“Gee my tyd om daaroor te dink”

Ja, dit is moontlik om vinnig op jou voete te dink en te reageer. Dit is egter daardie tipe dink wat tyd nodig het waaroor ek vandag wonder. Daardie diep-en-lank-tipe-dink. En ek wonder… wanneer laas het ek tyd gemaak daarvoor?

In my jonger dae kon ek vir ure net so sit en dink. Nou mis ek daardie dae.

Wat het dan intussen gebeur?

Wel, deesdae as ek ʼn oomblik het, trek ek my foon nader en voor ek my kon kry, het ek vir ʼn halfuur gesit en tyd mors op sosiale media. Dan is daar ook die skuldgevoel wat alewig aan jou knaag as jy mamma, eggenoot en werknemer is. Daar is altyd iets wat gedoen moet word en vir stilsit en dink is daar nie tyd nie. Almal en alles plaas druk op jou om dadelik te reageer.

Waarom word mense deesdae nie meer tyd gegun om oor iets te dink nie? Jy moet nóú besluit of jy daardie kontrak wil uitneem – sommer oor die foon – en jy moet nóú besluit of jy daardie projek wil bestuur of nie.

Tog is die vermoë om te kan dink van kardinale belang vir die mens se voortbestaan. Dit is tog immers wat ons ʼn stappie bokant ons vierpotige soogdier-familie plaas, nie waar nie?

Dit is juis tydens daardie dink-tye wat probleme opgelos en emosies uitsorteer word.

En ek glo dit is ook tydens daardie stil word en dink tye wat ons wysheid van bo kry (Ps. 71:17; Ps. 32:8; Ps. 16:7; Spr. 2:6; Spr. 9:10). Miskien is dit die rede waarom ons beroof word van die tyd om te dink.

In hierdie jaar wat voorlê gaan ek aandring op dink-tyd en kwaai wees met myself daaroor.

Ek wil dink oor wat ek lees en dink oor wat ek hoor. Ek wil dink voordat ek antwoord en dink voordat ek doen. Ek wil tyd maak om te dink oor my lewensdoel en die skeppingswonder wat my omring.

Ek gaan tyd maak om te dink.