Ek het hierdie jaar weer deelgeneem aan INK se dig- en skryfkompetisie. Hierdie keer was ek dapper, en het ek sommer drie gedigte en twee kortverhale ingestuur. Al drie gedigte en die twee kortverhale is opgeneem in die twee bloemlesings: Inkspraak 3 – Kortverhale en Inkspraak 3 – Volwasse Digters. Ek het ook ’n eervolle vermelding vir die kortverhale ontvang.
Aangesien ’n paar mense my nou al gevra het, het ek dit goedgedink om dit op my blog te plaas vir die wat graag my inskrywings wil lees. Deelnemers word darem toegelaat om hulle skryfwerk, wat in die bloemlesings opgeneem word, ook elders te publiseer.
Vandag gaan ek die drie gedigte hier plaas. Binnekort volg die twee kortverhale om die beurt.
Hoop jy lees lekker …
behoort
in die skadu
waar ek skuil
van Sy vlerke
kan ek huil
kan ek woedend
hardop skree
selfs my diepste
hartseer gee
waar ek stil kan word
sit terug
met geen woorde
net ʼn
sug
hier is ek
dis hoe ek lyk
dis wat ek doen
dis wie ek is
ek gaan nie minder ék wees
vir jou nie
want sien
ek’s meesterstuk in wording
wyl my Skepper oor my sing
weggesteek
nee, jy weet nie
hoe my dink vasdraai
soos stywe gewrigte
en ek nie weet
wat om te bid nie
jy verstaan nie
hoe alleen mens voel
wanneer pyn kom saamstap
en by jou bly
en langs jou sit nie
ook weet jy nie
dat my hart kan huil
terwyl ek glimlag
en vir jou sê:
‘Ja, als gaan goed,’ nie
Vandag, 21 Februarie, is Internasionale Moedertaaldag. Hier is twee van my hartstaal gedigte. Die eerste gedig is verlede jaar opgeneem in Ink, Skryf in Afrikaans se bloemlesing, Inspraak 2. Mag jou hart steeds warm klop vir jou moedertaal.
Jy sal onthou dat ek so ’n rukkie terug vertel het hoedat ek die moed bymekaargeskraap het om vir ’n digkompetisie in te skryf. Dit was juis hierdie brawe stap wat my laat besluit het om ’n digbundel aan te pak. Nou wonder jy seker wat van die kompetisie geword het, nè? Wel, kom ek bring jou op hoogte en deel dan sommer terselfdertyd ook ’n lessie wat die Here my geleer het uit hierdie ervaring.
INK Skryf in Afrikaans het altesaam 1560 inskrywings ontvang waarvan hulle 616 gedigte gekies het vir publikasie in hulle bloemlesing, Inspraak 2. Die wenners word eers in November hierdie jaar aangekondig tydens die gala-aand.
My gedig, My hart klop in Afrikaans, is een van die wat opgeneem gaan word in hulle bloemlesing! Dit is vir my persoonlik ‘n baie groot prestasie en ook ‘n ongelooflike groot eer.
Nog groter, was egter dit wat ek geleer het n.a.v. wat gebeur het net voordat ek hierdie wonderlike nuus ontvang het. Kom ek vertel…
INK het ook ‘n Facebook-groep waarvan ek deel is. Een middag maak ek die groep oop en daar sien ek ’n aankondiging boaan die bladsy waarin die wenners van die digkompetisie bekend gemaak word en die organiseerders bedank word vir die pragtige aand. My hart sak sommer in my skoene. ‘n Mens neem mos maar aan ’n kompetisie deel met ’n verwagting.
Hoe hard ek ook al myself probeer troos daarin dat ek nie te veel van my eerste digkompetisie kon verwag het nie, is dit tevergeefs. Moedeloosheid begin groei in my hart en voor ek weet besluit ek dat ek nie ’n digter se sout werd is nie en sak ek weg in ‘n donker put van selfbejammering. Die put word ’n maalkolk wat my dieper insuig totdat ek oortuig is daarvan dat ek liewer my patetiese poging om te skryf heeltemal moet opgee en dat ek oor die algemeen eintlik maar ’n nul op ’n kontrak is.
Toe is dit asof die Heilige Gees in my hart fluister: “Wie is jy nou weer?”
En net daar tref dit my soos ‘n baksteen teen die kop: Ek is besig om my identiteit op die fondasie van my skryfwerk te bou en nie op Christus nie!
Ek het onmiddellik hardop bely dat ek heel eerste, boweal, ‘n kind van God is. Gekies, gekoop en gemerk. Ek behoort aan Hom. My vreugde lê daarin en nie in my sukses as skrywer of op enige ander gebied in my lewe nie. My lewe behoort aan die Here.
Later daardie middag kry ek sowaar ‘n e-pos met ‘n amptelike brief wat my meedeel dat my gedig gekies is vir publikasie, asook ’n uitnodiging na die gala-aand.
Jy kan seker net dink hoe verbaas ek was!
Het ek my dan die aankondiging op Facebook verbeel?
Natuurlik gaan soek ek die aankondiging en raai wat? Ek kry hom nie. Wat ek toe wel besef, is dat Facebook sommerso rond en bont aankondigings uit die argiewe van groepe gaan haal en dan boaan bladsye plaas. Dit wat ek gesien het, was dus heel waarskynlik die wenners van ’n vorige jaar!
Die hele gebeurtenis het my net weer bietjie perspektief gegee en my gedwing om my prioriteite te orden.
Plaas God eerste en die res sal volg soos dit moet en volgens Sy wil – want Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom lief het.
Ek weet dit klink soos ʼn cliché, maar sonder dat ek dit so beplan, word elke gedig ʼn getuienis van God in my lewe. Hy is my God en ek behoort aan Hom. Daarom kan dit nie anders nie.
Soos wat ek in my vorige plasing aangekondig het, is ek nou druk besig met gedigte skryf vir die beloofde digbundel.
Hier is so ʼn voorsmakie van wat sover al in die digbundel gaan verskyn:
Laat ‘n boodskap