Liewe Pa
Jy het eenkeer vir my vertel hoe jy, die dag toe ek gebore is, jouself moes inhou om nie by die venster uit te skree vir almal om te hoor: “Ek het ’n dogtertjie!” nie.
Weet jy hoe baie daardie woorde vir my beteken het? Om te weet pa was bly en opgewonde oor my? Dit dra my nou nog.
Pa het altyd tyd gemaak vir my. Ons kon vir ure lank op die stoep sit en gesels. Ure. Pa het altyd geluister. Met wysheid en geduld raad gegee as daar raad gegee moes word, en aanmoediging wanneer ek moedeloos was. Geen droom of idee van my was ooit belaglik in jou oë nie.
Pa het in my geglo.
Ons het saam gesit en musiek luister. Kliphard. Net gesit en luister, omdat musiek wonderlik is. Omdat die lewe wonderlik is. Ja, daardie aansteeklike verwondering oor die lewe wat pa nooit verloor het nie, is wat ek die meeste mis. Pa het geglo in engele en wonderwerke en die almag van God.
Dankie dat pa altyd daardie verwondering met ons gedeel het – ’n video , of ’n artikel, of ’n aanhaling uit ’n boek uit …
Dankie vir pa se onvoorwaardelike liefde, omgee, optimisme en geloof in mense.
Ek wens ek kon nog een keer met pappa sit en gesels, of my nuwe gunsteling liedjie vir jou speel.
Maar ek kan nie.
Al wat ek kan doen is om die goedheid wat pa in my lewe gesaai het te laat wortelskiet en vrugdra.
Om die mens te word wat pa in my gesien het.
En in myself te glo – soos wat pa in my geglo het.
Dankie daarvoor.
