Soos ek belowe het. Hier is een van my twee kortverhale wat opgeneem is in INK se bloemlesing, Inkspraak 3 – Kortverhale.

Lekker lees!

Die mal plan

“Wie se huis is dit?”

“Ons kan nie daar naby nie,” antwoord Carol kortaf en trek haar aan die arm terug.

Mari ruk los. “Ek kyk mos net, man!”

“Kom ek gaan wys jou eerder die res van die estate.”

“Dis ʼn mansion!” ignoreer Mari Carol se voorstel en wip teen die stel tuintrappies op wat na die plat grasperk voor die huis lei.

“Wat maak jy?” vra Carol benoud van waar sy verskrik bly staan het.

“Ek kyk net,” sê Mari weer.

ʼn Geplaveide voetpaadjie sny netjies deur die grasperk, met kiertsregop lolliepop-boompies aan weerskante daarvan. Mari se voete jeuk behoorlik.

“Dis die Bargenbosch-familie se huis,” sê Carol asof almal behoort te weet wie die Bargenbosch-familie is. “Kom nou!”

Mari gluur haar niggie aan. “Ek sien nêrens ʼn ‘Geen Toegang’-bordjie nie.”

“Nee, want almal in die estate weet dat niemand sommer net hier instap nie,” sê Carol en loer rond asof haar reputasie op die spel is

“Vir wat bly hulle in ʼn estate as niemand naby hulle mag kom nie, hè?” wil Mari weet.

“Want dit is húlle estate, Mari! En hulle verwag van almal om hulle privaatheid te respekteer,” antwoord Carol asof sy met ʼn stoute kind praat. “Toe, kom nou weg daar!”

Voordat Mari egter kans kan kry om Carol op haar plek te sit, stap ʼn ouerige dame op een van die balkonne uit.

Mari lig haar hand en groet vriendelik.

“Wat máák jy?” sis Carol histeries deur haar tande.

As die ou dame haar net verstom aanstaar, glimlag Mari aspris breër en wuif dat die tannie kan sien sy wuif. Die dame lig uiteindelik ook haar hand en groet terug met ʼn kortstondige, adellike buiging van haar pols.

“Sien, sy’t terug gewaai,” grynslag Mari oor haar skouer, maar Carol is skoonveld.

Sy draai terug en sien dat die dame ook nie meer op die balkon staan nie. Die swaar voordeur swaai skielik oop en iemand kom haastig met die paadjie afgestap. Nie ʼn dienskneg in ʼn swart tuxedo nie, maar ʼn jong man met ʼn blonde boskasie, in ʼn wit T-hemp en denim. Mari plant haar voete, lig haar ken en bly doelgerig staan. Laat hy haar nou net vandag hier kom wegjaag.

Hy stap tot amper reg voor haar en bly dan geamuseerd staan. “Middag?”

“Haai!” groet sy en steek haar hand uit. “Mari Cloete.”

“Hendrik Bargenbosch,” groet hy terug met ʼn ferm handskud.

“Ek bewonder julle huis,” verduidelik sy in die beleefde stilte wat op sy groet volg.

Hy volg haar blik oor die uitgestrekte grasperk en bekyk die huis asof hy dit ook nou vir die eerste keer sien. “En?”

“Dis impressive,” antwoord sy.

“Hmm,” sê hy en kruis sy arms voor sy bors, “is nogal.”

Dan draai hy weer na haar. “My ouma nooi jou vir tee. Dis nou as dit geleë is.”

“Regtig? Ek dag dan julle wil alleen gelos word,” sê sy voor sy kan keer.

Hy frons en sy probeer weer: “Dankie, dit sal lekker wees.”

Met ʼn tevrede knik dui hy die pad na die voordeur aan. Sy gehoorsaam en hy val langs haar in.

“Ek kuier by my niggie, Carol,” gesels Mari terwyl hulle stap en wonder met ʼn grinnik of die uwe dalk iewers, groen van jaloesie, staan en afloer. “Ken jy haar? Hulle het so vyf maande gelede hier ingetrek. Haar pa is ʼn breinspesialis. Dokter Viljoen.”

