Hoe oud is jy?

Ek het onlangs ʼn interessante vraag gelees: “How old would you be, if you didn’t know how old you are?”

As jy nie ʼn idee gehad het in watter jaar jy gebore is nie en daar was niemand om vir jou te sê hoeveel verjaardae jy al gehad het nie. Hoe oud sou jy gedink het, is jy?
Dit is ʼn goeie vraag. Ek dink ek sou onmiddellik geantwoord het ek is so pas een en twintig. Want, dit is hoe ek voel.

Diep binne in elkeen se hart is ʼn jongmens, dalk selfs ʼn kind. Iemand wat soms groot skrik as hulle in die spieël kyk. Is daardie grys hare myne? En die dubbelken? Watse lyne is om my oë? Plooie? Wanneer het dit verskyn? Ek skrik selfs partykeer as ek ou skoolvriende raakloop. Veral as ek hulle laas nog in ʼn skooluniform gesien het! En dan wonder ek of hulle ook skrik.

My pa sê altyd jy is so oud soos wat jy voel. Ek sal daarop staan. My oumagrootjie het drie en negentig jaar oud geword. Sy het skottelgoed gewas en beskuit gebak tot op die einde toe en jy moes nie eens aanbied om dit vir haar te doen nie. “As ek stil sit gaan ek oud word en doodgaan” was haar verweer. Ek onthou nog hoe ek grootoog gesit en luister het na stories oor haar kinderdae. In verwondering het ek besef, hier sit ʼn hele lewe voor my…

Niemand wil oud word nie. Maar ons kan dit nie keer nie. Dit is een van daardie dinge in die lewe wat gaan gebeur. Ons moet oefen en gesond eet en wegbly van alles wat sleg is vir ons liggame. Dit weet ons almal, want, almal van ons het een of ander tyd al gehoor hulle sê: “Jy het nie beheer oor oud word nie, maar jy het beheer oor hóé jy oud word.”

Ek dink egter dit stop nie daar nie. Partykeer gebeur dinge in jou lewe wat jou skielik ook jonger kan laat voel. Soos die vrou wat op veertig vir die eerste keer ma word. Of die man wat ʼn totale loopbaan skuif maak op vyftig. Dalk besluit iemand om op sestig verder te studeer.

Ek het gelees van ʼn vyf en negentig jarige vrou, Nola Ochs, wat by Fort Hays State Universiteit gegradueer het. En, dokter Leila Denmark, wat die oudste praktiserende dokter was. Met haar aftrede in Mei, 2001 was sy honderd en drie jaar oud en het nog tot op honderd en veertien jaar geleef. Gladys Burril het die Guinness Book of World Recordsgehaal as die oudste persoon ooit om die Comrades Marathon te voltooi, sy was twee en negentig jaar oud.

Hoe het hierdie mense dit reggekry? Dalk het hulle besluit om te vergeet hoe oud hulle regtig is en te leef so oud soos wat hulle voel…

As jy leef so oud soos wat jy voel, is oud word dalk glad nie so erg nie. Ek dink ʼn mens is oor die muur as jy ophou droom en ophou hoop.

Solank jy nog asemhaal is daar ʼn rede vir jou lewe.

God gebruik jou nog.


Jy kan maar net sowel die beste daarvan maak…

Prysuitdeling

Dit is weer daardie tyd van die jaar. Prysuitdelings.

Dit is die tyd waarin ʼn mens vir twee ure op ʼn harde saal stoel sit en wag vir jou kind se naam om uiteindelik gelees te word. Jy is so besig om te wonder waarvoor sy ʼn prys gaan kry, dat jy nie juis luister watter pryse die ander tweehonderd kinders kry nie. As sy dan uiteindelik daar op die verhoog saam met haar klas staan, is jy weer so besig om foto’s te neem, dat jy inelkgeval nie eens mooi hoor wat op die stuk papier staan waaroor sy groot oog staan en loer nie. Maar jou hart swel van trots en jy sug van verligting dat haar naam wel uitgelees is.

Ek kan nie help om te wonder waar prysuitdelings begin het nie…hoekom het mense besluit daar moet sertifikate, medaljes, balkies, trofee en allerhande dinge uitgedeel word om te wys hoe oulik iemand is? Wat van die outjie wat nie ʼn medalje kry nie? Of die een wat vol hoop na die trofee staar net om te sien hoe dit aan iemand anders oorhandig word?

Die doel van ʼn skool prysuitdeling is om kinders aan te moedig en te motiveer om hard te werk. Harde werk word beloon. Dit is tog hoe die lewe werk en dit is ook ʼn Bybelse beginsel. Daar is heelwat Spreuke wat rofweg daarop neerkom dat ʼn mens die vrugte van sy arbeid sal pluk. Maar ongelukkig werk die lewe nie altyd op Bybelse beginsels nie en verander prysuitdelings eerder in verwaande spog-skouspelle. Dit is ʼn hartseer feit dat harde werk nie die enigste kriteria is waarop sommige kinders pryse kry nie. Daar is ongelukkig ander faktore ook betrokke wat heel onder aan die lys van eerlikheid en integriteit staan. Dit sien ʼn mens ook in die grootmens wêreld en op sportvelde. Die ‘employer of the year’ is nie noodwendig die een wat die hardste gewerk het nie en goue medaljes word nie altyd aan die span uitgedeel wat verdien het om te wen nie.

ʼn Mens kan nie die waarde wat die wêreld aan belonings heg vertrou nie. Maar God gee ook ʼn prys. En die waarde van daardie prys kan jy ten volle vertrou.

In 1 Petrus 1: 6-7 staan daar: “Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ʼn kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.”

