Die mal plan

Soos ek belowe het. Hier is een van my twee kortverhale wat opgeneem is in INK se bloemlesing, Inkspraak 3 – Kortverhale.

Lekker lees!

Die mal plan

“Wie se huis is dit?”

“Ons kan nie daar naby nie,” antwoord Carol kortaf en trek haar aan die arm terug.

Mari ruk los. “Ek kyk mos net, man!”

“Kom ek gaan wys jou eerder die res van die estate.”

“Dis ʼn mansion!” ignoreer Mari Carol se voorstel en wip teen die stel tuintrappies op wat na die plat grasperk voor die huis lei.

“Wat maak jy?” vra Carol benoud van waar sy verskrik bly staan het.

“Ek kyk net,” sê Mari weer.

ʼn Geplaveide voetpaadjie sny netjies deur die grasperk, met kiertsregop lolliepop-boompies aan weerskante daarvan. Mari se voete jeuk behoorlik.

“Dis die Bargenbosch-familie se huis,” sê Carol asof almal behoort te weet wie die Bargenbosch-familie is. “Kom nou!”

Mari gluur haar niggie aan. “Ek sien nêrens ʼn ‘Geen Toegang’-bordjie nie.”

“Nee, want almal in die estate weet dat niemand sommer net hier instap nie,” sê Carol en loer rond asof haar reputasie op die spel is

“Vir wat bly hulle in ʼn estate as niemand naby hulle mag kom nie, hè?” wil Mari weet.

“Want dit is húlle estate, Mari! En hulle verwag van almal om hulle privaatheid te respekteer,” antwoord Carol asof sy met ʼn stoute kind praat. “Toe, kom nou weg daar!”

Voordat Mari egter kans kan kry om Carol op haar plek te sit, stap ʼn ouerige dame op een van die balkonne uit.

Mari lig haar hand en groet vriendelik.

“Wat máák jy?” sis Carol histeries deur haar tande.

As die ou dame haar net verstom aanstaar, glimlag Mari aspris breër en wuif dat die tannie kan sien sy wuif. Die dame lig uiteindelik ook haar hand en groet terug met ʼn kortstondige, adellike buiging van haar pols.

“Sien, sy’t terug gewaai,” grynslag Mari oor haar skouer, maar Carol is skoonveld.

Sy draai terug en sien dat die dame ook nie meer op die balkon staan nie. Die swaar voordeur swaai skielik oop en iemand kom haastig met die paadjie afgestap. Nie ʼn dienskneg in ʼn swart tuxedo nie, maar ʼn jong man met ʼn blonde boskasie, in ʼn wit T-hemp en denim. Mari plant haar voete, lig haar ken en bly doelgerig staan. Laat hy haar nou net vandag hier kom wegjaag.

Hy stap tot amper reg voor haar en bly dan geamuseerd staan. “Middag?”

“Haai!” groet sy en steek haar hand uit. “Mari Cloete.”

“Hendrik Bargenbosch,” groet hy terug met ʼn ferm handskud.

“Ek bewonder julle huis,” verduidelik sy in die beleefde stilte wat op sy groet volg.

Hy volg haar blik oor die uitgestrekte grasperk en bekyk die huis asof hy dit ook nou vir die eerste keer sien. “En?”

“Dis impressive,” antwoord sy.

“Hmm,” sê hy en kruis sy arms voor sy bors, “is nogal.”

Dan draai hy weer na haar. “My ouma nooi jou vir tee. Dis nou as dit geleë is.”

“Regtig? Ek dag dan julle wil alleen gelos word,” sê sy voor sy kan keer.

Hy frons en sy probeer weer: “Dankie, dit sal lekker wees.”

Met ʼn tevrede knik dui hy die pad na die voordeur aan. Sy gehoorsaam en hy val langs haar in.

“Ek kuier by my niggie, Carol,” gesels Mari terwyl hulle stap en wonder met ʼn grinnik of die uwe dalk iewers, groen van jaloesie, staan en afloer. “Ken jy haar? Hulle het so vyf maande gelede hier ingetrek. Haar pa is ʼn breinspesialis. Dokter Viljoen.”

“Ja, het haar al gesien. Kort donkerkop soos jy. Julle lyk soos sussies.”

“Almal dink ons is,” lag Mari.

Hulle het intussen die graniettrappe na die voordeur bereik en sy moet haarself inhou om dit nie op te hardloop nie. Die deur swaai geruisloos oop en met ʼn bonsende hart tree Mari oor die heilige drumpel van die Bargenbosch-huis.

Hulle stap deur ʼn lang ingangsportaal wat in ʼn reuse leefarea oopmaak en Hendrik lei haar na twee raamlose skuifdeure met ’n indrukwekkende uitkyk op die gholflandgoed “Ons kuier op die stoep,” verduidelik hy en beduie in die rigting van ʼn stel stoepbanke langs die kristalhelder swembad.

Sy gaan sit op een van die banke en sien dat ʼn Delft-teestel reeds gereed staan op die koffietafeltjie. Daar is drie koppies gedek en al drie teelepels wys in presies dieselfde rigting. ʼn Bordjie tertjies en ʼn keurige bossie blomme rond die Top Billing-prentjie af.

“Alles is so perfek,” praat sy weer voor sy dink.

Hendrik grinnik: “My ouma is ʼn pynlike perfeksionis. Met tyd sal jy wel daaraan gewoond raak.”

Sy woorde is ook skaars koud, of die dame wat Mari op die balkon gesien het kom statig uitgestap op die stoep – soos ʼn koningin wat haar troonkamer betree. Mari staan eerbiedig op en wonder vir ʼn oomblik of dit dalk van haar verwag word om ʼn buiging te maak.

“Ouma, hierdie is Mari Cloete, familie van dokter Viljoen,” stel Hendrik haar voor. “Mari, dis my ouma, Anna Bargenbosch.”

“Kleindogter van Baron Johan von Rijck,” voeg Anna by voordat sy haar sitplek inneem.

“Aangename kennis,” sê Mari voordat sy ook weer gaan sit.

“U besoek is ietwat ontydig, juffrou Cloete,” sê Anna, “ek het u eers heelwat later verwag.”

“Ekskuus?”

“Kan ek vir jou skink, Mari?” vra Hendrik met die teepot in sy hand.

“Ja, asseblief. Dankie. Hoe bedoel mevrou…”

“Melk? Suiker?” val Hendrik haar in die rede.

“Swart en een suiker, asseblief,” antwoord sy en skuif ongemaklik onder Anna Bargenbosch se deurdringende blik.

Die tannie is seker ʼn bietjie seniel, besluit Mari en glimlag so vriendelik as moontlik vir Anna wat haar net kil bly aanstaar. Sy wag vir Hendrik om sy ouma se vreemde optrede te verduidelik, maar hy hou hom doenig met die teeskinkery.