“Ja, het haar al gesien. Kort donkerkop soos jy. Julle lyk soos sussies.”

“Almal dink ons is,” lag Mari.

Hulle het intussen die graniettrappe na die voordeur bereik en sy moet haarself inhou om dit nie op te hardloop nie. Die deur swaai geruisloos oop en met ʼn bonsende hart tree Mari oor die heilige drumpel van die Bargenbosch-huis.

Hulle stap deur ʼn lang ingangsportaal wat in ʼn reuse leefarea oopmaak en Hendrik lei haar na twee raamlose skuifdeure met ’n indrukwekkende uitkyk op die gholflandgoed “Ons kuier op die stoep,” verduidelik hy en beduie in die rigting van ʼn stel stoepbanke langs die kristalhelder swembad.

Sy gaan sit op een van die banke en sien dat ʼn Delft-teestel reeds gereed staan op die koffietafeltjie. Daar is drie koppies gedek en al drie teelepels wys in presies dieselfde rigting. ʼn Bordjie tertjies en ʼn keurige bossie blomme rond die Top Billing-prentjie af.

“Alles is so perfek,” praat sy weer voor sy dink.

Hendrik grinnik: “My ouma is ʼn pynlike perfeksionis. Met tyd sal jy wel daaraan gewoond raak.”

Sy woorde is ook skaars koud, of die dame wat Mari op die balkon gesien het kom statig uitgestap op die stoep – soos ʼn koningin wat haar troonkamer betree. Mari staan eerbiedig op en wonder vir ʼn oomblik of dit dalk van haar verwag word om ʼn buiging te maak.

“Ouma, hierdie is Mari Cloete, familie van dokter Viljoen,” stel Hendrik haar voor. “Mari, dis my ouma, Anna Bargenbosch.”

“Kleindogter van Baron Johan von Rijck,” voeg Anna by voordat sy haar sitplek inneem.

“Aangename kennis,” sê Mari voordat sy ook weer gaan sit.

“U besoek is ietwat ontydig, juffrou Cloete,” sê Anna, “ek het u eers heelwat later verwag.”

“Ekskuus?”

“Kan ek vir jou skink, Mari?” vra Hendrik met die teepot in sy hand.

“Ja, asseblief. Dankie. Hoe bedoel mevrou…”

“Melk? Suiker?” val Hendrik haar in die rede.

“Swart en een suiker, asseblief,” antwoord sy en skuif ongemaklik onder Anna Bargenbosch se deurdringende blik.

Die tannie is seker ʼn bietjie seniel, besluit Mari en glimlag so vriendelik as moontlik vir Anna wat haar net kil bly aanstaar. Sy wag vir Hendrik om sy ouma se vreemde optrede te verduidelik, maar hy hou hom doenig met die teeskinkery.

“Ek is egter aangenaam verras met jou voorkoms, so ek vergewe jou die ontydige besoek,” gaan Anna voort.

“My voorkoms?” Mari probeer tevergeefs Hendrik se oog vang as hy die koppie en piering vir haar aangee.

“Stem jy nie saam nie, Hendrik?” vra Anna.

“Ja, sy sal doen,” grynslag Hendrik. “Ek is heel in my skik met haar voorkoms.”

Hoe kom sy hier uit? Wonder Mari skielik benoud. Die hoë stoep is omhein met ʼn glasreling en die swembad skep die indruk dat dit oor die afgrond stort. Met ʼn skok besef sy dat die skuifdeure ook toe is. Sal Carol haar hoor as sy hard genoeg roep?

“Is jy oukei, Mari?” vra Hendrik. “Jy lyk bietjie bleek?”

“Ek hoop nie u is sieklik nie, juffrou Cloete? Dit sal glad nie deug nie!” sê Anna skerp.

“Deug vir wat nie?” vra Mari en sit die koppie hard op die tafeltjie neer.

