\'n Brief aan Ma

Liewe Ma…


Om vier kinders te kan groot maak moet ʼn mens hare op jou tande hê. Want elke kind is ʼn klein beginner-mensie. Dis moeilik genoeg om een beginner-mensie in die regte rigting te stuur. Hoe doen ʼn mens dit met vier?


So hierdie is ʼn dankie-sê-brief.

Dankie vir die Bybel stories en die kerk toe gaan. Dankie vir “Ek is ʼn kindjie klein…” gebedjies en “ons praat nie so nie” vermanings. Dankie vir die kerk kampe en my Bybel.

Dankie dat ma dáár was. Elke middag na skool gereed om met huiswerk te help en vir ure te sit en wag by naskoolse aktiwiteite. Dankie dat ons nie nodig gehad het om ooit vermaak op ander plekke as by ons huis te gaan soek nie. Daar was altyd iets om te doen naweke en vakansies. Dankie dat ons buite kon speel en in die ou wilgerboom kon klim. En die siek-dae…hoe baie keer het ek nie, noudat ek self ʼn ma is, gewens Ma kon my kom versorg as ek siek is nie!

Dan was daar verjaarsdae en Kersfees. Die spesiaal opgemaakte pakkies met spesiaal uitgesoekte geskenke. Die tema koeke op aanvraag. Ek weet nou nog nie hoe ma dit reggekry het om ʼn klavier-koek te bak nie!  

Die tienerjare moes ma heel onverwags betrap het. Skielik dink die beginner-mensies hulle weet alles en hulle ouers weet net mooi niks van die lewe af nie. Dankie dat Ma voet neergesit het en nee gesê het toe dit nodig was.

Dankie dat ons kon lees tot ons boeke klaar was en dat ons die eetkamer as kunsstudio kon gebruik. Dankie dat ek kon skryf die hele vakansie lank en op die klavier kon tokkel tot vervelens toe. Dankie dat ma ons geleer het om “van hoek tot kant” skoon te maak en op te ruim.

En asof die tiener jare nie erg genoeg was nie, daag die stormagtige jongmens jare skielik op! Die beginner-mensies moes nou hulle voete vind en rigting kry in die grootmens wêreld. Baie dankie dat Ma soos ʼn rots gestaan het om te keer dat ek met die verkeerde man trou. Dankie vir ʼn veilige nes totdat ons gereed was om te vlieg.  

Ek weet nie of ek ooit vir Ma gesê het hoe verlig ek was op die oggende wat ma voor my hek gestop het om te kom help bottel gee en doeke omruil nie. Dit was altyd die oggende wat ek gedink het ek kan nie meer nie. Dankie vir die baba-oppas-dae en speel soos net ʼn ouma kan speel.

Nou dat ek self ʼn ma is weet ek…

Daar was kere wat ma net in die bed wou bly. Daar was kere wat ma gehuil het sonder dat ons weet. Daar was gebede en gebede en gebede. Daar was kere wat ma nie wou aandete maak en kosblikke pak nie. Daar was kere wat bekommernis oor ons ma se hart in ʼn yskoue hand vasgedruk het.

So hierdie is ook ʼn jammer-sê-brief.

Jammer dat ek nie tóé geweet het wat ek nou weet nie. Jammer dat ek nie vir ma koffie in die bed gebring het op die dae wat ma siek was nie. Jammer dat ek nie genoeg dankie gesê het nie. En jammer oor enige hartseer wat ek veroorsaak het in my dom-astrantheid waarvan ek dalk nie eens bewus is nie.

Dis nie sommer enige mens wat kans sien vir vier beginner-mensies nie. 
Maar om al vier in die regte rigting te kan stuur en ʼn volpunte eindresultaat van vier goeie, opregte, suksesvolle grootmense te kan hê…dit vat ʼn baie spesiale mens. 

My ma.

Baie dankie.

