Ek is op die punt daarvan om saam met die ek van vyf en twintig jaar gelede koffie te drink…wat sal ek haar vertel?

Sy behoort nou enige tyd hier in te stap. Sal ek haar herken? Ek trek weer die foto uit my handsak uit vir ‘n laaste loer. Dit sal darem ‘n baie groot verleentheid wees as ek nie eens myself herken nie. Maar dan…sal sy my ooit herken? Daar het seker nie te veel verander nie? Of wag, laat ek net seker maak, en ek haal my handspieëltjie uit. Sjoe…hare baie ligter, met ‘n paar silwer strepe hier en daar wat uitdagend reggop staan. Oë…nog dieselfde diep blou met swart omlyn…maar tog anders…die vensters na my siel…
Sy staan skielik daar. Onseker langs die stoeltjie. Ek laat sak die handspieëltjie en prop die foto vinnig in my handsak.
“Hallo?” sê sy
“Hallo,” sê ek, “sit.”
Sy gaan sit en staar grootoog na my. Ek druk die hardnekkige grys strepe plat en glimlag so vriendelik as moontlik.
“Jy is mooi,” sê sy en glimlag terug.
Ek sug verlig: “jy ook.”
“Jy lyk beter sonder so ‘n dik kuif,” sê sy en vee vies aan die simpel kuif wat heeltyd skeef hang.  Nou vir ewig en altyd op die standerd sewe klasfoto.
Agter die kuif is ‘n kors aknee.
“Die puisies het weggegaan,” glimlag ek, “sommer net so begin verdwyn. En kyk…daar het nie merke agter gebly nie.”
Sy lyk verbaas.  Ons bestel ons koffie en sit vir ‘n oomblik in stilte.
Dan begin ons albei gelyk praat: “Daar is iets-“
“Gaan ek trou?”
Ons lag en sy beduie dat ek moet voortgaan.
“Ja,” antwoord ek haar vraag, “op die ou end, met die regte man. Op die regte tyd. En nee, hy lyk glad nie soos daai ou waarvan jy een aand gedroom het nie en hy het ook nie die outjie oorkant die pad se mooi voete nie. Maar hy is die een. Die regte een. En jy gaan besef, dit is ‘n groot stuk genade om met die regte een te trou…”
Sy lyk effens teleurgesteld en ek gee haar hand ‘n drukkie.
“En onthou…” gaan ek voort, “luister na jou ma. Sy is reg. Moenie uit moedswilligheid voortgaan met verkeerde verhoudings nie, jy gaan baie mense net onnodig seer maak. Asseblief…luister…”
Sy kyk weg. Ons koffie het intussen gekom en ek vat ‘n groot sluk voordat ek verder praat.
“Maar daar is iets wat jy moet weet…”
“Is daar al ‘n rak vol van my boeke in die biblioteek?” val sy my hoopvol in die rede.
Ek maak ongemaklik keel skoon: “nie eintlik nie…jy sien…dit is toe nie so maklik soos wat jy dink dit is nie. Maar, hou vas aan jou droom. Moenie daardie droom ooit laat doodgaan nie.”
Sy sluk haar teleurstelling met ‘n sluk koffie af.
“Luister,” sê ek, “jy gaan baie beter af wees as die boelies, die in-groepie en die mejuffrou hoërskool met haar string kêrels. Jy gaan vas staan in jou geloof. Daar gaan ‘n tyd wees wat jy gaan twyfel, maar jy gaan in daardie tyd na God roep soos wat iemand wat in ‘n gat geval het roep, al weet hy nie of hy gehoor word nie. Jy gaan roep en God gaan jou kom uithaal. Dan gaan jy groei en daar gaan nie omdraai wees nie. Jy gaan wonderwerke beleef. God se guns. Sy genade. Sy krag.”
Haar oë blink en sy sug verlig: “Ek is so bly om dit te hoor. So wat is dit wat ek moet weet?” vra sy, nou vol afwagting.
Ek kyk na die gesig vol drome en weet…daar is ‘n rede waarom ‘n mens nie moet weet nie…
“Jy sal ‘n beter, sterker en wyser mens aan die ander kant uitkom,” is al wat ek sê, “en niks en niemand kan jou van Sy liefde skei nie. Niks.”
“Dankie,” glimlag sy, “ek sal dit onthou.”


En sy het…