“Ek is egter aangenaam verras met jou voorkoms, so ek vergewe jou die ontydige besoek,” gaan Anna voort.

“My voorkoms?” Mari probeer tevergeefs Hendrik se oog vang as hy die koppie en piering vir haar aangee.

“Stem jy nie saam nie, Hendrik?” vra Anna.

“Ja, sy sal doen,” grynslag Hendrik. “Ek is heel in my skik met haar voorkoms.”

Hoe kom sy hier uit? Wonder Mari skielik benoud. Die hoë stoep is omhein met ʼn glasreling en die swembad skep die indruk dat dit oor die afgrond stort. Met ʼn skok besef sy dat die skuifdeure ook toe is. Sal Carol haar hoor as sy hard genoeg roep?

“Is jy oukei, Mari?” vra Hendrik. “Jy lyk bietjie bleek?”

“Ek hoop nie u is sieklik nie, juffrou Cloete? Dit sal glad nie deug nie!” sê Anna skerp.

“Deug vir wat nie?” vra Mari en sit die koppie hard op die tafeltjie neer.

ʼn Bietjie tee stort oor die rand van die koppie en Anna trek haar asem skerp in. Soos blits spring Hendrik op en vee die piering droog met ʼn lappie wat hy iewers uitpluk.

Dit neem ʼn rukkie vir Anna om sodoende te bedaar dat sy vir Mari kan antwoord: “Dit is tog seker vanselfsprekend dat die Bargenbosch-bloedlyn skoon moet bly van enige siektes of ander swakhede? Is dit in u aard om so onhandig te wees?”

Mari se maag maak ʼn lelike draai.

“Waarvan praat mevrou tog?” Sy spring op. “Ek kan nie sien wat my onhandigheid met die Bargenbosch-bloedlyn te doen het nie! Ek dink mevrou verwar my met iemand anders. Dit was aangenaam om julle te ontmoet, maar ek moet nou gaan.”

“Sit, Mari,” beveel Hendrik in ʼn stemtoon wat haar nekhare laat rys.

Sy gaan staan voor die skuifdeure en probeer dit tevergeefs oopmaak. “Maak asseblief nou dadelik vir my oop, Hendrik!”

Anna staar haar geskok aan. “Hoe ongeskik! Hendrik, gaan jy toelaat dat sy so met jou praat? Jy sal haar nou al op haar plek moet sit, anders gaan dit ʼn baie onaangename huwelik wees.”

Huwelik?!

Hendrik knipoog vir Mari: “Jy’t reg gehoor, ja. Toe, kom sit nou maar weer.”

Mari staar verstom van die een na die ander. Die mense is stapelgek!

“Ek is siek,” sê sy versigtig.

“Hoe nou?” vra Hendrik.

“Ja. Ek moes dit eerder al genoem het, maar ek is regtig nie baie gesond nie en sal glad nie ʼn goeie huweliksmaat maak nie. Die Bargenbosch-bloedlyn is te kosbaar en moet rein gehou word vir komende geslagte. Jammer,” gaan sy voort.

Hendrik en Anna kyk na mekaar en dan weer na Mari.

“Siek sê jy?” vra Hendrik.

“Ja. Baie, baie siek. En boonop onhandig ook,” voeg sy hoopvol by.

Daar heers ʼn oomblik se stilte voordat Anna opspring en benoud uitroep: “Kry haar dadelik hier uit, Hendrik! Ek wil hierdie sieklike, onhandige mens nie naby my hê nie!”

Hendrik spring ook op. “Kom saam met my, asseblief,” beveel hy en kry Mari se elmboog in ʼn stewige greep beet.

So kalm as moontlik laat Mari hom toe om haar deur die huis en by die voordeur uit te begelei.

Eers buite, dreig hy deur saamgeperste lippe naby haar oor: “Nie ʼn woord hiervan aan enige iemand nie. Al wat mense hoef te weet, is dat hulle ons liewer moet uitlos.”

“Julle is mal!” kap sy terug.

“Presies,” grinnik hy voordat hy haar laat los en die huis binnestap.

Mari wag totdat die voordeur agter hom toeswaai voordat sy met jellierige bene die lang reguit paadjie terugstap na waar Carol met sterre in haar oë staan en wag.

“Ek glo dit nie!” roep sy uit. “Hulle het jou sowaar binne genooi! Jy was in die Bargenbosch-huis, nig! Ek wil alles weet! Toe vertel! Hoe was dit?”

“Kom ons loop liewer. Jy wou my nog die res van die estate gewys het,” antwoord Mari en loer oor haar skouer na waar Anna en Hendrik op die balkon uitgestap kom.

Verbeel sy haar, of staan hulle en lag?

Die einde

4 reaksies op “Die mal plan”

  1. Positief Avatar

    Briljant, dankie vir die deel

    Liked by 1 person

    1. Madeleine Venter Avatar
      Madeleine Venter

      Biae dankie😊 En dankie vir die saamlees

      Like

  2. elsabeskryf Avatar

    Baie oulik! Ek hou van die einde se twist

    Liked by 1 person

    1. Madeleine Venter Avatar
      Madeleine Venter

      Dankie 😁

      Like

Laat ‘n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op ‘n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Drie gedigte

Ek het hierdie jaar weer deelgeneem aan INK se dig- en skryfkompetisie. Hierdie keer was ek dapper, en het ek sommer drie gedigte en twee kortverhale ingestuur. Al drie gedigte en die twee kortverhale is opgeneem in die twee bloemlesings: Inkspraak 3 – Kortverhale en Inkspraak 3 – Volwasse Digters. Ek het ook ’n eervolle vermelding vir die kortverhale ontvang.

Aangesien ’n paar mense my nou al gevra het, het ek dit goedgedink om dit op my blog te plaas vir die wat graag my inskrywings wil lees. Deelnemers word darem toegelaat om hulle skryfwerk, wat in die bloemlesings opgeneem word, ook elders te publiseer.

Vandag gaan ek die drie gedigte hier plaas. Binnekort volg die twee kortverhale om die beurt.

Hoop jy lees lekker …

behoort

in die skadu 
waar ek skuil
van Sy vlerke
kan ek huil

kan ek woedend
hardop skree
selfs my diepste 
hartseer gee

waar ek stil kan word
sit terug
met geen woorde
net ʼn 

sug

hier is ek

dis hoe ek lyk
dis wat ek doen
dis wie ek is

ek gaan nie minder ék wees
vir jou nie

want sien

ek’s meesterstuk in wording
wyl my Skepper oor my sing

weggesteek

nee, jy weet nie
hoe my dink vasdraai
soos stywe gewrigte
en ek nie weet
wat om te bid nie

jy verstaan nie
hoe alleen mens voel
wanneer pyn kom saamstap
en by jou bly
en langs jou sit nie

ook weet jy nie
dat my hart kan huil
terwyl ek glimlag
en vir jou sê:
‘Ja, als gaan goed,’ nie

4 reaksies op “Drie gedigte”

    1. Madeleine Venter Avatar
      Madeleine Venter

      Baie dankie 😊

      Like

  1. Tania Botha Avatar
    Tania Botha

    Ek het lekker gelees. Jy vat die dieper so mooi raak … Dankie

    Liked by 1 person

    1. Madeleine Venter Avatar
      Madeleine Venter

      Baie dankie 😊

      Like

Laat ‘n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op ‘n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

My skryfstorie

Vandat ek kan onthou is boeke en stories so deel van my soos die geboortevlekkie op my regterknie.

Ek was van jongs af ’n ywerige leser en het, as die oudste van vier, my jonger sibbe vermaak met stories wat ek of vertel of uitgespeel het. Wanneer ons by my ouma-hulle op Middelburg gaan kuier het, het hulle een van die vele skilderye teen die mure gekies en dan moes ek ’n storie rondom die gekose kunswerk opdis. Ek het ook altyd vir myself stories vertel terwyl ons langpad gery het of wanneer ek nie aan die slaap kon raak nie. Soos ek ouer geword het, het my pa sy rekenaar aan my afgestaan tydens skoolvakansies sodat ek al die stories wat in my kop rond gedraai het kon neerskryf.

My droom was om eendag by ’n biblioteek in te stap en ’n hele rak vol van boeke wat ek geskryf het daar te sien.

In 2001 is ek met RA gediagnoseer, en dit, saam met my voete vind in die onderwys, trou en mamma word, het egter daartoe bygedra dat ek so te sê opgehou het met skryf. Alhoewel ek in 2002 die jaar-kursus, Kreatiewe Afrikaans, by die destydse RAU voltooi het, moes ek noodgedwonge my skryfdroom agtertoe skuif.

Wanneer ek wel geskryf het in die daaropvolgende jare, was dit so raak-raak aan ’n spesifieke boek waarmee ek al van studentejare af mee besig was. Die boek het egter intensiewe navorsing geverg waarvoor ek net eenvoudig nie tyd gehad het nie.

In 2014 het ek ’n wake-up-call gekry en besef dat my droom om ’n gepubliseerde outeur te word nie vanself gaan realiseer nie. Ek het meer doelgerig begin skryf en ’n kortverhaal vir Vrouekeur gestuur wat toe goedgekeur en gepubliseer is. Dit was vir my ’n baie groot mylpaal.

In 2015 het ek Blog vir Jesus begin en die jaar daarna ook ’n Engelse blog. Uit onkunde het ek ’n teksboek vanity press-uitgewer genader om van die gewildste plasings op Blog vir Jesus in boekvorm uit te gee. Duisende rande later het ek met twee bokse foutiewe boeke gesit waarvan die eerste honderd se laaste bladsy ontbreek het en die tweede honderd so lelik gebind was dat mens dit nie eens verniet kon weggee nie. Dit was ’n duur les, maar ek skryf dit af as skoolgeld.

’n Ongelooflik talentvolle vriendin het aan my genoem dat sy graag illustrasies wil probeer en dit het my laat besluit om ’n kinderboek te skryf wat dan aan haar die geleentheid sou bied om die boek te illustreer. So het dit gekom dat ek Skaperjolle – Vrug van die Gees, geskryf het. Soos die lewe maar is, het sy egter saam met al haar ander verpligtinge nie daarby uitgekom om die illustrasies te doen nie. Die boek is op die ou end deur ’n belowende jong kunstenaar in ons familie geïllustreer.

Intussen het ek gehoor van Kindle Direct Publishing (kdp) en besluit om daardie roete te gaan met ’n Engelse novelle wat ek geskryf het, The Grace Song. Aangesien Engels my tweede taal is, het ek nie die selfvertroue gehad om die manuskrip aan ’n tradisionele uitgewer te stuur nie en wou ek, uit vrees vir nog ’n vanity press-bloutjie, ook nie gebruik maak van enige ander selfpublisering-uitgewers nie. My debuut het dus as ’n selfgepubliseerde Young Adult Contemporary Christian Fiction op Amazon verskyn. Nie heeltemal die debuut-droom wat ek gekoester het nie.

Omdat Skaperjolle, wat intussen stof opgegaar het, opgedra is aan al die kinders in ons familie waarvan een van hulle Engels is, het ek die boek oorgeskryf in Engels as Little Lambs Learning about Fruit of the Spirit en ook deur kdp uitgegee. Gedurende die inperkingstyd van 2020 het ek met baie bloedsweet en tandekners self die uitleg in Adobe Indesign gedoen en toe sommer ’n tweede boek ook aangepak, Little Lambs Learning some Proverbs.

Die wêreldwye inperkingstoestand het veroorsaak dat Amazon nie my boeke kon aflewer nie en ek was genoodsaak om die boeke onder nuwe ISBN nommers te publiseer sodat dit hier in Suid-Afrika gedruk kon word. Die tweede kinderboek was nog by die drukkers toe verskeie lesers my gevra het om die twee boeke asseblief in Afrikaans ook uit te gee. Die oorspronklike manuskrip vir Skaperjolle is toe nader gesleep vir eksterne redigering en het uiteindelik ook die lig gesien.

So het dit dus gebeur dat ek aan die ouer kant van veertig met ses selfgepubliseerde boeke sit en my skryfwerk in ’n besigheid ontaard – kompleet met ’n aanlynwinkel en alles wat daarmee gepaard gaan. Dit was ook glad nie deel van my droom nie

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie spyt oor die boeke wat ek self gepubliseer het nie en ek het ook glad nie ’n probleem met skrywers wat self publiseer nie. Inteendeel, ek het ’n heilige respek vir die wat dit wel suksesvol deurvoer. Selfbemarking is egter nie my sterkpunt nie en van besigheid weet ek bitter min. Daarom het ek besluit om nie weer daardie roete te volg nie.

Nog twee van my kortverhale het die afgelope twee jaar in Huisgenoot verskyn en een van my kortverhale is ook in ’n gesamentlike bundel opgeneem. Ek het verlede jaar vir die eerste keer met erns my hand aan ’n gedig gewaag en was nogal verras dat die gedig ook in ’n gesamentlike digbundel opgeneem is.

Nou fokus ek al my aandag daarop om myself as erkende skrywer te vestig. (Hier staan en deel ek nou, baie senuweeagtig, ’n diep hartsgeheim!)

Ek het verlede jaar die moed bymekaargeskraap om in te skryf vir LAPA se Jeugromankompetisie en, alhoewel my verhaal nie die kortlys gehaal het nie, is ek ingelig dat dit wel op hulle langlys is en oorweeg word vir publikasie. Intussen het ek ook ’n kinderboek aan LAPA voorgelê, nog twee kortverhale aan tydskrifte gestuur en ’n verhaal vir PEN-Afrikaans se kortverhaalkompetisie ingeskryf.

Terwyl ek wag vir terugvoer op al die skryfstukke, skryf ek solank aan my volgende jeugverhaal wat ek wil inskryf vir die 2023 Jeugromankompetisie.

Soos julle dus kan sien, skryf ek vir ’n plek. En daar het julle dan nou sommer ook my skryfstorie tot dusver.

Soms wens ek dat ek sommer net weer vreesloos en met arrogante selfvertroue al die stories in my kop kon uitblaker soos wat ek dit as kind gedoen het. Maar die lewe leer mens om impulsiewe entoesiasme aan realiteit onderdanig te maak.

En daardie realiteit is dat niks wat die moeite werd is oornag ’n werklikheid word nie.

Ook nie ‘n mens se grootste droom nie.

Hartstaal

Vandag, 21 Februarie, is Internasionale Moedertaaldag. Hier is twee van my hartstaal gedigte. Die eerste gedig is verlede jaar opgeneem in Ink, Skryf in Afrikaans se bloemlesing, Inspraak 2. Mag jou hart steeds warm klop vir jou moedertaal.

My hart klop in Afrikaans

Van afkoms en tuiskoms, oor grense,
het jy die woorde gaan haal
en word dit jou taal.

Dit groei, haal asem en lewe,
word die woord van die dag,
ʼn magiese krag.

So word jy jou taal in wese,
Afrikaner is jy
en dit sal jy bly.

singtaal
leertaal
bidtaal
preektaal
word jou vegtaal 
ek-bestaan-taal.

Ek ken ook die liedjie
ek ken ook die dans.
My hart klop ook in Afrikaans.

© Madeleine Venter



hartstaal

hartstaal soos ʼn oseaan
branders breek hier waar ek staan
golf na golf wat oor my slaan

strome woorde trek my in
dieper – waar my hartstaal sing
en die stories vir my bring

na waar wondere gebeur
word ek verder meegesleur
sonder spartel of probeer

gee ek oor en laat dit spoel
totdat woorde in my woel
en ek al die klanke voel

© Madeleine Venter

Toeskouers

Hierdie verhaal is verlede jaar gekies vir publikasie in Kreatio se kortverhaalbundel, Komieklike Kortverhale. Lekker lees 🙂

Toeskouers

Milo hardloop oor die strand in die rigting van ʼn vinnig groeiende groepie mense langs die getypoel. Met my strooihoed in die een hand en my plakkies in die ander, hardloop ek benoud agterna.

Wie weet waarom die mense daar so saamdrom? Dit kan enige iets van ʼn bloublasie tot ʼn uitgespoelde lyk wees en my Milo is ewe vrolik op pad om sy neus ongenooid in hulle sake te gaan steek.

“Milo!” roep ek uitasem en tevergeefs.

Hy het die groepie mense bereik en dring hom nou so ewe stertswaaiend tussen die skare in.

“Milo!” roep ek weer en kry ʼn vuil kyk van die oom in wie se oor ek perongeluk skree. “Jammer, dis my hond, ag jammer,” glimlag ek verleë terwyl ek versigtig mense uit die pad uit stoot.

Uiteindelik voor, sien ek waaroor die bohaai gaan. ʼn Gesette tannie sit half weggesak in die nat sand met haar bene reguit voor haar uitgestrek. Eenkant staan haar tengerige eggenoot moedeloos en toekyk hoe sy tevergeefs probeer opstaan.

“Probeer tannie se bene buig,” stel een jong knaap voor. “Dit sal dalk makliker wees vir tannie om dan op te staan.”

“Vir die hoeveelste keer moet ek nou vir julle sê, ek kan nie beweeg nie!” kom die benoude antwoord. “Wat daarvan jy hou op slim wees en probeer my ophelp? Dalk is jy sterker as die man wat netnou probeer het,” sê sy, beskuldigend in die tengerige man se rigting.

Die jongman kyk desperaat na sy vriend wat met moeite sy lag binnehou. “Kom help my, man,” sis hy deur sy tande en gee hom ʼn klap teen die bors met die agterkant van sy hand.

Vol bravade hak die twee jongmanne hulle arms onder die tannie se elmboë in, kry vastrap plek in die sand en beur sodat jy net spiere sien bult. Maar tevergeefs. Nog ʼn paar mans kom hulle te hulp deur van agter af te probeer lig. Na ʼn rukkie se gespook en gestoei gee hulle egter moed op en gaan staan uitasem eenkant met rooi gesigte en gekrenkte ego’s.

“Ek stel voor ons grawe die nat sand onder die tannie uit en vervang dit met droë sand,” kom ʼn voorstel vanuit die skare. “Die nat sand is nou soos dryfsand waarin sy vassuig.”

“Of wat daarvan as ons haar probeer uitsleep?” kom ʼn volgende. “My beach buggy staan net hier anderkant geparkeer.”

“Ek weet! As die tannie gaan lê kan sy dalk probeer uitrol.”

“Nee man! Nou-nou het sy heeltemal weggesak en dan kry ons haar nooit weer nie!”

“Beter idee, kom ons wag vir die gety om in te kom. Dalk spoel die branders haar dan uit.”

“Ek dink nie dit sal werk nie. Sy mag dalk net sink.”

En so word die een idee na die ander tussen die groepie mense rondgeslinger terwyl die tannie se geduld al hoe minder word.

“Is daar nou wraggies niemand wat my kan ophelp nie?” vra sy vies.

ʼn Pa en sy twee seuntjies kom nader gedraf met ʼn lyfplank en nadat ʼn gat langs haar agterstewe gegrawe is, word die lyfplank soos ʼn hefboom onder haar ingedruk.

Hoopvol staan die skare nader en haar tengerige eggenoot klap sy hande dankbaar. “Wat ʼn goeie plan! Baie dankie!”

Skaars het hulle egter begin om die hefboom-teorie toe te pas, of daar is ʼn vreeslike kraakgeluid en die lyfplank breek in twee stukke. Een van die seuntjies begin hartverskeurend te huil. Die tengerige man belowe dadelik ʼn nuwe lyfplank terwyl die pa kopskuddend protesteer. Die knaap het nog een by die huis. Dit is glad nie vir die kind nodig om so te kere te gaan nie.

“Ek kon hulle vertel het dit gaan nie werk nie,” lig ʼn kenner ongenooid sy mening.

