Ek is Syne

Jy sal onthou dat ek so ’n rukkie terug vertel het hoedat ek die moed bymekaargeskraap het om vir ’n digkompetisie in te skryf. Dit was juis hierdie brawe stap wat my laat besluit het om ’n digbundel aan te pak. Nou wonder jy seker wat  van die kompetisie geword het, nè? Wel, kom ek bring jou op hoogte en deel  dan sommer terselfdertyd ook ’n lessie wat die Here my geleer het uit hierdie ervaring.

INK Skryf in Afrikaans het altesaam 1560 inskrywings ontvang waarvan hulle 616 gedigte gekies het vir publikasie in hulle bloemlesing, Inspraak 2.  Die wenners word eers in November hierdie jaar aangekondig tydens die gala-aand.

My gedig, My hart klop in Afrikaans, is een van die wat opgeneem gaan word in hulle bloemlesing! Dit is vir my persoonlik ‘n baie groot prestasie en ook ‘n ongelooflike groot eer.

Nog groter, was egter dit wat ek geleer het n.a.v. wat gebeur het net voordat ek hierdie wonderlike nuus ontvang het. Kom ek vertel…

INK het ook ‘n Facebook-groep waarvan ek deel  is. Een middag maak ek die groep oop en daar sien ek ’n aankondiging boaan die bladsy waarin die wenners van die digkompetisie bekend gemaak word en die organiseerders bedank word vir die pragtige aand. My hart sak sommer in my skoene. ‘n Mens neem mos maar aan ’n kompetisie deel met ’n verwagting.

Hoe hard ek ook al myself probeer troos daarin dat ek nie te veel van my eerste digkompetisie kon verwag het nie, is dit tevergeefs. Moedeloosheid begin groei in my hart en voor ek weet besluit ek dat ek nie ’n digter se sout werd is nie en sak ek weg in ‘n donker put van selfbejammering. Die put word ’n maalkolk wat my dieper insuig totdat ek oortuig is daarvan dat ek liewer my patetiese poging om te skryf heeltemal moet opgee en dat ek oor die algemeen eintlik maar ’n nul op ’n kontrak is.

Toe is dit asof die Heilige Gees in my hart fluister: “Wie is jy nou weer?”

En net daar tref dit my soos ‘n baksteen teen die kop: Ek is besig om my identiteit op die fondasie van my skryfwerk te bou en nie op Christus nie!

Ek het onmiddellik hardop bely dat ek heel eerste, boweal, ‘n kind van God is. Gekies, gekoop en gemerk. Ek behoort aan Hom. My vreugde lê daarin en nie in my sukses as skrywer of op enige ander gebied in my lewe nie. My lewe behoort aan die Here.

Later daardie middag kry ek sowaar ‘n e-pos met ‘n amptelike brief wat my meedeel dat my gedig gekies is vir publikasie, asook ’n uitnodiging na die gala-aand.

Jy kan seker net dink hoe verbaas ek was!

Het ek my dan die aankondiging op Facebook verbeel?

Natuurlik gaan soek ek die aankondiging en raai wat? Ek kry hom nie. Wat ek toe wel besef, is dat Facebook sommerso rond en bont aankondigings uit die argiewe van groepe gaan haal en dan boaan bladsye plaas. Dit wat ek gesien het, was dus heel waarskynlik die wenners van ’n vorige jaar!

Die hele gebeurtenis het my net weer bietjie perspektief gegee en my gedwing om my prioriteite te orden.

Plaas God eerste en die res sal volg soos dit moet en volgens Sy wil – want Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom lief het.

Wees geseën

Madeleine

Plant daardie saadjie

So ‘n paar jaar gelede word ek en my man albei ernstig siek – voedselvergifting. Ek was gedehidreer en moes dringend by ‘n hospitaal uitkom. Omdat my man self ook siek was, het my broer ons hospitaal toe gery. Op pad sê hy: “Madeleine, ek weet dit voel vir jou asof jy gaan doodgaan, maar jy sal nie, hoor?” In my toestand, het ek  hom heel waarskynlik nie eens geantwoord nie en hy het seker gedink ek hoor hom nie.

Dit was egter daardie woorde wat my deurgetrek het. Terwyl ek daar in die hospitaal op ‘n drip gelê het, het ek die hele tyd vir myself gesê: “Ek sal nie doodgaan nie.”

Hy het nooit besef hoe baie daardie woorde vir my beteken het nie. Woorde waarop ek  moontlik nie eens gereageer het nie.

Hoeveel keer het jy al vir iemand geglimlag wat nie terug glimlag nie? Of ‘n kompliment gegee wat nie erken word nie. Miskien het dit gelyk asof jou raad op dowe ore val en jou bemoedigende woorde geen impak maak nie. Die waarheid is, jy sal dalk nooit weet watter groot verskil dit in daardie persoon se lewe gemaak het nie.

Die einste broer van my getuig hoedat ‘n verpleegster se stelling, dat hulle oor ‘n paar dae beter gaan voel, hom bemoedig het toe hy en sy vrou albei deur ‘Die Virus’ platgetrek is.  Elke keer wanneer hy sleg gevoel  het, het hy net homself herinner daaraan dat die verpleegster gesê het hy gaan oor ‘n paar dae weer beter voel.

Ons lees in Spreuke 18:21 dat die tong mag het oor lewe en dood.

Het jy al daaroor gedink dat jou optrede direk of indirek die verskil tussen lewe en dood vir iemand kan beteken?

Soms voel dit wat jy doen klein en onbelangrik, maar dit is juis waarom Jesus hierdie gelykenis vertel het:

‘Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos ‘n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.” ‘

MARKUS 4:30-32

So moenie ophou om daardie saadjies te plant nie. Wie ook al daardie mosterdsaadjie in die land geplant het, sou dalk nooit in sy leeftyd gesien het hoedat dit ‘n groot boom word nie. Net so sal jy dalk nooit sien hoedat die saadjies wat jy vir God se koninkryk plant vrug dra nie. Moenie dat dit jou ontmoedig nie.

Ek dink aan Jesus se opdragte om lief te hê, te dien en te vergewe waarvan ons lees in die Evangelies. Ook aan Paulus se riglyne vir ‘n Christelike lewe in Rom. 12:9-21 en Ef. 4:25-31. Wanneer ons hierdie riglyne volg, sal ons optrede outomaties lig en sout vir die wêreld wees.

Glimlag vir die nors tannie wat by jou verbystap. Antwoord die ongeskikte winkelklerk vriendelik. Praat die kollega wat die heeldag loop en kla moed in. Komplimenteer die klasmaat wat met almal skoorsoek…

Jy weet nooit of jou optrede dalk net die saadjie van lewe is wat in daardie persoon se hart gaan wortelskiet nie.