Boeke wat my hartsnare gepluk het

Vandag wil ek bieg oor ʼn swakheid.

Boeke.

My man weet al hy moet wye draaie met my om ʼn boekwinkel loop, want as ek eers daar instap spandeer ek gewoonlik ʼn onbehoorlike persentasie van my salaris! Ek het ʼn liefde vir boeke wat al van kleintyd af kom. Om die waarheid te sê, wonder ek ook partykeer of ek nie dalk al kon lees van geboorte af nie, soos Scout, in Harper Lee se To Kill a Mockingbird.

Om verdiep te kan raak in ʼn boek is ʼn wonderlike ervaring. Om op reis te gaan na ʼn ander tyd en plek terwyl jy op een plek stilsit is fenomenaal.

Daarom het ek dit goed gedink om van die boeke, wat ʼn verskil in my lewe gemaak het, met julle te deel. Om die lys kort en kragtig te hou, het ek besluit om by boeke met ʼn Christelike grondslag te bly, vir eers…

My heel gunsteling boek, natuurlik, is Die Bybel. Was nog altyd en sal altyd bly. Die beste boek om saam met Die Bybel te lees is The Dake Annotaded Reference Bible. Strikvraag? Trek die Dake nader. Dit werk vir my.

So, hier is twintig boeke wat my hartsnare gepluk het en wat ek enige tyd sal aanbeveel. Hulle is in alfabetiese volgorde:

Andy Andrews. The Heart Mender
Andy Andrews. The Noticer
Benescke Janse van Rensburg. Ontdek God in die stories van mense
Bilquis Sheikh with Richard H. Schneider. I Dared To Call Him Father
C.S. Lewis. The Problem of Pain
Don Piper with Cecil Murphey. 90 Minutes in Heaven
Dr M.K. Strydom. Healing Begins With Sanctification of the Heart
Francine Rivers. Redeeming Love
Harold & Maud Weitz. Activating the Victorious Kingdom Life
Jack Hayford. The Secrets of Intercessory Prayer
John Ortberg. If You Want To Walk On Water, You’ve got To Get Out of the Boat
John Piper. Finally Alive
Jonathan Cahn. The Mystery of the Shemitah
Kevin & Alex Malarkey. The Boy Who Came Back From Heaven
Kobus Neethling, Hennie Stander, Raché Rutherford. Dink soos Jesus
Mark Batterson. Praying Circles Around Your Children
Max Lucado. A Gentle Thunder
Max Lucado. Outlive Your Life
Melanie Hemry & Gina Lynnes. God’s Power for Healing   
Stephan Joubert. Hijacked By Jesus
Dit is my lysie.

Maar ek is baie nuuskierig om te hoor wat jou lysie is!

Deel dit asseblief met ons. Jy hoef nie twintig boeke te lys nie. Twee boeke, of selfs een, is net so waardevol!


Laat ons weet.

Brood van die lewe

C.S Lewis het gesê: “You don’t have a soul. You are a Soul. You have a body.”

Ek het onlangs die boek, 90 minutes in heaven, deur Don Piper, gelees. Hy het ʼn baie ernstige motorongeluk oorleef nadat ʼn dominee in die wrak van sy motor geklim en vir hom gebid het. Hy was eintlik reeds dood, maar die dominee se gebed het hom uit die dood uit terug gebring. In die boek vertel hy wat met hom gebeur het tydens die negentig minute waarin hy dood was. Hoe hy vriende en familie wat reeds oorlede was gesien het en hoe asemrowend die hemel is.

Ja, ek weet wat jy dink. En dis goed so. ʼn Mens moet maar altyd bietjie skepties oor sulke stories wees. Ek het ook al baie van hulle gelees wat my hardop laat lag het.

Maar, daar is ʼn egtheid aan hierdie verhaal wat jou kritiese stemmetjie stil maak.

In die boek maak Don Piper ʼn stelling wat my goed laat nadink het. Hy sê: “I felt as if I had never seen, heard, or felt anything so real before. Never, even in my happiest moments, had I ever felt so fully alive.” En op ʼn ander plek: “Think of the worst thing that’s ever happened to you, the best thing that’s ever happened to you, and everything in between. Heaven is more real than any of those things.”

Ons praat van realiteit. Alles wat ons met ons sintuie kan beleef is eg. Vandaar die sê-ding “Knyp my, ek wil seker maak ek is wakker.” Solank die natuurwette nagekom word, is dit eg. Maar hier beweer Don Piper dat die hemel vir hom meer realisties as sy lewe op aarde gevoel het en dat hy nog nooit so lewendig gevoel het as toe hy eintlik dood was nie…

Waarom het Jesus gesê “Ek is die brood wat lewe gee”? Waarom het Hy gesê: “wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie”? Ons weet Hy het nie van ons fisiese liggame gepraat nie. Ons weet Hy het nie van regte brood en regte water gepraat nie.