Kaalvoet deur die wildernis

My staptog deur die wildernis het veertien jaar gelede begin…
Daardie dag toe ek, op my verjaarsdag, gehoor het dat ek ʼn chroniese siekte het. Nee, ek gaan nie sê watter verjaarsdag dit was nie, so maklik gee ek nie my ouderdom weg nie (hehehe)!
Rheumatoϊde Artritis… wat op aarde is dit? Ek het ook nie geweet nie. Later, in ʼn spesialis se spreekkamer sou ek hoor dit is ʼn outo-immuun-siekte. Om een of ander rede besluit jou immuunstelsel jy is die vyand en word jou liggaam aangeval. In die geval van RA is dit jou gewrigte wat deurloop.
Was ek kwaad? Ja. Was ek bang? Ja. Het ek myself jammer gekry? Vreeslik baie. Het ek gebid vir genesing? Nee…
Hoekom nie?
Ek is self nie heeltemal seker nie. Dalk het ek gedink dat dit nou maar my lot is en klaar. Dalk was ek te kwaad vir God. Dalk het ek gedink dat ek seker maar verdien wat my oorkom en dat ek oor een of ander groot sonde gestraf word. Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat ek baie met God baklei het. Ek wou weet hoekom. Hoekom ék? Jy sien, ek het aan witbroodjie-sindroom gelei en was diep teleurgesteld dat so iets vir mý, die toonbeeld van voorbeeldigheid, moet oorkom.
Nou weet ek egter beter….hoekom níe ek nie?
Ek kry, na ʼn paar jaar in die wildernis, die boek The problem of pain deur C.S. Lewis in die hande. Sjoe! Met ʼn woordeboek langs my het ek deur die hoogdrawende, outydse Engels geworstel en so ʼn paragraaf per dag gevorder. Dit het maar stadig gegaan, want na elke gedagte moes ek eers self bietjie dink of ek die man se gedagte reg verstaan. Maar in daardie boek ontdek ek toe ʼn pad tussen deur die skerp klippe en warm sand…
God werk aan díe mense deur wie Hy wil werk.
Dink ʼn bietjie hieroor… God het met die Israeliete gewerk in die wildernis. Hoekom? Want  Hy het ʼn plan met hulle gehad. Was dit vir hulle lekker in die wildernis? Beslis nie. Maar dit was die plek waar God met hulle gepraat het. Waar Hy hulle vertel het hoe hulle anders kan wees as die ander volke. Dis waar Hy hulle heilig gemaak het. As jy ʼn kind van die Here is, kan jy met sekerheid weet dat jy deur die wildernis stap omdat God met jou wil werk.
Nog iets wat ek baie vinnig besef het, is dat ʼn mens nie die wildernis sonder God moet probeer deurstap nie. Moses het geweier om verder te gaan as God nie saamgaan nie. Nee, die wildernis is nie grappies nie. As jy jouself ook nou in ʼn wildernis bevind, is ek seker  jy sal “amen!” kan sê hierop.
So, hoe dan nou gemaak? Moet ons nou maar net ons lot aanvaar en sirkels loop in die wildernis? Of mag ons bid vir ʼn pad uit?
Ja, ons mag.
Hoe weet ek dit? Want die Israeliete was op pad uit. Na ʼn beloofde land toe. Die oomblik toe ek dit besef het, het ek begin bid vir genesing.
Een aand het ek moedeloos gebid: “Here, hoe weet ek dat U ooit na my luister?” Die volgende oggend in die kerk het ek myself skoon simpel geskrik toe die pastoor reguit na my kyk en sê: “God hears every prayer you pray.”
Jy in die wildernis… onthou…jy is op pad uit…
So stap voort. Al is dit kaalvoet.
Die wildernis rondom Jerigo in Israel

Jou droom…

thehobbeehive.com
Wat het Die Lelike Eendjie, Die Keiser Se Nuwe Kleed en Die Prinses En Die Ertjie alles in gemeen?  

Hans Christian Andersen natuurlik.

