Het jy ook al gewens die Here wil in sekere situasies net ’n bietjie by jou kom sit en vir jou vertel wat om te doen?
’n Gedeelte in die Bybel wat my nog altyd fassineer, is ’n paar verse in Jesaja waarin dit voorkom asof die Here self die mense van ouds geleer het hoe om te boer:
Hou ‘n boer aan met ploeg as hy wil saai? Hou hy aan grond breek en vore trek? As hy die grond gelyk gemaak het, saai hy mos swartkomyn en komyn, sit hy koring en gars in waar dit moet kom en spelt aan die kante. Sy God leer hom en gee hom die kennis hoe om alles te doen soos dit hoort.
Jesaja 28:24-26 (eie klem)
Daar is nog meer sulke voorbeelde in die Bybel waar God self presies gesê het hoe dinge gedoen moet word. Die bekendste hiervan is natuurlik die ark wat Noag moes bou. God se instruksies aan Noag was baie spesifiek en tot op die kleinste detail – van die tipe hout wat hy moes gebruik tot die presiese afmetings.
Dan lees ons ook in Eksodus hoe deeglik God se instruksies rondom die maak van die tabernakel was.
Jesus belowe in Johannes 14:26:
En wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
En Jakobus skryf:
As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.
Jakobus 1:5
Nou is die groot vraag, waarom voel ons dan nog steeds met tye asof ons geblinddoek deur die lewe gaan?
Ek glo dit is omdat ons nie behoorlik stil word sodat ons God se stem kan hoor nie.
Dit is iets wat ek baie prominent in my eie lewe ervaar. Daar is net te veel stemme om my, en die een wat die hardste praat, is sosiale media – iets wat nog nie bestaan het toe ek as jong meisie vir ure stil kon raak nie. Natuurlik het ek toe ook nog nie so baie verpligtinge as nou gehad nie, maar die feit is, my stiltetye was nie afgeskeep omdat ek nog vinnig moes loer watse nuwe plasings daar is voordat ek met die dag se dinge begin nie.
Daar is soveel dinge in die wêreld aan die gang deesdae, dat dit vir my voel ons het God se raad en leiding nou meer as ooit tevore nodig. Maar terselfdertyd word daar meer aggressief meegeding vir ons tyd en aandag, sodat ons nie daarby uitkom om te hoor watse raad en leiding Hy ons wil gee nie.
In Psalm 32:8 sê God:
Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou.
Ek dink dis tyd dat ons ophou om ons tyd en aandag so onverskillig uit te deel aan die magdom van stemme waarmee ons elke dag gebombardeer word, en eerder tyd maak om die belangrikste stem van almal te hoor.
Wysheid begin met die dien van die Here.