Moenie net sink nie

Dis makliker om op te gee.

Gaan lê is minder moeite as bly staan.

Om verbitterd te wees kom meer natuurlik as om te vergewe.

Hoe sterker die maalkolk is, hoe minder krag het jy om te bly spartel. Te bly staan. Te vergewe.

En dan gee jy op.

Ek glo persoonlik dat dit een van die duiwel se grootste wapens teen ’n mens is – om jou so mismoedig en moeg te maak dat jy uittree. Gaan lê. Heeltemal opgee.

As golf na golf oor jou breek. As elke probeerslag ’n terugslag is. As elke keer wat jy hoop uitloop op teleurstelling. Dis wanneer dit baie makliker is om op te hou spartel en te sink.

Dis maklik om op te gee. Enige iemand kan dit doen. Maar jy is nie sommer enige iemand nie.

Jy het ’n God na wie jy kan uitroep.

‘Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom. Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie. Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het… Red my uit die modder, dat ek nie wegsak nie, laat my wegkom van my vyande af, weg uit die diep waters. Moenie dat die stroom my meesleur en die diep water my insluk nie, en moenie dat hierdie put toegaan bokant my nie. Antwoord my, Here, in u wonderlike liefde, verhoor my in u groot barmhartigheid! ‘

PSALMS 69:2-3,15-17

Hy sal sy hand uitsteek en jou red. Jou uit die modder uittrek. Hy sal nie die put bokant jou laat toemaak nie. Hy sal jou uitlig, jou op ’n rots neersit, en op vaste grond laat loop.

‘Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ‘n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my ‘n nuwe lied in die mond gelê, ‘n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou! ‘

PSALMS 40:2-4

Jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee.

Moenie opgee nie.

Hierdie tempel

‘Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.’

1 KORINTIËRS 6:19-20

Hierdie is een van daardie gedeeltes in die Bybel wat ’n mens so baie hoor, dat jy dit eintlik nie meer hoor nie.

Dit het egter onlangs vir my nuwe betekenis gekry toe ek in 2 Kronieke gaan lees oor Salomo se tempel.

Salomo het pas die tempel wat hy laat bou het aan God gewy en ’n kragtige gebed tot God gerig. ‘Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul. ‘ 2 Kron. 7:1.

En toe antwoord Hy Salomo in ’n droom met hierdie woorde:

‘Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal geniet. ‘

2 KRONIEKE 7:15-16

Is dit nie wonderlik nie?

Net so, het God ons ook gekies, vir Homself afgesonder, en sy Naam vir ons gegee (Ef. 1:4; 2 Kor. 1:21-22; Joh. 15:16; Kol. 3:17).

Hy sorg vir ons en luister na ons gebede (Mat. 6:26; Jak. 5:16; Mat. 21:22; Mark. 11:24).  

En ons weet dat ons altyd verseker kan wees van sy liefde vir ons (Rom. 8:38-39).

Maar vir my, is die wonderlikste gedagte, dat die Heilige Gees God se magtige teenwoordigheid is wat ons vul – net soos wat Hy die tempel destyds gevul het!

Ek wil myself sien soos wat God my sien. Hy het my gekoop en die prys is betaal. Ek is sy kosbare tempel.

Mag hierdie tempel altyd ’n plek van aanbidding wees.

Niks

Sy Woord kon mens word en onder ons kom woon – dieselfde Woord wat in die begin daar was. By God. Self God. Waardeur alles tot stand gekom het. Die lewe. Die Lig. Daardie Woord.

Niks is vir God onmoontlik nie.

God kon Homself offer vir sy skepping – die volmag om sy lewe neer te lê en dit weer op te neem. Volbring. Versoen. Vergewe.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Hy kan jou roep. Jou weer gebore laat word. Jou beseël as sy eiendom. Jou deel maak van sy koninkryk. Sy Gees in jou laat woon.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Die almagtige God kan jou nuut oormaak. Meesterstuk. Toegerus vir die goeie werk wat Hy spesiaal vir jou beplan het.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Daar is genesing. Beskerming. Leiding. ’n Plan. ’n Toekoms. Alles wat ten goede meewerk.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Hy gaan weer kom. Regverdig oordeel. Die vyand finaal verslaan. ’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde skape.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Ek en Jesus is BFF’s

Dit gebeur mos partykeer so dat ’n versie wat jy al ’n duisend keer gelees of gehoor het, sommer net eendag skielik jou dink aan die gang sit.

So was dit die naweek met my en Johannes 15:15

‘Ek noem julle nie meer slawe nie, want ’n slaaf weet nie wat sy eienaar doen nie. Julle noem Ek lankal vriende, omdat Ek alles wat Ek by my Vader gehoor het, aan julle verduidelik het. ‘

JOHANNES 15:15 NLV

Die Dake Annotated Reference Bible verduidelik hierdie vers so: “…I make you full partners and My personal representiatives on earth. You are to represent Me and reproduce My works as I represented God and did His works…”

En die Amplified Study Bible se kommentaar by hierdie vers is: “A friend knows what is happening because friends develop deep fellowship by communicating with one another.”

Wat beteken dit dan om Jesus se vriend te wees?

Dit beteken ek is nie soos ’n slaaf wat net gehoorsaam omdat dit van my verwag word nie. Dis nie wat Jesus wil hê nie. Hy soek nie meganiese gehoorsaamheid nie. Hy wil hê ek moet, deur my liefde vir God en my medemens,  sy vennoot wees. En dit is waarom hy die Vader se plan van redding aan my bekend gemaak het: sodat ek saam met Hom kan werk.

As mens die vers in konteks lees, gaan dit hier oor ’n vrugtevolle lewe tot eer van God. Jesus sê in vers 4: ‘Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ’n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie aan My verbonde bly nie. ‘

My verbintenis met Jesus – my vriendskap-verhouding met Hom – is wat my in staat stel daartoe om baie vrugte te dra tot sy eer, sodat ek saam met Hom kan werk.

Wat ’n ongelooflike groot eer om te weet Hy noem my sy vriendin.

Laat ‘n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op ‘n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Doelbewuste meesterstuk

Dis besig om uit te werk.

Daardie plan van God wat Hy vir jou lewe het. Daardie plan waarvan Hy praat in Jeremia 29:11. Eintlik was dit nog altyd besig om uit te werk. Selfs daardie kere wat dit nie vir jou so gevoel het nie.

Want, Hy het ’n doel met jou en Hy sal daardie doel bereik. God maak nie foute nie.

Want sy liefde ken geen einde nie.

Sy liefde vir jou, die mens wat Hy geskape het, ken geen einde nie. Vir jou wat Hy uitgeroep en gemerk het as sy eiendom. Wat Hy weer laat gebore word het en nuut gemaak het sodat jy die goeie werke kan doen wat hy vir jou beplan het.

Vir jou ken sy liefde geen einde nie.

So miskien is daar ook ’n paar mense in jou lewe vir wie jy wil sê: Luister hier! Sy liefde vir my ken geen einde nie. Dit geld vir my ook!

Luister hier jy wat brûe brand omdat ek nie in jou religieuse boksie pas nie. Luister hier jy wat op my neerkyk in jou selfopgelegde aansien. Luister hier jy vir wie ek ’n groot teleurstelling is. Luister hier jy vir wie ek onsigbaar is. Luister hier jy wat in jou mou lag omdat ek stroomop swem en nie inpas nie.

Sy liefde vir my ken geen einde nie.

Ek is ’n doelbewuste meesterstuk.

Ek is Syne

Jy sal onthou dat ek so ’n rukkie terug vertel het hoedat ek die moed bymekaargeskraap het om vir ’n digkompetisie in te skryf. Dit was juis hierdie brawe stap wat my laat besluit het om ’n digbundel aan te pak. Nou wonder jy seker wat  van die kompetisie geword het, nè? Wel, kom ek bring jou op hoogte en deel  dan sommer terselfdertyd ook ’n lessie wat die Here my geleer het uit hierdie ervaring.

INK Skryf in Afrikaans het altesaam 1560 inskrywings ontvang waarvan hulle 616 gedigte gekies het vir publikasie in hulle bloemlesing, Inspraak 2.  Die wenners word eers in November hierdie jaar aangekondig tydens die gala-aand.

My gedig, My hart klop in Afrikaans, is een van die wat opgeneem gaan word in hulle bloemlesing! Dit is vir my persoonlik ‘n baie groot prestasie en ook ‘n ongelooflike groot eer.

Nog groter, was egter dit wat ek geleer het n.a.v. wat gebeur het net voordat ek hierdie wonderlike nuus ontvang het. Kom ek vertel…

INK het ook ‘n Facebook-groep waarvan ek deel  is. Een middag maak ek die groep oop en daar sien ek ’n aankondiging boaan die bladsy waarin die wenners van die digkompetisie bekend gemaak word en die organiseerders bedank word vir die pragtige aand. My hart sak sommer in my skoene. ‘n Mens neem mos maar aan ’n kompetisie deel met ’n verwagting.

Hoe hard ek ook al myself probeer troos daarin dat ek nie te veel van my eerste digkompetisie kon verwag het nie, is dit tevergeefs. Moedeloosheid begin groei in my hart en voor ek weet besluit ek dat ek nie ’n digter se sout werd is nie en sak ek weg in ‘n donker put van selfbejammering. Die put word ’n maalkolk wat my dieper insuig totdat ek oortuig is daarvan dat ek liewer my patetiese poging om te skryf heeltemal moet opgee en dat ek oor die algemeen eintlik maar ’n nul op ’n kontrak is.

Toe is dit asof die Heilige Gees in my hart fluister: “Wie is jy nou weer?”

En net daar tref dit my soos ‘n baksteen teen die kop: Ek is besig om my identiteit op die fondasie van my skryfwerk te bou en nie op Christus nie!

Ek het onmiddellik hardop bely dat ek heel eerste, boweal, ‘n kind van God is. Gekies, gekoop en gemerk. Ek behoort aan Hom. My vreugde lê daarin en nie in my sukses as skrywer of op enige ander gebied in my lewe nie. My lewe behoort aan die Here.

Later daardie middag kry ek sowaar ‘n e-pos met ‘n amptelike brief wat my meedeel dat my gedig gekies is vir publikasie, asook ’n uitnodiging na die gala-aand.

Jy kan seker net dink hoe verbaas ek was!

Het ek my dan die aankondiging op Facebook verbeel?

Natuurlik gaan soek ek die aankondiging en raai wat? Ek kry hom nie. Wat ek toe wel besef, is dat Facebook sommerso rond en bont aankondigings uit die argiewe van groepe gaan haal en dan boaan bladsye plaas. Dit wat ek gesien het, was dus heel waarskynlik die wenners van ’n vorige jaar!

Die hele gebeurtenis het my net weer bietjie perspektief gegee en my gedwing om my prioriteite te orden.

Plaas God eerste en die res sal volg soos dit moet en volgens Sy wil – want Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom lief het.

Wees geseën

Madeleine

Ek is nie bang nie

“Daar sit baie meer agter hierdie storie as wat ons dink.”

Ja, dit is dalk so. Daar sit miskien meer agter hierdie storie as wat ons ooit sal kan raai. Of, miskien is dit maar net nog ʼn vervalle-wêreld storie. Wie weet?

Wat ook al die geval mag wees, ek is nie bang nie.

Want God is baie groter en sterker as wie of wat ook al agter hierdie storie sit. Om die waarheid te sê, Hy is groter as die storie self.

Hierdie God ken dié wat Hom liefhet en by Hom skuiling soek en Hy laat alles ten goede meewerk vir hulle. (1 Cor. 8:3, Nah. 1:7, Rom. 8:28)


Ek is een van daardie wat Hom liefhet en by Hom skuiling soek. Dit is waarom ek nie bang is nie.

Ek gebruik my gesonde verstand en hou by die reëls soos wat die Bybel vir my sê om te doen. (Prov. 14:16, Tit. 3:1) Dit beteken ek dra my masker, ek was my hande, ek kuier nie rond nie.

Omdat ek bang is? Nee. Ek doen die regte ding en ek dink aan ander. Ook iets wat die Bybel vir my sê om te doen. (Jam. 4:17, Phil. 2:4)

Ons is almal nou ʼn bietjie moeg vir hierdie storie. Ek ook. Keelvol.

Maar nie bang nie.


Liefde

Madeleine

Geanker in die Hemel

Ja, daar is storms op hierdie see van my lewe. Ek weet egter waar my siel geanker is.

Hebreërs 6:19-20 sê: “Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, en Hy is vir ewig Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek.”

Die woord ‘Voorloper’ in Grieks is ‘prodromos’wat beteken ‘om vooruit te gaan’. Dit is ʼn term wat algemeen gebruik was vir ʼn klein groepie soldate wat vooruit gegaan het om ʼn pad oop te maak tydens ʼn oorlog.

So, wat het dit nou met ʼn anker te doen? Wel, die woord ‘prodromos’ is ook, in die tweede eeu na Christus, gebruik vir die kleiner bootjies wat soms voor groter skepe die hawe binne gevaar het.

Hierdie kleiner bootjies het die groter skepe se ankers deur die brekende branders gedra en dan in die hawe laat sak. Die skepe was dus reeds in die hawe geanker, selfs nog voordat hulle die hawe binne gevaar het.

Omdat hulle reeds in die hawe geanker was, kon hulle dan met meer hoop en sekerheid die brekende branders trotseer om sodoende die hawe binne te vaar.

Jesus het vooruit gegaan en my siel gaan anker in die Allerheiligste.

Die storms kan maar kom en die branders kan maar breek. My anker gaan nie beweeg nie.

 

Wees geseënd

Madeleine