Die meeste van ons het groot geword met hierdie feëverhale en ons weet dalk ook wie die skrywer van hierdie geliefde stories was. Maar, so ʼn ruk gelede, beland ʼn inligtingstuk oor Hans Christian Andersen in my hande en wat ek daar lees kan ek amper nie glo nie…. sy hoërskool onderwysers het hom aangeraai om sy stories in die asblik te gooi, want niemand sal dit ooit wil lees nie!

Wat as hy dit gedoen het? Wat as hy hulle geglo het?

Hierdie gedagte het my laat wonder of daar nóg sulke lewensverhale is en ek gaan doen toe ʼn bietjie navorsing.  Daar ontdek ek dat die meeste van die groot name wat ons ken, nie sommer so oornag groot geword het nie.

Hier is ʼn paar voorbeelde:

Harland Sanders, die stigter van Kentucky Fried Chicken, se resep is deur een duisend en nege restaurante afgekeur.

Henry Ford se besigheid het hom vyf keer bankrot gelaat.

Walt Disney is deur die koerant waar hy gewerk het afgedank omdat hy, volgens hulle, ʼn tekort aan verbeelding en goeie idees gehad het!

Thomas Edison se onderwysers het hom vertel dat hy te dom is om enige iets te leer en hy is later in sy lewe twee keer afgedank. Hy het ʼn duisend onsuksesvolle pogings gehad voordat die eerste gloeilamp in sy hand geskyn het.

Charles M. Schulz, die skepper van Charlie Brown, se strokiesprente is gedurig afgekeur deur sy hoërskool se jaarblad-komitee. Sestig jaar later het hulle egter ʼn groot standbeeld van Snoopy in die skool se ingangsportaal opgerig.

Theodor Seuss Geisel (Dr Seuss) se eerste manuskrip is sewe en twintig keer afgekeur voordat “And to think that I saw it on Mulberry Street” die lig gesien het.

Daar is nog ʼn baie lang lys van voorbeelde uit die lewens van mense soos Albert Einstein, Soichiro Honda, F.W Woolworth, Bill Gates, Isaac Newton, die Wright broers en Steven Spielberg om maar net ʼn paar op te noem.

As ʼn mens al hierdie aanhouer-wen-verhale lees spring een vraag natuurlik in jou kop op: “En wat van mý lewe?”

Wat is jou droom?

Het jy die eerste negatiewe kommentaar geglo en jou droom laat smoor? Dalk het jy vasgebyt tot by die honderdste een en toe maar opgegee?

Jy sien, ek glo elke mens word met ʼn droom gebore. God se droom vir jou lewe…
Maar die vyand hou nie van daardie drome nie. Hy sal alles doen om daardie droom te keer. Hy steek tonge aan die brand om daardie droom te verskroei nog voordat die blare-koppie mooi behoorlik bokant die grond uit gestoot het. Soms stuur hy ander dinge oor jou pad, tragedies, siektes, depressie, alles in ʼn poging om die droom te smoor.

Moet dit nie toe laat nie. Jy kan God se droom vir jou lewe laat waar word as jy vasbyt en aanhou. Wat sou gebeur het as al hierdie mense opgegee het? Dink ʼn bietjie hoe anders sou ons lewens gewees het sonder gloeilampe, vliegtuie en, ja, KFC?   

Hans Cristian Andersen, Walt Disney en Charles M. Schulz het nie die brandende tonge geglo nie.

Jy hoef ook nie.

Ken jy enige aanhouer-wen-verhale? Dalk selfs jou eie? Ek sal dit graag wil hoor!

Om te weet

Ek is op die punt daarvan om saam met die ek van vyf en twintig jaar gelede koffie te drink…wat sal ek haar vertel?