Daar is nog ander verse ook in die Bybel wat praat van oorwiningspryse. Maar wat my aangryp van die bogenoemde, is dat God waarde heg aan ons geloof. Soveel waarde het ons geloof vir Hom dat hy dit deur ʼn toets sit. Hy wil met die wederkoms kan sê: “Oor hierdie mens se geloof kan julle maar hande klap en juig. Julle kan verseker weet dit is eg, want dit het My toets deurstaan.”

Jy sien, God se prysuitdeling gaan nie soos mense s’n wees nie. Jy kan Hom nie omkoop met goeie dade en ʼn rekord tyd van ure in die kerk nie. God kyk hoe jy optree in die oomblikke wat dit regtig moeilik is om ʼn Christen te wees. Daardie kere wat jy moet opkom vir Jesus. Wat doen jy? Bly jy stil om die vrede te bewaar? Ek het altyd. Totdat ek besef het dit is ʼn toets. Gaan lees bietjie Matteus 10: 32-33. Dit het my geruk.

En wat van die kere wat dit regtig baie sleg gaan met jou? Ek weet hoe dit voel om in die wildernis rond te dwaal. Job se boek is nie verniet in die Bybel nie. Ek glo dit is juis ʼn groot stuk genade om ons bietjie met die toets te help. Job het in een dag alles verloor wat hy besit het. Wat het hy gedoen? Hy het God geprys, nie gesondig nie en nie vir God verwyt nie. (Job 1:21-22) Sy geloof het die toets deurstaan en hy is daarvoor dubbel en dwars beloon (Job 42:10-17).

Dit is so maklik vir ons om menslike verheerliking na te streef, dat ons partykeer vergeet dit is net tydelik. God se prys is ewig. Op die ou end is dit tussen jou en Hom.

Die grootste en beste beloning van jou lewe gaan wees as jou naam eendag uit die Boek van die Lewe gelees word omdat jy die regte keuse gemaak het.


Sien jou by die prysuitdeling…

\'n Brief aan my kind

My liewe kind…

ʼn Nuwe emosie het in my wakker geword, die eerste keer wat ek jou hartjie hoor klop het. Dit is ʼn emosie wat ek nie voorheen gehad het nie, maar wat saam met jou groter en sterker gegroei het. Nou is dit so deel van my dat ek nie kan onthou hoe my lewe daarsonder was nie.

Verwondering. Blydskap. Vrede. Verantwoordelikheid. Vrees. Nederigheid. Verbasing. Alles in een.

Ek sou my lewe vir joune ruil. En sal nog steeds.

Daardie eerste keer wat ek jou warm asempie teen my wang gevoel het en jou pasgebore velletjie geruik het, sal ek nooit in my lewe vergeet nie. Dit was op daardie oomblik wat die nuwe emosie my hele wese oorgeneem het. Ek weet nou dis hier om te bly. Vir so lank as wat ek lewe!

Al die ouerskap boeke, al die toerusting en al die goedbedoelde raad was ewe skielik nie genoeg nie. Jy is jy. Hulle kon nog nie oor jou skryf in enige boek nie, want jy was nog nooit gewees nie. Op die ou end het ons geleer dat ons eie raad die beste raad is, al was ons soms raadop.

Maar op ʼn wonderbaarlike manier word kinders vanself groot en as jy weer sien staan daar ʼn mens voor jou.

Dis vir jou, my liewe klein mensie, aan wie ek hierdie brief skryf.

Ek wil hê jy moet weet, ek staan elke dag stomgeslaan oor jou. Ek is nog steeds in verwondering.

God het ʼn unieke vlammetjie in jou hart aan die brand gesteek. Ek bid dat jy sal ontdek waarvoor daardie vlammetjie is en hom aan die brand sal hou.

As jy eendag terugkyk op jou lewe saam met my, hoop ek dat jy sal kan sê ek was altyd daar. In jou eerste oomblikke, jou beste oomblikke en jou slegste oomblikke. Ek weet jy sal nie alles onthou wat ek sê nie, maar wel hoe ek jou laat voel het. Ek bid dat daar meer goeie as slegte gevoelens sal wees.

Vir jou veg ek op my knieë. Vir beskerming en gesondheid. Vir guns. Vir die regte vriende, die regte juffrou, die regte man. Vir jou siel…vir Jesus…vir ʼn koningkrykslewe…

Mag jy sterk staan my liewe klein mensie. Mag jy stroomop swem as die stroom verkeerde rigting gaan. Mag jy altyd jou kop hoog hou sodat jou kroon nie afgly nie. Mag die vreugde van God jou krag wees.

Moet nooit ophou om mooi dinge raak te sien nie. Glimlag altyd vir jouself in die spieël. Dans en sing totdat jy hardop lag. Moenie dat enige iemand of enige iets jou vrede steel nie. Praat heeltyd met God.

Daar gaan ʼn dag kom wat jy gaan huil oor die lewe. Onthou dan net. Ons is in die wêreld maar nie van die wêreld nie. Jesus het gesê ons sal dit moeilik hê. Maar hou moed, Hy het die wêreld klaar oorwin. Bly net aan Sy kant. Altyd.

Daar gaan dalk ook eendag ʼn wildernis wees waardeur jy moet stap. Onthou asseblief net om te stap totdat jy uit is en nie daar agter te bly nie.

Daar gaan mense wees wat jou gaan teleurstel, afbreek en seermaak. Onthou, liefde is ʼn keuse. Vergewe, vergewe en vergewe. Dit maak jou vry.

Maar vir eers is jy die klein mensie wat God vir my gegee het om groot te maak sodat jy die mens kan wees wat Hy bedoel het jy moet wees. Ek sal elke oomblik van hierdie voorreg koester.

Moet dit nie vergeet nie…ek is onbeskryflik baie lief vir jou!