“Nee wat, ons sal moet hulp ontbied,” sê ʼn dame kopskuddend na ʼn oomblik van stilte, “moet een van ons nie maar die lewensredders gaan roep nie?”

“Dit lyk my so,” antwoord die tannie se man mismoedig. “Ons het al alles probeer wat ons kon.”

Milo het homself intussen tuis gemaak op die tannie se skoot. “Kan jy dit nou glo?” kla sy by hom. “Nie een van hierdie mense kan my ophelp nie!”

Milo blaf en gee haar ʼn paar simpatieke lekke onder die ken voordat hy van haar skoot afspring en opgewonde op die strand begin rondsnuffel. Dit is nie lank nie, of hy snuffel iets raak en begin verwoed in die sand te grawe.

“Jou hond grawe op die verkeerde plek,” sê ʼn mansstem met ʼn spotlag en ek kyk vies om.

Ek kyk my vas in ʼn mooi paar blou oë. Rondom die oë is vriendelike lagplooitjies en tussen die stoppelbaard ʼn aantreklike glimlag.

Vinnig sluk ek my viesgeid en glimlag terug. “Ja dit lyk my so, nè?”

“Ek het ook ʼn Yorky by die huis,” gesels die mooi man. “Hulle is baie karaktervolle honde.”

“Dit kan jy weer sê,” lag ek en skud my kop in Milo se rigting, waar hy nou al besig is met die derde gat. “Ek wonder waarom grawe hy so?”

“Seker agter ʼn krap aan,” sê die mooi man. “Dit gee darem die arme tannie iets om na te kyk terwyl sy sit en wag vir iemand om haar op te help.”

“Hoe lank sit sy nou al daar?” vra ek nuuskierig.

“Al ʼn hele rukkie,” antwoord hy. “Sy het hier langs die water gesit en kyk terwyl haar man geswem het. Nadat hy klaar geswem het en afkondig het dat hy nou honger is, wou die tannie natuurlik opstaan sodat hulle iets kan gaan eet, maar sy kon nie.”

“Het jý al probeer om haar op te help?” vra ek en loer so ongemerk as moontlik na sy bruingebrande, bo-arms.

“Nee,” grinnik hy, “ek verkies om ʼn toeskouer te wees.”

“O, natuurlik,” sê ek mymerend, “net nóg ʼn toeskouer. Dink jy nie daar is genoeg toeskouers nie?”

Met ʼn geamuseerde uitdrukking op sy gesig en sy kop effens skuins gedraai antwoord hy: “Ek weet wanneer dit tyd is om betrokke te raak.”

“En hoe weet jy dit?” vra ek en probeer om nie te diep in sy betekenisvolle kyk verlore te raak nie.

“Soms is dit wys om net eers seker te maak jou betrokkenheid gaan nie ongenooid wees nie,” antwoord hy, “uit respek uit.”

“Dis waar,” antwoord ek met ʼn knik, “dis eintlik nogal baie belangrik om seker te maak jy mag maar betrokke raak.”

“Presies,” glimlag hy, “veral as jy graag wil betrokke raak.”

Terwyl ek nog wonder of ek sy stelling reg interpreteer, begin die klein skare skielik lag en ek sien dat dit vir Milo is wat hulle so lag. Hy het die krap, waaragter hy so passievol aan gegrawe het, gekry en is nou besig om hom oor die sand te jaag. Met sy stertjie vrolik in die lug spring hy die kant toe en dan daardie kant toe terwyl die reuse krap benoud heen en weer hardloop, opsoek na ʼn gat om in te verdwyn. Milo is egter vasberade en die arme krap se kanse op ontsnapping raak al hoe minder.

Dan gewaar die krap sy uitkomkans… die groot gat wat by die tannie se agterstewe gegrawe is vir die lyfplank-reddingspoging. Met ʼn stinkspoed pyl hy op die gat af en verdwyn net betyds daarin.

Die tannie gee die allervreeslikste gil en skiet soos ʼn vuurpyl in die lug in op.

ʼn Geskokte stilte daal oor die groepie mense neer. Dan begin die mooi man skielik hande klap en almal volg sy voorbeeld. Ewe kordaat, gaan sit Milo en glimlag vir die mense, kompleet asof hy weet dat hy die held van die dag is.

Die tannie bly botstil staan terwyl daar opgewonde gelag en gesels word oor die gebeurtenis totdat almal, behalwe ek, Milo en die mooi man, weg is.

“Waarvoor is jy lus, Freek?” vra sy uiteindelik vir haar man wat nog nie die verbaasde uitdrukking op sy gesig kon afvee nie.

“Pizza,” antwoord hy versigtig, “ek is lus vir pizza.”

“Pizza?” kap sy met ʼn kwaai stem. “Daar gaan beslis nie vandag pizza geëet word nie. Ek is lus vir gebakte vis met slaai. Kom!”

Gedwee stem haar man in en die twee stap weg in die rigting van die seekos-restaurant.

“En jy?” vra die mooi man soos ons hulle staan en agterna kyk, “Waarvoor is jy lus?”

“Ekskuus?” vra ek, nog ʼn bietjie uit die veld geslaan.

“Wel,” lag hy, “jou hond het tot die tannie se redding gekom en ons moet dit darem seker vier met ʼn roomys of iets?”

Milo kom spring vrolik om sy voete rond en hy tel hom op. “Dink jy ook dis ʼn goeie plan, my brak?” vra hy vir Milo wat terug antwoord met ʼn sopnat lek oor die man se stoppelbaard.

Ek staan ʼn tree terug en bestudeer die prentjie voor my met aandag. Geen ring aan die vinger of in die neus nie. Nog geen grys strepe langs die slape nie. ʼn Oop, vriendelike gesig. En Milo hou van hom.

“Of wil jy eers nog ʼn rukkie net ʼn toeskouer wees?” vra hy met ʼn moedswillige pluk aan sy een mondhoek.

Ek voel ʼn blos by my nek opkruip en kyk vinnig weg. “Roomys sal lekker wees, dankie,” sê ek, “en ek is self nogal honger. Miskien kan ons eers iets gaan eet.”

“Pizza?” vra hy en ek lag.

“Ja, beslis pizza,” antwoord ek. “Sommer wegneemkos, dan kom sit ons hier op die strand en eet.”

“Goeie idee,” knik hy, “dan kan Milo saameet. Hy het immers hierdie dag op meer as een manier baie goed laat uitdraai.”

“Inderdaad,” sê ek en knipoog vir my hond.

Die einde

Tjomma

Agt jaar gelede het my kortverhaal, Tjomma, in Vrouekeur verskyn. Dit was my eerste gepubliseerde kortverhaal en ‘n groot mylpaal in my lewe. Ek deel graag vandag die verhaal met julle. Lekker lees!