Jy sien, Hy is die een wat ons geskape het wat ons is…’n siel met ʼn liggaam.

Deesdae word groter pogings aangewend om ons liggame gesond te hou. Mense raak al hoe meer bewus van dinge wat ons liggame skade aandoen en elke nou en dan is daar die een of ander wonderlike dieet wat van jou die gesondste, mooiste lyf ooit gaan maak. Niks fout daarmee nie. Ons moet tog mooi kyk na hierdie tente van ons, soos wat Paulus dit noem. Maar, ek kan nie help om te wonder of ons nie dalk die groter prentjie mis kyk nie.

Dit lyk amper vir my asof hier in twee rigtings beweeg word. Hoe meer passievol ons oor ons liggame raak, hoe minder passievol raak ons oor ons siele. Ons word nie net gebombardeer met gesonder idees vir ons liggame nie, ons word ook al hoe meer sielsgif gevoer.

Skakel maar net die TV aan as jy wonder of ek nou die kluts kwytgeraak het. Gaan kyk ʼn bietjie watter flieks wys. Watter boeke is top verkopers. Hou jou oor op die grond en luister wat word ons kinders geleer oor monsters, hekse en vampiere. Hoeveel mense gaan nog met die Bybel onder die arm kerk toe? Die Bybelverse word mos nou mooi groot daar op die bord gegooi. Is dit regtig nodig om seker te maak dit staan wel so in die Bybel?

Ons is baie besorgd oor wat ons liggame gevoer word. Maar, dalk is jy anoreksies omdat jy nie jou daaglikse brood inkry nie.

In die Middeleeue is daar blykbaar net elke ses maande gebad. Ons weet nou ons moet elke dag bad. Maar, dalk is jy nog vuil teen die tyd dat jy by die hemel se hekke wil instap, omdat jy nooit skoongewas is met die bloed van die Lam nie.

Die ewigheid is ʼn lang tyd om verkeerd te wees.

Ons raak moedeloos as dinge nie uitwerk soos wat ons dink dit moet uitwerk nie. Ons raak benoud as ons die nuus lees en dan vlug ons na groener gras. Ons jaag deur ons lewens en werk onmenslike lang ure om skuld af te betaal. Skuld wat ons maak sodat ons die lewens kan leef wat die samelewing sê ons moet leef. Ons dink hierdie wêreld is al wat daar is. Maar ons kyk die groter prentjie mis.

Wanneer laas het jy stil gesit en ordentlike brood geëet?


Waarmee voed jy jou siel?

Altyd betyds

“Dit is die maand Oktober! Die mooiste, mooiste maand!
Dan is die dag so helder, so groen is elke aand,
so blou en sonder wolke die hemel heerlik bo,
so blomtuin vol van kleure die asvaal ou Karoo,”
Inderdaad meneer Leipoldt. ʼn Maand om oor te dig!
Uiteindelik is alles weer groen en mense se harte roer met ʼn vars opgewondenheid oor die lewe. Vrolike kinder-geluide weergalm in die kloof soos wat daar weer buite gespeel en geswem word. Gesinne eet aandetes saam op die stoep en gesels tot laat in die nag. Van my beste herinneringe, is die somernag geselsies saam met my pa. Ons kon vir ure so op die stoep sit en filosofeer oor die lewe. Dit is vir my asof mense uit hulle gate kruip in Oktober. Asof daar weer gelééf word. Die winter-griepe en verkoues is vergete en trooskos word met nuwe ywer afgedraf.

Dan is daar die blomme. Rose, rose, rose. Ek moet bieg. Dit is een van die grootste redes waarom Oktober my gunsteling maand is! Van rose sal ek seker nooit genoeg kry nie. Daar is die reuk van Yesterday-today-tomorrow en Jasmyn oral in die lug en amper alles wat kan blom, blom. Selfs die uie wat in my tuin vergete gebly het!

Maar, wat my die meeste van alles verstom is die Jakaranda bome wat klokslag, in Oktober, elke jaar, skielik uitbars in glorieryke pers trosse. Ek weet nie van een jaar wat Jakaranda bome nie in Oktober geblom het nie. Daar is selfs ʼn liedjie daaroor geskryf: “Pretoria, Jakarandastad, dis weer Oktobermaand…”

Elke jaar betyds.

Ons God van orde het dit so beplan.

