootste wapens teen ’n mens is – om jou so mismoedig en moeg te maak dat jy uittree. Gaan lê. Heeltemal opgee.
As golf na golf oor jou breek. As elke probeerslag ’n terugslag is. As elke keer wat jy hoop uitloop op teleurstelling. Dis wanneer dit baie makliker is om op te hou spartel en te sink.
Dis maklik om op te gee. Enige iemand kan dit doen. Maar jy is nie sommer enige iemand nie.
Jy het ’n God na wie jy kan uitroep.
‘Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom. Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie. Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het… Red my uit die modder, dat ek nie wegsak nie, laat my wegkom van my vyande af, weg uit die diep waters. Moenie dat die stroom my meesleur en die diep water my insluk nie, en moenie dat hierdie put toegaan bokant my nie. Antwoord my, Here, in u wonderlike liefde, verhoor my in u groot barmhartigheid! ‘
PSALMS 69:2-3,15-17
Hy sal sy hand uitsteek en jou red. Jou uit die modder uittrek. Hy sal nie die put bokant jou laat toemaak nie. Hy sal jou uitlig, jou op ’n rots neersit, en op vaste grond laat loop.
‘Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ‘n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my ‘n nuwe lied in die mond gelê, ‘n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou! ‘
PSALMS 40:2-4
Jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee.
Moenie opgee nie.
