Hierdie tempel

‘Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.’

1 KORINTIËRS 6:19-20

Hierdie is een van daardie gedeeltes in die Bybel wat ’n mens so baie hoor, dat jy dit eintlik nie meer hoor nie.

Dit het egter onlangs vir my nuwe betekenis gekry toe ek in 2 Kronieke gaan lees oor Salomo se tempel.

Salomo het pas die tempel wat hy laat bou het aan God gewy en ’n kragtige gebed tot God gerig. ‘Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul. ‘ 2 Kron. 7:1.

En toe antwoord Hy Salomo in ’n droom met hierdie woorde:

‘Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal geniet. ‘

2 KRONIEKE 7:15-16

Is dit nie wonderlik nie?

Net so, het God ons ook gekies, vir Homself afgesonder, en sy Naam vir ons gegee (Ef. 1:4; 2 Kor. 1:21-22; Joh. 15:16; Kol. 3:17).

Hy sorg vir ons en luister na ons gebede (Mat. 6:26; Jak. 5:16; Mat. 21:22; Mark. 11:24).  

En ons weet dat ons altyd verseker kan wees van sy liefde vir ons (Rom. 8:38-39).

Maar vir my, is die wonderlikste gedagte, dat die Heilige Gees God se magtige teenwoordigheid is wat ons vul – net soos wat Hy die tempel destyds gevul het!

Ek wil myself sien soos wat God my sien. Hy het my gekoop en die prys is betaal. Ek is sy kosbare tempel.

Mag hierdie tempel altyd ’n plek van aanbidding wees.