ʼn Mens neem dit as vanselfsprekend. Maar dink ʼn oomblik hieroor na… dit word altyd weer lente. Vir die afgelope paar duisend jaar is daar winters en daar is somers. Daar is sekere dinge wat in elke seisoen gebeur en dit gebeur nou al so vir duisende jare…

God hou Sy skepping in stand. Is ons nie ook Sy skeppings nie? Waarom raak ons so moedeloos in ons winters? Waarom dink ons dit gaan vir ewig winter bly? Dit bly nooit vir ewig winter nie! Dit sal weer Oktober word. Soms voel dit of ʼn mens nie die winter gaan oorleef nie. Soms voel jy klaar so dood soos die kaal boomtakke. Maar onthou, daardie takke lyk net dood, hulle ís nie dood nie. In die lente verskyn nuwe lewe in die vorm van sagte groen knoppies aan daardie grys takke.

As daar nie ʼn winter is nie kan daar ook nie ʼn lente wees nie. Dalk moet ons soms in ons lewens ook koue winters deurgaan sodat ons ʼn nuwe-lewe-lente kan ervaar. En, net soos wat God sorg dat die Jakaranda bome elke Oktober blom, so sal God ook sorg dat ons Oktober die regte tyd opdaag.

Hy is altyd betyds.

\'n Woord

Liefste God…

Daardie lem weet presies waar my siel eindig en my gees begin. Die lem van U stem. Ek het nie eens geweet daar is so ʼn plek nie. Maar U lem het hulle netjies van mekaar geskei. En toe, net soos wat Lasarus uit die graf uit geroep is, word my gees geroep. En my gees gehoorsaam. Word lewend, staan op en gaan uit om die stem te ontmoet. Die stem wat toe al die tyd eintlik lewe. Dieselfde stem wat eens op ʼn tyd gesê het: “Laat daar lig wees…” skape toe weer. Hierdie keer ʼn nuwe gees. ʼn Nuwe mens.

So staan ek toe voor U. Die mens wat weer gebore is. Die mens wat U woord gehoor en dit aangeneem het. Geglo het. Skoon gewas deur die Woord wat my geroep het en wat ek ontmoet het en aan wie ek nou behoort. En dit is toe dat ek besef U woord is skerper as ʼn swaard met twee snykante. Dit sny deur die gedagtes in my hart en skei die goeies van die slegtes. Dit weet selfs van die slegtes wat maak of hulle goeies is. Daar is gedagtes wat ek dink is goed…maar dan kom U lem en sny die vrot plekke uit. Dit word ʼn snoeiskêr wat my reg snoei. Al die takke wat vrot vrugte dra val een vir een.

Maar, Liefste God, ek weet ook van ander lemme. Mense se tonge. Hulle word losgelaat om soos geslypte skeermeslemme wild rond te hardloop. Seepglad gesmeer met dodelike gif kry hulle dit reg om oral in te glip. Ook in hulle medemens se harte in. Swaardsteke.

Hoeveel harte het al doodgebloei?

Ek is bang vir die krag van daardie lemme. Dis ʼn mag wat dinge laat gebeur. Oorloë, egskeidings en selfmoord. Dit veroorsaak wegholbrande in mense se gedagtes. Dit verbrand drome, waardes en geloof…

Niemand spring dit vry nie. Almal kan hoor. Selfs met jou oë kan jy hoor. En die hitte van die vure wat aangesteek word voel jy oral. Jy kan nie daarvan wegkom nie. Dit steek ʼn gedagte in jou kop aan die brand. Gedagtes wat jy nie altyd vinnig genoeg kan blus voordat dit verder versprei deur jou eie woorde en dade nie.

Maar dan hoor ek weer U stem. U sê U sal my wegsteek van die skeermeslem-tonge sodat hulle my nie kan verwoes nie. U sê ek sal ʼn antwoord hê vir elke tong wat my aankla. Want U sit U woord in my mond. Dis soeter as heuning en meer vullend as brood. En daardie Woord in my mond word ʼn krag wat lewe bring. Dit word saad wat in mense se harte gesaai word.

Soms voel dit vir my asof party tonge uit die hel uit aangesteek word om my te verwoes. Maar ek weet nou dit gaan nie oor my nie. Dit is ʼn poging om u droom vir my te verskroei voordat dit kan wortel skiet en groei. Ek weet ook nou dat daardie helse vuur nie kan aanhou brand as U asem daaroor blaas nie. As U praat moet dit stop. Dan word dit net daar en dan gesmoor. Want sien, die hele leermag van engele staan gereed om U woord uit te voer.

Net soos wat reën eers die grond moet nat maak voordat dit terug opgetrek word, net so sal U woord eers doen wat dit moet doen voordat dit na U toe terugkeer. As U praat kom die skepping in beweging. U hou die heelal deur U woord in stand. Dis waarheid. Dis krag.

Hoe lief het ek U woord, Liefste God.


Dit is U.