Ek het derdeplek behaal in twee van die skryfkompetisies waarvoor ek verlede jaar ingeskryf het: RSG se Radiodrama-skryfkompetisie, met my drama Taaispul, en LitNet se wetenskapfiksiekompetisie, met my kortverhaal Die laaste diamant.

Derdeplek is seker nou nie juis iets om oor huis toe te skryf nie, maar vir my persoonlik is dit ’n groot gebeurtenis – juis omdat my 2023 so ’n uitdagende jaar was.
Op die radiodrama wou ek meer as een keer opgee. My pa is einde Mei oorlede, en die sluitingsdatum was 31 Augustus. Ek het net eenvoudig nie emosioneel opgewasse gevoel vir ’n skryfkompetisie nie. Deur dit wel op die ou end te voltooi en in te stuur was reeds vir my ’n groot prestasie. Toe ek boonop die nuus kry dat ek ’n finalis is, was ek in die wolke. Om ’n pryswenner te wees was iets wat ek glad nie sien kom het nie!
Nou kan ek nie wag vir die dag waarop Taaispul op RSG uitgesaai gaan word nie. Eintlik is ek uit my vel uit van opgewondenheid! Dit was nog altyd ’n groot droom gewees om my storie oor die radio te hoor, en nou is daardie droom besig om waar te word.

Met die Wetenskapfiksiekompetisie was dit ’n heel ander saak. Al is dit ’n genre waarmee ek nie baie vertroud is nie, wou ek deelneem. Wetenskapfiksie was my pa se gunsteling genre, en ek wou dit graag vir hom doen. Die derdeplek aanwysing was ’n groot verrassing.
Skryfkompetisies kan nogal mens se senuwees klaar maak – veral daardie uitmergelende lang wag vir die uitslae – maar dit is deur en deur die moeite werd. In die geval van hierdie twee kompetisies was daar mentorskap en/of kritiese terugvoer wat ek as skrywer van onskatbare waarde ag. Ek wil immers elke dag ‘n beter skrywer word.
Soos wat Theodora Goss gesê het: “If you’re a writer, your first duty, a duty you owe to yourself and your readers, and to your writing itself, is to become wonderful. To become the best writer you can possibly be.”
Wie nie waag nie, sal nie wen nie.