Dit is weer daardie tyd van die jaar. Prysuitdelings.

Dit is die tyd waarin ʼn mens vir twee ure op ʼn harde saal stoel sit en wag vir jou kind se naam om uiteindelik gelees te word. Jy is so besig om te wonder waarvoor sy ʼn prys gaan kry, dat jy nie juis luister watter pryse die ander tweehonderd kinders kry nie. As sy dan uiteindelik daar op die verhoog saam met haar klas staan, is jy weer so besig om foto’s te neem, dat jy inelkgeval nie eens mooi hoor wat op die stuk papier staan waaroor sy groot oog staan en loer nie. Maar jou hart swel van trots en jy sug van verligting dat haar naam wel uitgelees is.

Ek kan nie help om te wonder waar prysuitdelings begin het nie…hoekom het mense besluit daar moet sertifikate, medaljes, balkies, trofee en allerhande dinge uitgedeel word om te wys hoe oulik iemand is? Wat van die outjie wat nie ʼn medalje kry nie? Of die een wat vol hoop na die trofee staar net om te sien hoe dit aan iemand anders oorhandig word?

Die doel van ʼn skool prysuitdeling is om kinders aan te moedig en te motiveer om hard te werk. Harde werk word beloon. Dit is tog hoe die lewe werk en dit is ook ʼn Bybelse beginsel. Daar is heelwat Spreuke wat rofweg daarop neerkom dat ʼn mens die vrugte van sy arbeid sal pluk. Maar ongelukkig werk die lewe nie altyd op Bybelse beginsels nie en verander prysuitdelings eerder in verwaande spog-skouspelle. Dit is ʼn hartseer feit dat harde werk nie die enigste kriteria is waarop sommige kinders pryse kry nie. Daar is ongelukkig ander faktore ook betrokke wat heel onder aan die lys van eerlikheid en integriteit staan. Dit sien ʼn mens ook in die grootmens wêreld en op sportvelde. Die ‘employer of the year’ is nie noodwendig die een wat die hardste gewerk het nie en goue medaljes word nie altyd aan die span uitgedeel wat verdien het om te wen nie.

ʼn Mens kan nie die waarde wat die wêreld aan belonings heg vertrou nie. Maar God gee ook ʼn prys. En die waarde van daardie prys kan jy ten volle vertrou.

In 1 Petrus 1: 6-7 staan daar: “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ʼn kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

Daar is nog ander verse ook in die Bybel wat praat van oorwiningspryse. Maar wat my aangryp van die bogenoemde, is dat God waarde heg aan ons geloof. Soveel waarde het ons geloof vir Hom dat hy dit deur ʼn toets sit. Hy wil met die wederkoms kan sê: “Oor hierdie mens se geloof kan julle maar hande klap en juig. Julle kan verseker weet dit is eg, want dit het My toets deurstaan.”

Jy sien, God se prysuitdeling gaan nie soos mense s’n wees nie. Jy kan Hom nie omkoop met goeie dade en ʼn rekord tyd van ure in die kerk nie. God kyk hoe jy optree in die oomblikke wat dit regtig moeilik is om ʼn Christen te wees. Daardie kere wat jy moet opkom vir Jesus. Wat doen jy? Bly jy stil om die vrede te bewaar? Ek het altyd. Totdat ek besef het dit is ʼn toets. Gaan lees bietjie Matteus 10: 32-33. Dit het my geruk.

En wat van die kere wat dit regtig baie sleg gaan met jou? Ek weet hoe dit voel om in die wildernis rond te dwaal. Job se boek is nie verniet in die Bybel nie. Ek glo dit is juis ʼn groot stuk genade om ons bietjie met die toets te help. Job het in een dag alles verloor wat hy besit het. Wat het hy gedoen? Hy het God geprys, nie gesondig nie en nie vir God verwyt nie. (Job 1:21-22) Sy geloof het die toets deurstaan en hy is daarvoor dubbel en dwars beloon (Job 42:10-17).

Dit is so maklik vir ons om menslike verheerliking na te streef, dat ons partykeer vergeet dit is net tydelik. God se prys is ewig. Op die ou end is dit tussen jou en Hom.

Die grootste en beste beloning van jou lewe gaan wees as jou naam eendag uit die Boek van die Lewe gelees word omdat jy die regte keuse gemaak het.


Sien jou by die prysuitdeling…