Sy behoort nou enige tyd hier in te stap. Sal ek haar herken? Ek trek weer die foto uit my handsak uit vir ‘n laaste loer. Dit sal darem ‘n baie groot verleentheid wees as ek nie eens myself herken nie. Maar dan…sal sy my ooit herken? Daar het seker nie te veel verander nie? Of wag, laat ek net seker maak, en ek haal my handspieëltjie uit. Sjoe…hare baie ligter, met ‘n paar silwer strepe hier en daar wat uitdagend reggop staan. Oë…nog dieselfde diep blou met swart omlyn…maar tog anders…die vensters na my siel…
Sy staan skielik daar. Onseker langs die stoeltjie. Ek laat sak die handspieëltjie en prop die foto vinnig in my handsak.
“Hallo?” sê sy
“Hallo,” sê ek, “sit.”
Sy gaan sit en staar grootoog na my. Ek druk die hardnekkige grys strepe plat en glimlag so vriendelik as moontlik.
“Jy is mooi,” sê sy en glimlag terug.
Ek sug verlig: “jy ook.”
“Jy lyk beter sonder so ‘n dik kuif,” sê sy en vee vies aan die simpel kuif wat heeltyd skeef hang.  Nou vir ewig en altyd op die standerd sewe klasfoto.
Agter die kuif is ‘n kors aknee.
“Die puisies het weggegaan,” glimlag ek, “sommer net so begin verdwyn. En kyk…daar het nie merke agter gebly nie.”
Sy lyk verbaas.  Ons bestel ons koffie en sit vir ‘n oomblik in stilte.
Dan begin ons albei gelyk praat: “Daar is iets-“
“Gaan ek trou?”
Ons lag en sy beduie dat ek moet voortgaan.
“Ja,” antwoord ek haar vraag, “op die ou end, met die regte man. Op die regte tyd. En nee, hy lyk glad nie soos daai ou waarvan jy een aand gedroom het nie en hy het ook nie die outjie oorkant die pad se mooi voete nie. Maar hy is die een. Die regte een. En jy gaan besef, dit is ‘n groot stuk genade om met die regte een te trou…”
Sy lyk effens teleurgesteld en ek gee haar hand ‘n drukkie.
“En onthou…” gaan ek voort, “luister na jou ma. Sy is reg. Moenie uit moedswilligheid voortgaan met verkeerde verhoudings nie, jy gaan baie mense net onnodig seer maak. Asseblief…luister…”
Sy kyk weg. Ons koffie het intussen gekom en ek vat ‘n groot sluk voordat ek verder praat.
“Maar daar is iets wat jy moet weet…”
“Is daar al ‘n rak vol van my boeke in die biblioteek?” val sy my hoopvol in die rede.
Ek maak ongemaklik keel skoon: “nie eintlik nie…jy sien…dit is toe nie so maklik soos wat jy dink dit is nie. Maar, hou vas aan jou droom. Moenie daardie droom ooit laat doodgaan nie.”
Sy sluk haar teleurstelling met ‘n sluk koffie af.
“Luister,” sê ek, “jy gaan baie beter af wees as die boelies, die in-groepie en die mejuffrou hoërskool met haar string kêrels. Jy gaan vas staan in jou geloof. Daar gaan ‘n tyd wees wat jy gaan twyfel, maar jy gaan in daardie tyd na God roep soos wat iemand wat in ‘n gat geval het roep, al weet hy nie of hy gehoor word nie. Jy gaan roep en God gaan jou kom uithaal. Dan gaan jy groei en daar gaan nie omdraai wees nie. Jy gaan wonderwerke beleef. God se guns. Sy genade. Sy krag.”
Haar oë blink en sy sug verlig: “Ek is so bly om dit te hoor. So wat is dit wat ek moet weet?” vra sy, nou vol afwagting.
Ek kyk na die gesig vol drome en weet…daar is ‘n rede waarom ‘n mens nie moet weet nie…
“Jy sal ‘n beter, sterker en wyser mens aan die ander kant uitkom,” is al wat ek sê, “en niks en niemand kan jou van Sy liefde skei nie. Niks.”
“Dankie,” glimlag sy, “ek sal dit onthou.”


En sy het…