En ons wag…

En so wag ek al weer. Nog steeds.

Dit voel soms vir my asof ek my lewe om wag.

Ek het iewers gelees dat matrose briewe onder ʼn klip ‘gepos’ het voor Jan van Riebeeck se tyd. Die skepe wat dan op hulle roete na en van Indië af hier stop, sou die briewe vat en saamneem om aan die geadresseerdes te gaan afgee. Daar was geen waarborg dat jou brief sy bestemming sou bereik of dat jy ooit ʼn antwoord daarop sou kry nie. Jy moes maar wag en kyk.

Ek het dus eintlik geen rede om te kla oor die gewaggery in hierdie moderne era nie, maar nogtans hou ek nie daarvan nie.

Mens wag in toue en spreekkamers. Wag vir aflewerings. Wag vir antwoorde. Terugvoer. Uitslae. Wag vir ʼn vakansie. Wag vir betaling. Wag vir beter voel. Wag vir dinge om terug te keer na normaal.

Wag vir inspirasie. Wag vir leiding. Wag vir iemand om uiteindelik die lig te sien. Wag vir daardie droom om waar te word. Wag en wag en wag.

En terwyl jy wag, doen jy maar solank die volgende ding waarvan die uiteinde heel waarskynlik ook ʼn gewaggery gaan wees.

Die lewe bestaan heel duidelik uit wag. En ek wonder… is dit nie eintlik waaroor die hele saai en oes konsep maar gaan nie?

Die afrikanertjies wat ek twee jaar gelede in my tuin gesaai het, het hierdie jaar eers opgekom. Hoekom, weet ek nie. Die sonneblomme nou weer, wat skaars ʼn maand gelede in die grond gedruk is, staan reeds amper ʼn halwe meter hoog.

Jy saai. En jy weet jy sal moet wag voor jy kan oes. Vir sommige dinge moet jy langer wag as vir ander en jy weet nie altyd hoekom nie. Maar een ding is vir seker: jy gaan nie oes op dieselfde tyd wat jy plant nie.

Ek dink dit is dalk juis hierdie onvermoë om te wag vir die regte tyd wat die oorsaak is van meeste dinge wat verkeerd gaan in ons lewens. Mens wil vinnig ryk word. Vinnig gesond word. Vinnig sukses behaal. En dan vat mens kortpaaie. As die deur nie dadelik oopgaan nie, dan breek jy hom af. En as die Here nie dadelik ʼn antwoord gee nie, dan volg jy jou eie kop. Net soos wat die vleis van diere wat ʼn klomp groeihormone ingegee word nadele vir ons inhou, net so is dit nadelig om ʼn ding te wil laat gebeur as die tyd daarvoor nog nie reg is nie.

Daar word nogal baie in die Bybel oor die bestemde tyd gepraat. Hier is ʼn paar Skrifgedeeltes wat vir my uitstaan:

‘Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. ‘

GALASIËRS 6:9

‘Nou het Hy op die bestemde tyd sy woord bekend gemaak deur die prediking wat as opdrag aan my toevertrou is deur God ons Verlosser. ‘

TITUS 1:3

‘Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd. ‘

SPREUKE 25:11

‘Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. ‘

PSALMS 1:3

Lees sommer ook: Jes.49:8, Lukas 12:40, Rom. 5:6, 1 Tim. 2:6, Lev. 26:4, 1 Pet 5:6 en 2 Kor. 6:2 wanneer jy ʼn kansie kry.

Hierdie gedeeltes sê vir my dat ons geduldig moet wag vir die bestemde tye. Tye wat ingestel is vir ons beswil. Dit gaan oor vertroue in God se goedheid.

So, wat maak mens nou terwyl jy wag?

Vir my maak dit logies sin dat daar gegroei moet word. ʼn Saad moet tog ontkiem en dan groei voordat daar ʼn oes kan wees.

Daarom het ek besluit dat, in plaas daarvan om die wag tye om te kla, ek eerder daardie energie gaan gebruik vir groei.

Ek hoop ek kon, met hierdie plasing, jou ook motiveer om dieselfde te doen.

Groete

Madeleine