My jaar kan in drie woorde opgesom word: Uitdagings, teleurstellings en verlies.
Maar hierdie is nie ’n pitty-party nie, so ek gaan nie ’n lys deel van alles wat gebeur het nie. Weet net dat my hart meer as eenmaal uitgeruk is.
Wat ek wel gaan deel, is dít wat ek geleer en geword het. Dit wat ek saam met my gaan dra, nie net deur die nuwe jaar nie, maar ook vir die res van my lewe.
Een van die grootste lesse wat ek geleer het, is dat spyt altyd te laat kom. Ja, dis ’n cliché, maar dis waar. So leef dapper.
Dis oukei as jy nie weet wat om te bid nie. My gebede het hierdie jaar meeste van die tyd uit net twee woorde bestaan: ‘Here, asseblief!’ Dan vul Hy die res in met dit wat ek nodig het. En Hy daag op – nee – Hy was nog die heeltyd daar … dan sit Hy net sy hand op my skouer sodat ek dit moet weet.
Ons het baie dinge hierdie jaar verloor. Meestal vrywillig opgegee. Maar dit was daardie onvoorsiene, tragiese wegruk uit ons lewens uit wat my totaal en al oorrompel het. En dis wat ek daaruit geleer het: Niks en niemand op Aarde is vir ewig nie. As jou fondasie nie op die Rots staan nie, gaan jy inmekaartuimel. Glo my. So, van nou af sal my krag, my vreugde, my vrede, my doel, my sekuriteit, my alles net in Hom wees. Want op die ou end is Hy die enigste Een wat vir ewig bly.
Ek sal, nog meer as ooit tevore, my drome najaag. Ten spyte van teleurstellings. My man het jare gelede hierdie wyse woorde met my gedeel: “Maak stepping stones van die stumbling stones.” Die waarde hiervan het ek die afgelope twaalf maande baie goed besef.
Dis vir my moeilik om te verduidelik hoe hierdie jaar my verander het. Ek sukkel om die regte woorde te kry. Miskien omdat die verandering nog nie klaar is nie.
Al wat ek weet, is dat ek net een doelwit vir 2024 het: Ek gaan alles met oorgawe doen.
Miskien was hierdie jaar vir jou ook moeilik, of miskien het jy die beste jaar ooit gehad. Hoe dit ook al sy, my wens vir jou is dat jy nooit jou verwondering vir die lewe sal verloor nie. Al gebeur wat ook al.
Bly dapper en droom groot.
Voorspoedige Nuwe Jaar!