Tjomma

Die twee ou lywe sukkel met hulle trollie verby ongeduldige jongmense en is net mooi goed op pad na hulle motor toe as Willem skielik, in die middel van die pad, gaan stilstaan.

 “En nou?” vra Bets. Seker weer die knie.

“Kyk,” fluister hy.

Bets kyk in die rigting waarin sy krom vinger wys. Sy sien net motors in die parkeerterrein. Ook nie juis iets besonders nie.

“Wat?” vra sy effens ongeduldig en vat die trollie by hom sodat hy tog net uit die pad uit kan kom.

“Dáár man,” draf-stap hy agter haar aan en kry haar aan die elmboog beet. Hy draai haar in ʼn rigting en wys weer met sy krom vinger. “Die Vollatjie!”

Sy loer oor haar bril na die vaalgroen Volkswagentjie wat trots en regop daar tussen die blink motors staan. Willem stap nader asof hy op heilige grond loop en sy volg hom met die trollie. Dan gee haar hart ʼn sprongetjie.

Sy slaan haar hand oor haar mond: “Willem? Dink jy dit is…?”

“Ja, dit is!” sê hy nou met ʼn breë glimlag, “dis Tjomma!”

Hy maak sy hande bak voor sy oë en loer deur die klein, dowwe ruitjie aan die bestuurder se kant: “Wraggies,” sê hy en stap dan om na die passasierskant toe. “Ja man, kyk, daar’s die rooiwynvlek nog!”

Die rooiwynvlek…

Sy onthou nog die lekker warm gevoel hier diep binne in haar toe ʼn eerstejaarstudent haar kom roep het. Groot-oog oor die belangrike meneer wat by die ingangsportaal van die koshuis kom vra het om vir haar, Bets de Lange te sien.

Hy was baie belangrik vir eerste-jaar studente, want hy was voorsitter van die studenteraad. Daarby was hy ook nog groot, sterk en aantreklik, met ʼn wolk van opwindende misterie om hom.

Skielik is sy weer terug in die koshuis. ʼn Sorgelose vierdejaar student. Sy het die vorige aand se huisgodsdiens gelei en was net op die punt om Abraham se dapper geloof te besing toe hy, saam met ’n paar lede van die studenteraad, onverwags daar ingestap gekom het.

“Gaan voort,” het hy met ʼn gebaar aan haar beduie terwyl die afgevaardigdes oop stoele tussen die verbaasde meisies gesoek het.

Met moeite het sy weer almal se aandag gekry en, ten spyte van haar droë mond, dit tog reggekry om haar boodskap oor te dra. Die heeltyd was sy bewus van sy geamuseerde blik op haar en dit het haar hart opgewonde vinniger laat klop. Na haar gebed het hy opgestaan en haar voor almal gekomplimenteer oor die pragtige boodskap.

Die volgende aand kom hy daar aan met Tjomma, ʼn olyfgroen Volkswagen. Splinternuut uit die boks.

“Ek het gewonder of jy my dalk sou kon help met ʼn toespraak,” verduidelik hy senuweeagtig nadat hulle gegroet het.

Dis vir haar wonderlik om te sien hoe hierdie belangrike man stotter en sluk hier voor haar. Hy is verlief. Die grote Willem van Buuren is op háár verlief! Na ʼn paar verleë laggies is hulle met Tjomma na ʼn koffie-winkel op pad. Die nuwekarreuk laat haar baie belangrik voel. Sy ken darem ook mans goed genoeg om te weet sy moet ten minste iets oor die spogkarretjie sê.

“Ek hou van jou kar,” sê sy en verlustig haar in die manier waarop sy blou oë ophelder.

Met trots verduidelik hy hoe hy op sy oom se plaas vir die varke gesorg het, elke vakansie, vandat hy twaalf jaar oud was en hoe hy elke sent gespaar het om eendag, as hy groot genoeg is, vir homself ʼn kar te kan koop. Hy het toe natuurlik nog nie genoeg geld gehad ná matriek nie en het oor naweke en vakansies hom byna doodgewerk by ʼn veearts. Uiteindelik, na baie swoeg en sweet kon hy nou, baie onlangs, vir homself hierdie Volkswagen koop.

Sy steek nie haar bewondering weg nie. En só, met sy ego gestreel en haar oë vol sterretjies, kom hulle by die koffie winkel aan. Hulle sluk die een koppie koffie na die ander weg, terwyl hulle gesels oor allesbehalwe sy toespraak.

As hulle uiteindelik weer terug is by Tjomma, wat geduldig daar onder die straatlamp staan en pronk, gee Willem weer ʼn verleë laggie en sê so ongeërg as moontlik: “Ek is nou nogal lus vir ʼn glasie rooiwyn.”

“O ja, dis ʼn goeie idee!” Sy is bly dat hy haar nie nou al wil gaan aflaai nie. “Waar dink jy kan ons dit kry?”

“Sommer hier,” kondig hy manhaftig aan en haal ʼn bottel rooiwyn en twee glase onder sy sitplek uit.

Sy voel gevlei dat hy eintlik ʼn romantiese aand vooruit beplan het. In ʼn vrolike luim ry hulle na ʼn hoogtetjie waar jy ver oor die liggies kan kyk en sy hou die glase vas terwyl hy skink.

Toe gebeur dit…

Hulle sit elkeen nog so, sonder woorde, die pragtige uitsig en geniet, as hy ewe skielik sy warm hand onder haar hare inskuif en haar saggies nader trek.

Skielik onthou sy al die riller stories van gebreekte harte oor ʼn gesoenery op die eerste aand en, voordat sy nog mooi self weet wat, ruk sy haar kop weg. Met soveel beslistheid, dat die helfte van haar wyn oor die rand stort.

“Ek is jammer,” begin hy verbouereerd verskoning maak, “ek weet nie wat oor my gekom het nie, dis net dat…”

Sy woorde droog skielik op en sy blik verstar op ʼn donker kol teen die roomkleurige sitplek langs haar been.

“O genade!” is al wat sy kan sê.

Paniekerig begin hy met ʼn sakdoek aan die kol vryf.

“Wag jy vryf hom net dieper in,” sê sy en probeer die sakdoek by hom vat om te wys hoe dit gedoen moet word.

Maar hy ruk sy hand vies weg: “Los liewer,” sê hy met ʼn diep stem en gooi die res van sy wyn by die venster uit.

Sy doen maar dieselfde, met trane wat agter haar oë brand.

Sonder ʼn verdere woord skakel hy die enjin aan. Die pad terug koshuis toe voel baie lank en die hele tyd moet sy aan haar trane sluk. Uiteindelik daar, hou hy die deur vir haar oop en waai haar flou verskoning met ʼn kwaai hand weg. Toe klim hy terug in Tjomma en jaag soos donderweer daar weg.

