
Madeleine Venter
Welkom op my blad en dankie dat jy kom inloer het! Hier is ‘n bietjie meer oor my.
Ek is in Vryheid, KZN, gebore maar het op Ermelo groot geword. Tydens my hoërskooljare het ons na Roodepoort verhuis waar ek dan in 1994 aan Hoërskool Roodepoort gematrikuleer het.
Nadat ek onderwys gaan studeer het, het ek vir sewentien jaar skool gegee as Grondslagfase en musiek onderwyseres. (Hoër Onderwysdiploma, Normaal Kollege Pretoria, 1998)
Ek het later ook verder studeer in Pastorale Berading. (Associate Degree in Pastoral Counselling; Revealed Word Bible College; 2020)
Ek skryf weeklikse oordenkings vir die Christelike Lektuurfonds (CLF), en het onlangs as vryskut omroeper by Radiokansel begin met ’n regstreekse program, Die Christen Reis. Die program word elke Vrydagoggend van nege- tot elfuur oor Radiokansel en hulle Afrikaanse aanlynstasie, Radiokansel Hartklank, uitgesaai.
ʼn Paar skryfkursusse wat ek voltooi het, is o.a:
Kreatiewe Afrikaans– jaarkursus onder leiding van prof. Willie Burger; UJ, 2001.
Skryfskool vir kinder- en jeugliteratuur; Dr. Mia Oosthuizen; 2023.
Skryf ‘n draaiboek vir kortfilm deur Tina Kruger en Johann Smith; Skryfnet; 2024
Draaiboekskryfkursus deur Stefan Enslin; 2025
In 2001 is ek met Rumatoïede Artritis (RA) gediagnoseer. Hierdie diagnose was tot ʼn groot mate daarvoor verantwoordelik dat ek vir ʼn paar jaar so te sê opgehou het om te skryf.
Ek het egter weer die pen opgetel en in 2014 verskyn my kortverhaal, Tjomma in die 17 Januarie uitgawe van Vrouekeur. Sedertdien is verskeie kortverhale in Huisgenoot en gesamentlike bundels opgeneem.
My eerste plasing op Blog vir Jesus verskyn in September 2015 en in Maart 2016 begin ek ook ʼn Engelse blog.
Van my gedigte is opgeneem in gesamentlike bundels en is ook op LitNet se poësieblad gepubliseer.
My kortverhaal, Die laaste diamant, is in LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds se wetenskapfiksiekompetisie as derdepryswenner aangewys.
My Jeugromaninskrywing, Wie ook al, het die langlys gehaal vir LAPA se 2021 Jeugromankompetisie.
Ek was ‘n finalis in die 2022 RSG radiodrama-skryfkompetisie, met Tyd vir ‘n wonderwerk.
My radiodrama, Taaispul, is aangewys as derdepryswenner in die 2023 RSG radiodrama-skryfkompetisie. Luister na die uitsending van Taaispul hier.
My kortverhaal, Geroepe, is gekeur vir die Kyk hoe ver het ons gekom skryfkompetisie deur PEN Afrikaans.
My kortverhaal, ‘n Gewone engel, is opgeneem in die kortvehaalbundel, Stories vir die siel, wat uitgegee word deur LUCA – ‘n druknaam van LAPA Uitgeweres; Penguin Random House South-Africa.
Tans woon ek saam met my man en ons tienerdogter in Krugersdorp.
Kry elke keer die nuutste Blog vir Jesus plasing in jou inboks: