Boeke was so deel van ons  grootwordjare soos die ou wilgerboom in die hoek van ons tuin, en die stories in my kop was maar nog altyd net daar.

Ek het vir myself stories vertel voordat ek aan die slaap raak, of op die langpad af see toe. My jonger sibbe moes maar luister wanneer die lus my gepak het om hardop te vertel wat in my kop aangaan. Soms sou ek so verbeeldingryk speel dat my sussie skoon sou vergeet het om saam te speel en net sou sit en kyk.

Met tyd het ek begin om my stories neer te skryf, en dit was nadat ek ’n Pot vol winter deur Maretha Maartens gelees het, dat ek hierdie brandende begeerte in my gehad het om ook só met woorde te kan skep.

Tydens die onseker tienerjare, was my skryfwerk iets wat ek vir myself gehou het. Tot op ’n dag, ek dink dit was in standerd agt (deesdae graad tien), wat die Afrikaanse juffrou my eksamenopstel aan die klas voorgelees het. Dit was ’n komiese opstel, en sy het gelag dat die trane rol. Skielik het die besef tot my deurgedring dat ek nie net vir myself hoef te skryf nie. Miskien sou mense wou lees wat ek skryf. En so word die droom gebore om eendag by ’n biblioteek in te stap en ’n hele rak vol van my boeke te sien.

Dit  was egter voordat ek geweet het hoe moeilik dit is om jouself as skrywer in die Afrikaanse mark te vestig.

As student was daar ’n paar onsuksesvolle voorleggings van kortverhale aan tydskrifte, en op vyf en twintig word ek met Rumatoïde Artritis gediagnoseer. En net so hou ek sommer op met skryf. Dit was 2001.

Eers in 2014, tydens ’n pelgrimstog na Israel, skrik ek weer wakker wanneer die toerleier my waarsku dat hierdie siekte die fokus van my bestaan geraak het, en dat my roeping daaronder lei. Hy was reg. Behalwe vir al die joernale wat ek volgemaak het, het ek vir dertien jaar niks geskryf nie.  

Daardie selfde jaar het ek vir ’n kortverhaalkursus ingeskryf en word een van my kortverhale vir die eerste keer in Vrouekeur geplaas. In 2015 begin ek Blog vir Jesus.

Oor die laaste tien jaar was daar heelwat hoogtepunte wat my skryfloopbaan aanbetref, maar ook net soveel laagtepunte. Suksesvolle kortverhale en ’n radiodrama, selfs ’n paar gedigte, maar ook ’n keurdersverslag wat my vir ’n ruk tussen die mat en die vloer laat lê het  – egter nie vir te lank nie, want ek het baie verlore jare om in te haal.

Toe kom LUCA se kortverhaalkompetisie oor my pad en ek gryp dit met albei hande aan. Ek kan nie eens begin om te verwoord wat dit vir my beteken om ’n kortverhaal in dieselfde bundel as Maretha Maartens te hê nie. Daardie ikoniese skryfster wie se woordkuns soveel jare gelede die vlammetjie in my hart aangesteek het.

Boonop het ek ook as student, tydens ’n ongelooflike ontmoeting met die Here, die Gees hoor fluister dat ek vir Hom gaan skryf. Vandag is Blog vir Jesus al vir tien jaar aan die gang, en skryf ek weeklikse oordenkings vir CLF. My kortverhaal in ’n bundel wat deur LUCA uitgegee word, is dus vir my ’n groot mylpaal. Hopelik die eerste van nog baie.

In my kortverhaal, ’n Gewone engel, sien Lani iets wonderlik gebeur wat nie logies verklaar kan word nie. Alhoewel Lani en haar storie die vrug van my verbeelding is, is dit wat sy sien iets wat ek werklik beleef het.

Ek het besluit om ’n storie rondom hierdie belewenis te bou wat die boodskap sou oordra dat God oral, en in almal se lewens, aktief betrokke is. Terwyl ek met die verhaal besig was, het ons pastoor een Sondag genoem dat God elke dag vir jou iewers staan en waai, maar dat ons soms so besig is met ons lewens – of om onsself jammer te kry – dat ons Hom nie raaksien nie.

In ’n tyd wat ek nodig gehad het om te weet dat God bewus is van my probleme, het Hy vir my gewys dat Hy agter die skerms besig is.

Ek is baie dankbaar dat ek hierdie boodskap van hoop kon deel deurdat my kortverhaal in LUCA se Stories vir die siel opgeneem is. My gebed is dat diegene wat dit lees daardeur geseën sal word, en aan God die eer sal gee vir sy onbeskryflike liefde.

Daar is verhale in Stories vir die siel wat jou beslis geestelik ryker gaan laat voel. Hartsverhale deur skrywers wat nou al die lang pad na erkenning as Afrikaanse skrywers goed deurgetrap het, en dan die minder bekendes wat, soos ek, besig is om aan ’n droom te skaaf.

Dit is ’n boek dié wat jy nie kan bekostig om nie te hê nie.

Jy sal Stories vir die siel in boekwinkels en aanlyn kry. Gaan kyk op LAPA Uitgewers se webwerf, of besoek Graffiti boeke s’n.

Hoop jy lees lekker 😊