Christusfees

Die wêreld het Jesus so stukkie vir stukkie uit Kersfees uit gehaal.

Presies, sal sommiges sê, dit is omdat Kersfees in die eerste plek nie oor Jesus gegaan het nie. En hulle is heeltemal reg. Die waarheid is, ten spyte van baie bespiegelinge en navorsing, weet niemand presies wanneer Jesus gebore is nie.

Inteendeel, daar word beweer dat die Romeinse Keiser, Aurelian, 25 Desember ingestel het as feesdag vir die songod kultus wat hy geskep het, Sol Invictus, en dat baie van die tradisies wat ons op Kersdag beoefen van daardie heidense fees afstam.

Hoe het dit dan die dag geword waarop ons Jesus se geboorte herdenk?

Een redenasie is dat vroeë Christene juis besluit het om Christus se geboorte op hierdie dag te vier om daardeur te bewys dat Jesus as oorwinnaar oor al die gode uit die stryd getree het.

Vir my klink dit inderdaad na ʼn oorwinning!

Vra enige iemand of hulle weet van Sol Invictus en hulle sal jou heel waarskynlik nie kan antwoord nie. Almal weet egter dat Kersfees gevier word om die geboorte van Jesus Christus te herdenk.

Daar is honderde spekulasies waarop jy gaan afkom as jy eers deeglik begin navorsing doen. As die idee dat Kersfees moontlik sy oorsprong vanuit ʼn heidense fees het, jou ongemaklik laat voel, moet jy dit liefs nie vier nie. Elkeen moet in sy eie hart oortuig wees van sy opvatting (Rom. 14:5-6, Col. 2:16).

Kerstyd is ‘n tyd van geleenthede:

  • Gaan luister ʼn slag weer mooi na die woorde van die meeste Kersfees liedjies. Besef jy dat Kersfees die enigste tyd van die jaar is waarin Christelike musiek oor winkelsentrums se luidsprekers weerklink? Dan is daar ook nog Kerssang geleenthede wat mense gewoonlik in groot getalle bywoon. Hierdie is wonderlike geleenthede om met iemand te gesels oor die pragtige woorde van hierdie liedjies!
  • Kersdag is baie keer die enigste dag waarop Kerklosse familie en vriende bereid sal wees om saam met jou kerk toe te gaan. Gebruik die potensiaal van daardie jaarlikse Kerkbesoek ten volle!
  • Dan is daar baie mense wat liefde en omgee nodig het oor Kersfees. Hier is jou geleentheid om uit te reik na daardie nors kollega of jou kluisenaar buurvrou. Bewys Jesus se liefde aan bedelaars en straatkinders. Wie weet, jy plant dalk nog ʼn saadjie wat honderdvoudig gaan vrugdra.
  • Kerstyd is gewoonlik die tyd waarin ons familie en vriende onthaal en daar geleentheid is vir lekker rustige saamkuiers. Laat mense Jesus in jou huis sien.

Geskenke en die Kersboom dra ook ʼn boodskap:

  • God die Vader het aan ons die grootste geskenk gegee deur sy Seun vir ons te stuur as ʼn klein babatjie wat in ʼn krip, heel waarskynlik uit hout gemaak, geslaap het (Joh. 3:16, Luk. 2:7).
  • Jesus is as jong seun deur sy pa, Josef, opgelei as ʼn skrynwerker. (Mark. 6:3).
  • Later in sy lewe het Hy vanuit ʼn houtskuit gepreek en aan ons die geskenk van sy boodskap gegee (Luk. 5:3).
  • Op die ou end het Hy aan ʼn houtkruis gesterf en aan ons die geskenk van die ewige lewe gegee (Joh. 19:17, Rom. 6:23, Col. 2:14). Volgens tradisie was die kruis uit Seder of Sipres hout gemaak.
  • Ons dink ook aan die geskenke van goud, wierook en mirre wat deur die wyse manne aan Jesus gebring is (Mat. 2:11).
  • Die liggies aan die Kersboom simboliseer Jesus wat die Lig vir die wêreld is (Joh. 8:12) en dat ons ons lig moet laat skyn tot verheerliking van God (Mat. 5:16).

Indien jy dus besluit om wel Kersfees te vier, maak dit dan ʼn fees waarin jy Christus vier. Moenie saam met die wêreld ʼn Kersfees sonder Jesus vier nie. Vergeet van Kersvader, elfies, feetjies en tower takbokke.

Vier die Woord wat mens geword het. Die ware Lig wat na die wêreld toe gekom het. Die Weg, die Waarheid en die Lewe. (Joh. 1:1, Joh. 1:5, Joh. 1:14, Joh. 14:6)

Maak dit hierdie jaar en elke jaar ʼn Christusfees.

Images: Pixabay