Daardie aand het sy gehuil en haar lot by ’n simpatieke kamer-maat bekla. Vir die res van haar lewe sou sy eensaam en ongelukkig wees, want sy het dáárdie kans, wat net eenmaal in ʼn jongmeisie se lewe opduik met ʼn wynvlek opgemors!

Willem skud sy kop ongelowig, met dieselfde glimlag van netnou nog steeds op sy gesig: “Ek kan nie glo dat die ou karretjie na soveel jare nou skielik hiér opduik nie!”

“Ja, dis ongelooflik. Ek wonder aan wie hy nou behoort,” wonder sy.

Hy kom met ʼn kreun regop en stap vir die soveelste keer om die karretjie met een hand op sy seer rug. “Mooi opgepas,” sê hy tevrede, “nie eens ʼn ou krapmerkie nie.”

Hulle het net ná die tweeling se geboorte besluit om vir Tjomma te verkoop. Dit was ʼn hartseer affêre, maar hulle het ʼn groter motor nodig gehad. Tjomma was vrykar, troukar, boukar en trekkar. Nooit het hy hulle in die steek gelaat nie. Nie toe hy sakke sement moes aanry na die erf waar hulle eerste huis gebou is nie, en ook nie toe hy deur Pretoria se strate met noodligte aan moes jaag omdat die seuns besluit het hulle kom drie weke vroeër nie!

Met Tjomma het hulle letterlik hulle toekoms ingery.

Ná hom was daar nog drie huise en vyf motors. Vier honde, twaalf skool- en vier universiteitsjare. Een groot partytjie en twee troues. Daar was vakansies en bloedsweet, geboortes en begrafnisse, vrede en rusies.

Daar was ʼn hele lewe wat met Tjomma en ‘n rooiwynvlek begin het.

Willem kom sit sy arm om haar lyf en sy laat sak haar kop op sy skouer. Om al twee se lippe speel ʼn glimlag van soete herinnering.

“Jy weet,” se Willem, “daardie vlek het my laat besluit om met jou te trou.”

Hy wag vir haar om te sê: “O regtig?” soos wat sy ook al eenkeer, baie jare gelede, op daardie einste stelling gesê het.

“Ja,” gaan hy voort, “as jy my daardie eerste aand terug gesoen het, sou jy nie die meisie gewees het wat ek gehoop het jy is nie!”

“Dan is ek bly oor die vlek,” antwoord sy.

Hulle draai met ʼn laaste kyk om en stap stadig oor die parkeerterrein. Saam-saam stoot hulle die trollie tot by ʼn blink-grys Jaguar in die volgende ry motors.

“Ek is bly dat die vlek nog steeds daar op die sitplek is,” sê sy soos hulle wegry.

“Ja, ek ook,” antwoord hy, “dit was goed om dit weer te sien.”

Die einde

Ek is Syne

Jy sal onthou dat ek so ’n rukkie terug vertel het hoedat ek die moed bymekaargeskraap het om vir ’n digkompetisie in te skryf. Dit was juis hierdie brawe stap wat my laat besluit het om ’n digbundel aan te pak. Nou wonder jy seker wat  van die kompetisie geword het, nè? Wel, kom ek bring jou op hoogte en deel  dan sommer terselfdertyd ook ’n lessie wat die Here my geleer het uit hierdie ervaring.

INK Skryf in Afrikaans het altesaam 1560 inskrywings ontvang waarvan hulle 616 gedigte gekies het vir publikasie in hulle bloemlesing, Inspraak 2.  Die wenners word eers in November hierdie jaar aangekondig tydens die gala-aand.

My gedig, My hart klop in Afrikaans, is een van die wat opgeneem gaan word in hulle bloemlesing! Dit is vir my persoonlik ‘n baie groot prestasie en ook ‘n ongelooflike groot eer.

Nog groter, was egter dit wat ek geleer het n.a.v. wat gebeur het net voordat ek hierdie wonderlike nuus ontvang het. Kom ek vertel…

INK het ook ‘n Facebook-groep waarvan ek deel  is. Een middag maak ek die groep oop en daar sien ek ’n aankondiging boaan die bladsy waarin die wenners van die digkompetisie bekend gemaak word en die organiseerders bedank word vir die pragtige aand. My hart sak sommer in my skoene. ‘n Mens neem mos maar aan ’n kompetisie deel met ’n verwagting.

Hoe hard ek ook al myself probeer troos daarin dat ek nie te veel van my eerste digkompetisie kon verwag het nie, is dit tevergeefs. Moedeloosheid begin groei in my hart en voor ek weet besluit ek dat ek nie ’n digter se sout werd is nie en sak ek weg in ‘n donker put van selfbejammering. Die put word ’n maalkolk wat my dieper insuig totdat ek oortuig is daarvan dat ek liewer my patetiese poging om te skryf heeltemal moet opgee en dat ek oor die algemeen eintlik maar ’n nul op ’n kontrak is.

Toe is dit asof die Heilige Gees in my hart fluister: “Wie is jy nou weer?”

En net daar tref dit my soos ‘n baksteen teen die kop: Ek is besig om my identiteit op die fondasie van my skryfwerk te bou en nie op Christus nie!

Ek het onmiddellik hardop bely dat ek heel eerste, boweal, ‘n kind van God is. Gekies, gekoop en gemerk. Ek behoort aan Hom. My vreugde lê daarin en nie in my sukses as skrywer of op enige ander gebied in my lewe nie. My lewe behoort aan die Here.

Later daardie middag kry ek sowaar ‘n e-pos met ‘n amptelike brief wat my meedeel dat my gedig gekies is vir publikasie, asook ’n uitnodiging na die gala-aand.

Jy kan seker net dink hoe verbaas ek was!

Het ek my dan die aankondiging op Facebook verbeel?

Natuurlik gaan soek ek die aankondiging en raai wat? Ek kry hom nie. Wat ek toe wel besef, is dat Facebook sommerso rond en bont aankondigings uit die argiewe van groepe gaan haal en dan boaan bladsye plaas. Dit wat ek gesien het, was dus heel waarskynlik die wenners van ’n vorige jaar!

Die hele gebeurtenis het my net weer bietjie perspektief gegee en my gedwing om my prioriteite te orden.

Plaas God eerste en die res sal volg soos dit moet en volgens Sy wil – want Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom lief het.

Wees geseën

Madeleine

Voorsmakie

Ek weet dit klink soos ʼn cliché, maar sonder dat ek dit so beplan, word elke gedig ʼn getuienis van God in my lewe. Hy is my God en ek behoort aan Hom. Daarom kan dit nie anders nie.

Soos wat ek in my vorige plasing aangekondig het, is ek nou druk besig met gedigte skryf vir die beloofde digbundel.

