Agt jaar gelede het my kortverhaal, Tjomma, in Vrouekeur verskyn. Dit was my eerste gepubliseerde kortverhaal en ‘n groot mylpaal in my lewe. Ek deel graag vandag die verhaal met julle. Lekker lees!

Tjomma

Die twee ou lywe sukkel met hulle trollie verby ongeduldige jongmense en is net mooi goed op pad na hulle motor toe as Willem skielik, in die middel van die pad, gaan stilstaan.

 “En nou?” vra Bets. Seker weer die knie.

“Kyk,” fluister hy.

Bets kyk in die rigting waarin sy krom vinger wys. Sy sien net motors in die parkeerterrein. Ook nie juis iets besonders nie.

“Wat?” vra sy effens ongeduldig en vat die trollie by hom sodat hy tog net uit die pad uit kan kom.

“Dáár man,” draf-stap hy agter haar aan en kry haar aan die elmboog beet. Hy draai haar in ʼn rigting en wys weer met sy krom vinger. “Die Vollatjie!”

Sy loer oor haar bril na die vaalgroen Volkswagentjie wat trots en regop daar tussen die blink motors staan. Willem stap nader asof hy op heilige grond loop en sy volg hom met die trollie. Dan gee haar hart ʼn sprongetjie.

Sy slaan haar hand oor haar mond: “Willem? Dink jy dit is…?”

“Ja, dit is!” sê hy nou met ʼn breë glimlag, “dis Tjomma!”

Hy maak sy hande bak voor sy oë en loer deur die klein, dowwe ruitjie aan die bestuurder se kant: “Wraggies,” sê hy en stap dan om na die passasierskant toe. “Ja man, kyk, daar’s die rooiwynvlek nog!”

Die rooiwynvlek…

Sy onthou nog die lekker warm gevoel hier diep binne in haar toe ʼn eerstejaarstudent haar kom roep het. Groot-oog oor die belangrike meneer wat by die ingangsportaal van die koshuis kom vra het om vir haar, Bets de Lange te sien.

Hy was baie belangrik vir eerste-jaar studente, want hy was voorsitter van die studenteraad. Daarby was hy ook nog groot, sterk en aantreklik, met ʼn wolk van opwindende misterie om hom.

Skielik is sy weer terug in die koshuis. ʼn Sorgelose vierdejaar student. Sy het die vorige aand se huisgodsdiens gelei en was net op die punt om Abraham se dapper geloof te besing toe hy, saam met ’n paar lede van die studenteraad, onverwags daar ingestap gekom het.

“Gaan voort,” het hy met ʼn gebaar aan haar beduie terwyl die afgevaardigdes oop stoele tussen die verbaasde meisies gesoek het.

Met moeite het sy weer almal se aandag gekry en, ten spyte van haar droë mond, dit tog reggekry om haar boodskap oor te dra. Die heeltyd was sy bewus van sy geamuseerde blik op haar en dit het haar hart opgewonde vinniger laat klop. Na haar gebed het hy opgestaan en haar voor almal gekomplimenteer oor die pragtige boodskap.

Die volgende aand kom hy daar aan met Tjomma, ʼn olyfgroen Volkswagen. Splinternuut uit die boks.

“Ek het gewonder of jy my dalk sou kon help met ʼn toespraak,” verduidelik hy senuweeagtig nadat hulle gegroet het.

Dis vir haar wonderlik om te sien hoe hierdie belangrike man stotter en sluk hier voor haar. Hy is verlief. Die grote Willem van Buuren is op háár verlief! Na ʼn paar verleë laggies is hulle met Tjomma na ʼn koffie-winkel op pad. Die nuwekarreuk laat haar baie belangrik voel. Sy ken darem ook mans goed genoeg om te weet sy moet ten minste iets oor die spogkarretjie sê.

“Ek hou van jou kar,” sê sy en verlustig haar in die manier waarop sy blou oë ophelder.

Met trots verduidelik hy hoe hy op sy oom se plaas vir die varke gesorg het, elke vakansie, vandat hy twaalf jaar oud was en hoe hy elke sent gespaar het om eendag, as hy groot genoeg is, vir homself ʼn kar te kan koop. Hy het toe natuurlik nog nie genoeg geld gehad ná matriek nie en het oor naweke en vakansies hom byna doodgewerk by ʼn veearts. Uiteindelik, na baie swoeg en sweet kon hy nou, baie onlangs, vir homself hierdie Volkswagen koop.

Sy steek nie haar bewondering weg nie. En só, met sy ego gestreel en haar oë vol sterretjies, kom hulle by die koffie winkel aan. Hulle sluk die een koppie koffie na die ander weg, terwyl hulle gesels oor allesbehalwe sy toespraak.

As hulle uiteindelik weer terug is by Tjomma, wat geduldig daar onder die straatlamp staan en pronk, gee Willem weer ʼn verleë laggie en sê so ongeërg as moontlik: “Ek is nou nogal lus vir ʼn glasie rooiwyn.”

“O ja, dis ʼn goeie idee!” Sy is bly dat hy haar nie nou al wil gaan aflaai nie. “Waar dink jy kan ons dit kry?”

“Sommer hier,” kondig hy manhaftig aan en haal ʼn bottel rooiwyn en twee glase onder sy sitplek uit.

