Ek is bly!

Ons almal ken Filippense 4:4, want hy sing so lekker.


Maar wat beteken dit nou eintlik om jou in die Here te verbly? Hoe vind jy jou vreugde in God en hoe kan jy altyd bly wees?
Ek dink aan Ps. 37:4: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” En aan 1 Tes. 5:16-18 wat sê: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Dalk sal dit help as ons mooi verstaan waaroor ons bly moet wees. Watter rede het ons om bly te wees in Christus?

Kom ek vertel ʼn storie wat jou dalk sal help om te verstaan watter groot rede ons het om bly te wees…
My dogtertjie het onlangs geleer waarom daar ʼn reël is wat sê, jy mag nie klippe gooi nie. Sy het die reël oortree en ʼn motor se agterruit stukkend gegooi. Niemand het dit sien gebeur nie, maar sy het erken dat dit sy was en het baie sleg gevoel. Glo my, daar was nie min trane nie. Maar, al het sy die regte ding gedoen deur haar skuld te erken en daaroor jammer te voel, is dit ongelukkig nie waar die storie eindig nie. Jy sien, sy moes een van die moeilikste dinge in die lewe leer en dit is om die nagevolge van jou dade te dra. In haar geval, moet sy nou ʼn maand langer wag vir iets wat sy baie graag wil hê. Die nagevolge van ons dade is iets waarmee ons almal moet saamleef. Dit maak nie saak hoe jammer jy is en hoe hard jy huil nie, dit vat nie die nagevolge weg nie.

Die Bybel sê almal van ons het gesondig want, niemand kan al die gebooie van God gehoorsaam nie. (Rom. 3:23, Eccles. 7:20, James 2:10, 1 John 1:8)

Maar, sonde het ook nagevolge.

Die nagevolge van sonde is die dood en daar rus ʼn vloek op almal wat nie al die gebooie van God gehoorsaam nie. (Rom. 6: 23, Rev. 20:15, Deut. 11:26-28, Gal. 3:10)

Niemand, geen mens op aarde, kan hierdie nagevolge vryspring nie!

Dit is waarom God in Sy wonderlike liefde en genade vir ons ʼn uitweg gegee het…

Net soos wat my dogtertjie haar skuld erken het en daaroor baie jammer was. Moet ons ook teenoor God erken dat ons sondaars is en daaroor baie jammer wees.
Maar, ons hoef nie die nagevolge van sonde te dra nie. Hoekom nie? Want, Jesus Christus het dit klaar vir ons part gedra! Al wat ons moet doen is om dit te glo en te bely. (Rom. 10:9)

Galasiërs 3:13 sê: “Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek ʼn vervloekte te word.”

In 2 Korintiërs 5:21 staan daar: “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrysgespreek kan wees.”

Die profeet Jesaja se profesie oor Jesus klink só: “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” (Isa. 53:5-6)

Ek weet nie van jou nie, maar dit is vir my meer as genoeg rede om Filippense 4:4 uit volle bors te sing!

In Christus is ons is vry van die nagevolge van sonde!

Dit is waarom ons altyd bly kan wees. Dit is wat dit beteken om jou vreugde in God te vind.

Dit is ware vreugde.

Alles tot die eer van God

“Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit. Al die gebooie; jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie, of watter ander gebod daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet.” Rom 13: 8-10

Jesus se lewe op aarde het bestaan uit liefhê en dien. Behalwe vir die evangelie, is dit onder andere ook die boodskap wat Hy verkondig het. Dit is Sy woorde. Dit is die wet van Sy koningryk. En, daar is wonderlike beloftes wat hiermee saamgaan!

Die belofte van versorging en beskerming

“Is dit nie dat jy vir die wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ʼn blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?
Dan sal die lig vir jou deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom.” Is 58: 7-8

“Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koningryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” Mat 6: 31-33

“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ʼn verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.” Mat 7:24-25

Die belofte van blydskap

“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.” Joh 15: 11-12

Die belofte van gebedsverhoring

As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” Joh 15:7-8

Die belofte van God se teenwoordigheid

“Jesus antwoord hom: ‘As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” Joh 14: 23

Daar is nog baie meer beloftes wat jy in die Woord sal vind, maar hierdie is van my gunstelinge.

Die heel beste manier om die evangelie te verkondig, is deur jou dade. As jy leef soos wat Jesus ons beveel het om te leef sal mense dit raaksien. Ons is as volgelinge van Jesus, veronderstel om anders te wees. (Rom 12:2) Ons moet alles wat ons doen vir die Here doen, nie vir mense nie. Dit gaan nie daaroor om mense tevrede te stel of in te pas nie. (Col 3:23, Eph 6:7) Ons is in Christus Jesus as nuwe mense geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. (Eph 2: 10)


Kom ons begin dan vandag lewe tot eer van God en nie tot eer van onself nie.