ʼn Bietjie tee stort oor die rand van die koppie en Anna trek haar asem skerp in. Soos blits spring Hendrik op en vee die piering droog met ʼn lappie wat hy iewers uitpluk.

Dit neem ʼn rukkie vir Anna om sodoende te bedaar dat sy vir Mari kan antwoord: “Dit is tog seker vanselfsprekend dat die Bargenbosch-bloedlyn skoon moet bly van enige siektes of ander swakhede? Is dit in u aard om so onhandig te wees?”

Mari se maag maak ʼn lelike draai.

“Waarvan praat mevrou tog?” Sy spring op. “Ek kan nie sien wat my onhandigheid met die Bargenbosch-bloedlyn te doen het nie! Ek dink mevrou verwar my met iemand anders. Dit was aangenaam om julle te ontmoet, maar ek moet nou gaan.”

“Sit, Mari,” beveel Hendrik in ʼn stemtoon wat haar nekhare laat rys.

Sy gaan staan voor die skuifdeure en probeer dit tevergeefs oopmaak. “Maak asseblief nou dadelik vir my oop, Hendrik!”

Anna staar haar geskok aan. “Hoe ongeskik! Hendrik, gaan jy toelaat dat sy so met jou praat? Jy sal haar nou al op haar plek moet sit, anders gaan dit ʼn baie onaangename huwelik wees.”

Huwelik?!

Hendrik knipoog vir Mari: “Jy’t reg gehoor, ja. Toe, kom sit nou maar weer.”

Mari staar verstom van die een na die ander. Die mense is stapelgek!

“Ek is siek,” sê sy versigtig.

“Hoe nou?” vra Hendrik.

“Ja. Ek moes dit eerder al genoem het, maar ek is regtig nie baie gesond nie en sal glad nie ʼn goeie huweliksmaat maak nie. Die Bargenbosch-bloedlyn is te kosbaar en moet rein gehou word vir komende geslagte. Jammer,” gaan sy voort.

Hendrik en Anna kyk na mekaar en dan weer na Mari.

“Siek sê jy?” vra Hendrik.

“Ja. Baie, baie siek. En boonop onhandig ook,” voeg sy hoopvol by.

Daar heers ʼn oomblik se stilte voordat Anna opspring en benoud uitroep: “Kry haar dadelik hier uit, Hendrik! Ek wil hierdie sieklike, onhandige mens nie naby my hê nie!”

Hendrik spring ook op. “Kom saam met my, asseblief,” beveel hy en kry Mari se elmboog in ʼn stewige greep beet.

So kalm as moontlik laat Mari hom toe om haar deur die huis en by die voordeur uit te begelei.

Eers buite, dreig hy deur saamgeperste lippe naby haar oor: “Nie ʼn woord hiervan aan enige iemand nie. Al wat mense hoef te weet, is dat hulle ons liewer moet uitlos.”

“Julle is mal!” kap sy terug.

“Presies,” grinnik hy voordat hy haar laat los en die huis binnestap.

Mari wag totdat die voordeur agter hom toeswaai voordat sy met jellierige bene die lang reguit paadjie terugstap na waar Carol met sterre in haar oë staan en wag.

“Ek glo dit nie!” roep sy uit. “Hulle het jou sowaar binne genooi! Jy was in die Bargenbosch-huis, nig! Ek wil alles weet! Toe vertel! Hoe was dit?”

“Kom ons loop liewer. Jy wou my nog die res van die estate gewys het,” antwoord Mari en loer oor haar skouer na waar Anna en Hendrik op die balkon uitgestap kom.

Verbeel sy haar, of staan hulle en lag?

Die einde

4 reaksies op “Die mal plan”

  1. Positief Avatar

    Briljant, dankie vir die deel

    Liked by 1 person

    1. Madeleine Venter Avatar
      Madeleine Venter

      Biae dankie😊 En dankie vir die saamlees

      Like

  2. elsabeskryf Avatar

    Baie oulik! Ek hou van die einde se twist

    Liked by 1 person

    1. Madeleine Venter Avatar
      Madeleine Venter

      Dankie 😁

      Like

Lewer kommentaar