Sy voel gevlei dat hy eintlik ʼn romantiese aand vooruit beplan het. In ʼn vrolike luim ry hulle na ʼn hoogtetjie waar jy ver oor die liggies kan kyk en sy hou die glase vas terwyl hy skink.

Toe gebeur dit…

Hulle sit elkeen nog so, sonder woorde, die pragtige uitsig en geniet, as hy ewe skielik sy warm hand onder haar hare inskuif en haar saggies nader trek.

Skielik onthou sy al die riller stories van gebreekte harte oor ʼn gesoenery op die eerste aand en, voordat sy nog mooi self weet wat, ruk sy haar kop weg. Met soveel beslistheid, dat die helfte van haar wyn oor die rand stort.

“Ek is jammer,” begin hy verbouereerd verskoning maak, “ek weet nie wat oor my gekom het nie, dis net dat…”

Sy woorde droog skielik op en sy blik verstar op ʼn donker kol teen die roomkleurige sitplek langs haar been.

“O genade!” is al wat sy kan sê.

Paniekerig begin hy met ʼn sakdoek aan die kol vryf.

“Wag jy vryf hom net dieper in,” sê sy en probeer die sakdoek by hom vat om te wys hoe dit gedoen moet word.

Maar hy ruk sy hand vies weg: “Los liewer,” sê hy met ʼn diep stem en gooi die res van sy wyn by die venster uit.

Sy doen maar dieselfde, met trane wat agter haar oë brand.

Sonder ʼn verdere woord skakel hy die enjin aan. Die pad terug koshuis toe voel baie lank en die hele tyd moet sy aan haar trane sluk. Uiteindelik daar, hou hy die deur vir haar oop en waai haar flou verskoning met ʼn kwaai hand weg. Toe klim hy terug in Tjomma en jaag soos donderweer daar weg.

Daardie aand het sy gehuil en haar lot by ’n simpatieke kamer-maat bekla. Vir die res van haar lewe sou sy eensaam en ongelukkig wees, want sy het dáárdie kans, wat net eenmaal in ʼn jongmeisie se lewe opduik met ʼn wynvlek opgemors!

Willem skud sy kop ongelowig, met dieselfde glimlag van netnou nog steeds op sy gesig: “Ek kan nie glo dat die ou karretjie na soveel jare nou skielik hiér opduik nie!”

“Ja, dis ongelooflik. Ek wonder aan wie hy nou behoort,” wonder sy.

Hy kom met ʼn kreun regop en stap vir die soveelste keer om die karretjie met een hand op sy seer rug. “Mooi opgepas,” sê hy tevrede, “nie eens ʼn ou krapmerkie nie.”

Hulle het net ná die tweeling se geboorte besluit om vir Tjomma te verkoop. Dit was ʼn hartseer affêre, maar hulle het ʼn groter motor nodig gehad. Tjomma was vrykar, troukar, boukar en trekkar. Nooit het hy hulle in die steek gelaat nie. Nie toe hy sakke sement moes aanry na die erf waar hulle eerste huis gebou is nie, en ook nie toe hy deur Pretoria se strate met noodligte aan moes jaag omdat die seuns besluit het hulle kom drie weke vroeër nie!

Met Tjomma het hulle letterlik hulle toekoms ingery.

Ná hom was daar nog drie huise en vyf motors. Vier honde, twaalf skool- en vier universiteitsjare. Een groot partytjie en twee troues. Daar was vakansies en bloedsweet, geboortes en begrafnisse, vrede en rusies.

Daar was ʼn hele lewe wat met Tjomma en ‘n rooiwynvlek begin het.

Willem kom sit sy arm om haar lyf en sy laat sak haar kop op sy skouer. Om al twee se lippe speel ʼn glimlag van soete herinnering.

“Jy weet,” se Willem, “daardie vlek het my laat besluit om met jou te trou.”

Hy wag vir haar om te sê: “O regtig?” soos wat sy ook al eenkeer, baie jare gelede, op daardie einste stelling gesê het.

“Ja,” gaan hy voort, “as jy my daardie eerste aand terug gesoen het, sou jy nie die meisie gewees het wat ek gehoop het jy is nie!”

“Dan is ek bly oor die vlek,” antwoord sy.

Hulle draai met ʼn laaste kyk om en stap stadig oor die parkeerterrein. Saam-saam stoot hulle die trollie tot by ʼn blink-grys Jaguar in die volgende ry motors.

“Ek is bly dat die vlek nog steeds daar op die sitplek is,” sê sy soos hulle wegry.

“Ja, ek ook,” antwoord hy, “dit was goed om dit weer te sien.”

Die einde

6 Comments

  1. Dis ‘n warm-om-die-hart-storie, veral vir Volkswagen-aanhangers!

    Liked by 1 person

    1. Madeleine Venter sê:

      Baie dankie 😊

      Liked by 1 person

  2. Oe mooi, ek dink sommer aan my eie studentejare terug.

    Liked by 1 person

    1. Madeleine Venter sê:

      Dankie vir die saamlees, Christa 😊

      Liked by 1 person

  3. Toortsie sê:

    Mens kon nie help om jouself in die prentjie te sien nie. 😁

    Liked by 1 person

    1. Madeleine Venter sê:

      Baie bly jy het die storie geniet, Toortsie 😁

      Like

Laat ‘n boodskap na Toortsie Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op ‘n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s