Hier is so ʼn voorsmakie van wat sover al in die digbundel gaan verskyn:

roes

alleen 
in jou probeer verstaan
gee jou glimlag sluk jou traan

veg
vir nog ʼn weer probeer
rek jou hartspier om die seer

hoop
op daardie nuwe kans
loop die stofpad soos ʼn dans

bid
die roes uit jou gestel
sit die las neer en vertel

saam
sit Iemand wat verstaan
dra jou pyn en tel jou traan

© Madeleine Venter 2021


Storm

Weer ʼn storm
nog ʼn keer
groter branders
dieper seer.

Donker tree aan
winde skree
dieptes sak weg
in die see

van die mensdom
met die stank
wat uit hulle
harte rank.

Dan hoor ek
ʼn stem so stil
harder as
die hele spul:

Bedaar

Golwe val plat
donker vlug
ranke verdor
winde sug.

Die Een wat
in my, om my praat
het die storm
stil kom maak.   

© Madeleine Venter 2021
bloeisels

in die grond gelê en vrot
op die roepstem draai my lot
baklei teen slik en modder tot
ranke uitsprei en ek bot
bloeisels
vrugte
vir my God

© Madeleine Venter 2021
Verskroeide aarde

Onder dooie, grys as
van iets wat was
besluip lewe jou nood
ʼn oorwinning oor dood
in nuwe-groen kleur
die wonder gebeur
staan op uit die roet
die dag tegemoet.

© Madeleine Venter 
 

Kom ek vertel vir jou ‘n storie…

“Vertel vir my ‘n storie, asseblief!”

Ek is seker daarvan al die mammas en pappas, wat hier lees het al daardie woorde gehoor. Kinders hou van stories. Hulle hou van stories lees, stories hoor, stories kyk, stories vertel. 

Om die waarheid te sê, die beste manier om moeilike konsepte aan kinders – en grootmense – te verduidelik is met behulp van ‘n storie. 

Omtrent vyf jaar gelede het ek dus besluit om ‘n kinderboek te skryf. Die boek se naam was Skaperjolle en het gehandel oor twee skapies, Sonia en Timmy, wat deur hulle elke dag se kaperjolle nuwe konsepte leer oor die Vrug van die Gees. 

Vir jare lank het hierdie boek egter vergete gebly op my rekenaar se hardeskyf. Van kinderboeke publiseer het ek niks geweet nie en kontakte het ek ook nie gehad nie. Dit was ‘n groot berg voor my. Waar kry ek illustrasies vir die boek? Hoe doen ek die uitleg? Waar laat ek dit druk?

Al hierdie vrae – en nog ‘n paar waarvan ek oorspronklik nie geweet het nie – se antwoorde het egter so stuk-stuk na my toe gekom deur die Here se leiding en toe ek weer sien sit ek met die boek in my hande!

Omdat die boek opgedra is aan al die kinders van ons familie, waarvan my susterskind Engels is, en ook om meer mense te bereik, het ek besluit om die boek in Engels uit te gee as Little Lambs Learning about Fruit of the Spirit.

‘n Paar maande later maak die Here my drie-uur een oggend wakker en wys vir my Es. 34:11-24. Dit was ‘n stuk in die Bybel wat ek nog nooit voorheen gelees het nie, wat handel oor God wat as Goeie Herder optree vir sy volk. Daar is soveel ooreenkomste tussen hierdie gedeelte en Joh. 10, dat ‘n mens maklik tot die slotsom kan kom dat Jesus na Es. 34:11-24 verwys het toe Hy homself as die Goeie Herder verklaar het. 

“Here,” het ek gebid, “as U hiermee vir my sê om nog ‘n Little Lambs Learning boek te skryf, gee asseblief vir my nog ‘n teken.”

Daardie volgende oggend het ons teruggery huis toe na ‘n seevakansie. Terwyl ons so ry, merk ek langs die pad ‘n klein bordjie op so half in die middel van nêrens. En op die bordjie staan daar geskryf: “Little Lambs of His Flock”.

My hart het amper by my keel uitgespring. Hoekom? Wel, voordat die boek Little Lambs Learning geword het, was dit Little Lambs of His Flock!

Dit was my teken en ek het sommer dadelik weggespring met die tweede boek, Little Lambs Learning some Proverbs.

Die tweede boek was nog nie eens uit nie toe mense my begin vra het vir Afrikaanse weergawes van die twee boeke. Dus het ek skouer aan die wiel gesit met ‘n blye hart. Uiteindelik sou Skaperjolle die lig sien!

So kon ek toe uiteindelik hierdie twee boeke aan my lesers bekend stel:

Albei boeke se voorwoord is deur dr. Gerrie v. Deventer geskryf.
Hierdie boeke kan bestel word vanaf ons aanlyn-winkel.

Baie dankie aan almal wat my aangemoedig het. Dankie vir die ondersteuning en mooi getuienisse wat ek reeds ontvang het van diegene wat die boeke gekoop het.

Maar bo alles, baie dankie aan my hemelse Vader wat my toelaat om stories vir Sy skapies te skryf.

My gebed is dat hierdie stories sal wortelskiet in klein hartjies en eendag ‘n groot oes sal oplewer vir ons Goeie Herder.

Wees geseënd

Madeleine

My kortverhaal in Huisgenoot!

Jare gelede, in 2014 om presies te wees, is ‘n kortverhaal van my vir die eerste keer in ‘n tydskrif gepubliseer. My hart het sommer baie warm geklop toe ek my storie “Tjomma” tussen die blaaie van die Vrouekeur sien.

Laat ek net verduidelik waarom ek rede gehad het om die gebeurtenis te vier: Dit is glad nie maklik om jou kortverhaal in ‘n tydskrif te kry nie. Voor “Tjomma” was daar baie stories wat dit nie gemaak het nie en na “Tjomma” nog baie meer.

So skraap ek toe maar weereens moed bymekaar, stuur ‘n storie aan Huisgenoot en hoop vir die beste.

Vir vyf maande hoor ek niks van hulle af nie.

Te verstane, besluit ek, daar word immers honderderde stories vir hulle gestuur.

Een middag uit die bloute ontvang ek egter ‘n e-pos en ‘n week later pryk “Tweede Kanse” in Huisgenoot se 10 Junie uitgawe. Wat ‘n aangename verrassing!

Ek is baie dankbaar teenoor Huisgenoot dat hulle my storie ‘n kans gegee het en hoop dat daar nog vele meer sal wees.

Ek is dankbaar teenoor die Here vir elke deur wat Hy vir my oopmaak.

En dankbaar teenoor almal wat my skryfwerk ondersteun.

Duisende dankies!

Groete

Madeleine

Bly op datum met plasings: