\'n Hoopvolle begin

Ek wonder partykeer waarom mense nou juis die begin van ʼn nuwe jaar vier. Waarom bly ons wakker tot middernag toe, net om te kan se: “Voorspoedige Nuwejaar!” en ʼn glasie te klink?

Dalk het dit baie met hoop te doen. Ons hoop dat hierdie jaar beter as die vorige een sal wees. Voor ons lê drie honderd vyf en sestig nuwe dae. En, as ek dit nie mis het nie, is 2016 ʼn skrikkeljaar, so ons kry sommer nog ʼn ekstra dag by! Enige iets kan in drie honderd ses en sestig dae gebeur. Maar, ons huil nie daaroor in die middernagtelike ure nie… ons juig daaroor en wens mekaar voorspoed toe.

Dit is hoop.

Ons maak die keuse om dit ʼn beter jaar te maak want ons stel Nuwejaarsvoornemens op. Ons hou van nuut begin. ʼn Nuwe blaadjie omslaan. ʼn Kans om weer te probeer. Ek dink God het aan ons ʼn wonderlike vermoëgegee. ʼn Geskenk, naamlik, die vermoëom te vernuwe. Jy hoef nie om en om in dieselfde groef te loop jaar na jaar nie. Jy kan, met God se hulp, uit daardie groef klim en ʼn nuwe pad loop. Dalk meer gesonder leef. Dalk jou huis opknap. Dalk daardie vlammetjie wat al amper versmoor het weer aanblaas en dít doen wat jou laat glimlag.

Of miskien het jy nodig om in hierdie jaar die belangrikste keuse van jou lewe te maak en sommer ʼn hele nuwe mens te word. As jy nou nie heeltemal seker is waarvan ek praat nie, lees sommer dadelik Johannes 3:3-8, Romeine 10:9-10, Titus 3:5-7, Hebreërs 10:19-20 en 1 Petrus 1:3.

In 2015 was daar goeie dinge en minder goeie dinge. Daar was wonderlike oomblikke en dan was daar oomblikke wat vergewe en vergeet moet word. Daar was eerste treë en laaste treë en groot besluite wat sommer ʼn reuse tree uit die groef uit is! Hierdie jaar wat voorlê is die eerste van ʼn nuwe seisoen in ons lewens. Dankie tog God is klaar daar!

My hoop is in Hom.

Dalk is dit ook ʼn nuwe seisoen vir jou. Geniet die avontuur! Of, dalk besef jy dat daar heelwat vernuwings moet plaasvind hierdie jaar. Onthou om daaroor te bid.
Wat ook al jou omstandighede… mag jy aan die einde van 2016 terug kyk en sê: “Ek het nie tevergeefs gehoop nie.”

Voorspoedige Nuwejaar!

Herders

“Herders op die ope velde, het die nag die eng’lekoor, met die blye evangelie, uit die hemel aangehoor…”

Hoekom juis die herders? Hoekom nie “die hoëpriester daar in die tempel, het die nag die eng’lekoor…” of “die baie geleerde fariseër” of “koning Herodes op sy troon…” nie?

Dit was immers ʼn baie belangrike gebeurtenis vir die Jode. Die koms van die Messias. Van geslag tot geslag is die verwagting oorgedra. Die skrifgeleerdes en fariseërs en hoëpriesters het die geskrifte bestudeer, gesorg dat hulle al die wette haarfyn nakom en gewag vir die koms van die Messias.

Waarom het God dan besluit om die groot nuus met herders te deel en nie met die godsdienstigste fariseër of die mees geleerde skrifgeleerde nie?

Wie was die herders dan nou eintlik?

Wel, hulle was nie vreeslik belangrik nie. Hulle was die ouens wat wind en weer moes trotseer om ander se skape op te pas. ʼn Mens hoef nie baie geletterd te wees om dit te kan doen nie. Daar is op hulle neergesien. Hulle was dienaars.

Hoe sou ʼn moderne herder gelyk het? Dalk soos ʼn motorwag?

Kan jy jou voorstel? Daar sit ʼn groepie niksvermoedende herders om ʼn vuurtjie en nonsens praat en grappies maak en ewe skielik vertel ʼn asemrowende engel aan hulle dat die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom sopas plaasgevind het. Dit waarvoor hulle volk vir baie eeue al wag en wat die wêreld vir altyd sou verander. En asof dit nie genoeg is dat hulle die eerstes is om díe nuus te hoor nie, het hulle dan sommer die voorreg om te sien hoe bly die engele daaroor is. Hulle ervaar wat geen lewende mens nog ooit het, of ooit weer gaan ervaar nie…‘n engelekoor wat God prys. Wat ʼn voorreg.

Wie was die herders?

In mense se oë was hulle ongeletterde, onbelangrike mense wat maar buite in die veld kon slaap. Maar, in God se oë was hulle belangrik genoeg om die grootste nuus eerste te hoor en ʼn vertoning te sien wat niemand voor kan betaal nie.

Wie is ek dan om te besluit party mense is nie belangrik genoeg nie? Wie is ek om die waarde van mense te meet aan hulle kwalifikasies, posisies of rykdom? Wie is ek om op mense neer te kyk omdat hulle dienaars is en nie leiers nie?

God het daardie nag die herders behandel asof hulle die belangrikste mense is wat nog ooit geleef het.

Het ek al ooit ʼn motorwag behandel asof hy die belangrikste mens is wat nog ooit geleef het?

Dalk is jy die een op wie neergesien word. Dalk is jy die onbelangrike een. Die dienaar. Dalk voel jy nie veel werd nie. Onthou, God kyk nie na jou soos wat mense kyk nie. God sien Sy unieke, spesiale skepsel.

Hy weet presies hoeveel hare op jou kop is.


Jy is belangrik genoeg vir Hom…