Om te dink

“Gee my tyd om daaroor te dink”

Ja, dit is moontlik om vinnig op jou voete te dink en te reageer. Dit is egter daardie tipe dink wat tyd nodig het waaroor ek vandag wonder. Daardie diep-en-lank-tipe-dink. En ek wonder… wanneer laas het ek tyd gemaak daarvoor?

In my jonger dae kon ek vir ure net so sit en dink. Nou mis ek daardie dae.

Wat het dan intussen gebeur?

Wel, deesdae as ek ʼn oomblik het, trek ek my foon nader en voor ek my kon kry, het ek vir ʼn halfuur gesit en tyd mors op sosiale media. Dan is daar ook die skuldgevoel wat alewig aan jou knaag as jy mamma, eggenoot en werknemer is. Daar is altyd iets wat gedoen moet word en vir stilsit en dink is daar nie tyd nie. Almal en alles plaas druk op jou om dadelik te reageer.

Waarom word mense deesdae nie meer tyd gegun om oor iets te dink nie? Jy moet nóú besluit of jy daardie kontrak wil uitneem – sommer oor die foon – en jy moet nóú besluit of jy daardie projek wil bestuur of nie.

Tog is die vermoë om te kan dink van kardinale belang vir die mens se voortbestaan. Dit is tog immers wat ons ʼn stappie bokant ons vierpotige soogdier-familie plaas, nie waar nie?

Dit is juis tydens daardie dink-tye wat probleme opgelos en emosies uitsorteer word.

En ek glo dit is ook tydens daardie stil word en dink tye wat ons wysheid van bo kry (Ps. 71:17; Ps. 32:8; Ps. 16:7; Spr. 2:6; Spr. 9:10). Miskien is dit die rede waarom ons beroof word van die tyd om te dink.

In hierdie jaar wat voorlê gaan ek aandring op dink-tyd en kwaai wees met myself daaroor.

Ek wil dink oor wat ek lees en dink oor wat ek hoor. Ek wil dink voordat ek antwoord en dink voordat ek doen. Ek wil tyd maak om te dink oor my lewensdoel en die skeppingswonder wat my omring.

Ek gaan tyd maak om te dink.

En ons wag…

En so wag ek al weer. Nog steeds.

Dit voel soms vir my asof ek my lewe om wag.

Ek het iewers gelees dat matrose briewe onder ʼn klip ‘gepos’ het voor Jan van Riebeeck se tyd. Die skepe wat dan op hulle roete na en van Indië af hier stop, sou die briewe vat en saamneem om aan die geadresseerdes te gaan afgee. Daar was geen waarborg dat jou brief sy bestemming sou bereik of dat jy ooit ʼn antwoord daarop sou kry nie. Jy moes maar wag en kyk.

Ek het dus eintlik geen rede om te kla oor die gewaggery in hierdie moderne era nie, maar nogtans hou ek nie daarvan nie.

Mens wag in toue en spreekkamers. Wag vir aflewerings. Wag vir antwoorde. Terugvoer. Uitslae. Wag vir ʼn vakansie. Wag vir betaling. Wag vir beter voel. Wag vir dinge om terug te keer na normaal.

Wag vir inspirasie. Wag vir leiding. Wag vir iemand om uiteindelik die lig te sien. Wag vir daardie droom om waar te word. Wag en wag en wag.

En terwyl jy wag, doen jy maar solank die volgende ding waarvan die uiteinde heel waarskynlik ook ʼn gewaggery gaan wees.

Die lewe bestaan heel duidelik uit wag. En ek wonder… is dit nie eintlik waaroor die hele saai en oes konsep maar gaan nie?

Die afrikanertjies wat ek twee jaar gelede in my tuin gesaai het, het hierdie jaar eers opgekom. Hoekom, weet ek nie. Die sonneblomme nou weer, wat skaars ʼn maand gelede in die grond gedruk is, staan reeds amper ʼn halwe meter hoog.

Jy saai. En jy weet jy sal moet wag voor jy kan oes. Vir sommige dinge moet jy langer wag as vir ander en jy weet nie altyd hoekom nie. Maar een ding is vir seker: jy gaan nie oes op dieselfde tyd wat jy plant nie.

Ek dink dit is dalk juis hierdie onvermoë om te wag vir die regte tyd wat die oorsaak is van meeste dinge wat verkeerd gaan in ons lewens. Mens wil vinnig ryk word. Vinnig gesond word. Vinnig sukses behaal. En dan vat mens kortpaaie. As die deur nie dadelik oopgaan nie, dan breek jy hom af. En as die Here nie dadelik ʼn antwoord gee nie, dan volg jy jou eie kop. Net soos wat die vleis van diere wat ʼn klomp groeihormone ingegee word nadele vir ons inhou, net so is dit nadelig om ʼn ding te wil laat gebeur as die tyd daarvoor nog nie reg is nie.

Daar word nogal baie in die Bybel oor die bestemde tyd gepraat. Hier is ʼn paar Skrifgedeeltes wat vir my uitstaan:

‘Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. ‘

GALASIËRS 6:9

‘Nou het Hy op die bestemde tyd sy woord bekend gemaak deur die prediking wat as opdrag aan my toevertrou is deur God ons Verlosser. ‘

TITUS 1:3

‘Goue appels wat in silwer gemonteer is, so is die regte woord op die regte tyd. ‘

SPREUKE 25:11

‘Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. ‘

PSALMS 1:3

Lees sommer ook: Jes.49:8, Lukas 12:40, Rom. 5:6, 1 Tim. 2:6, Lev. 26:4, 1 Pet 5:6 en 2 Kor. 6:2 wanneer jy ʼn kansie kry.

Hierdie gedeeltes sê vir my dat ons geduldig moet wag vir die bestemde tye. Tye wat ingestel is vir ons beswil. Dit gaan oor vertroue in God se goedheid.

So, wat maak mens nou terwyl jy wag?

Vir my maak dit logies sin dat daar gegroei moet word. ʼn Saad moet tog ontkiem en dan groei voordat daar ʼn oes kan wees.

Daarom het ek besluit dat, in plaas daarvan om die wag tye om te kla, ek eerder daardie energie gaan gebruik vir groei.

Ek hoop ek kon, met hierdie plasing, jou ook motiveer om dieselfde te doen.

Groete

Madeleine

Jou lewe is ‘n droom

Het jy al ooit daaraan gedink dat jy besig is om iemand se droom te leef?

Selfs al voel jou lewe nie soos ʼn droom nie, vir iemand anders sou jou lewe die wonderwerk gewees het waarvoor hulle bid.

Dit klink nou alles baie soetsappig en nogal bietjie soos ʼn cliché, ek weet. Maar dit is ʼn gedagte wat kort-kort by my opkom deesdae en ek voel ek moet dit deel.

Het jy ʼn dak oor jou kop? Iemand sit in die reën vandag en droom oor daardie dak.

Het jy kinders wat om jou lag en speel? ʼn Kinderlose sit nou en huil omdat die huis stil is.

Het jy ʼn sielsgenoot aan jou sy? Iewers wag iemand nog daarvoor, of het hulle daardie sielsgenoot dalk al verloor.

Het jy vanoggend in jou eie bed wakker geword? Sommige se oë het vanoggend in ʼn hospitaal of ʼn tronksel oopgegaan.

As ʼn mens só oor jou lewe dink, dan besef mens jy het eintlik geen rede om ooit jouself jammer te kry nie.

Vir wat moet ons alewig wens vir meer en beter?

Ek sê nou nie jy moet heeltemal ambisieloos deur die lewe gaan en nie streef na meer en beter nie. Nee. Ek dink die idee is om vreugde in jou hier en nou te vind en nie te wag tot jy meer of beter het voor jy daardie vreugde ervaar nie. Soos wat Nightbirde tereg in ons almal se harte in gepraat het: “You can’t wait until life isn’t hard anymore before you decide to be happy.”

Want dit wat jy het, is iemand anders se meer en beter. Dalk selfs báie meer en beter as wat hulle ooit voor kan hoop. Ja, selfs die dinge wat jou soms kopseer gee en jou bloeddruk opjaag. Stoute kinders is darem kinders en vuil wasgoed is darem klere. Skottelgoed is vuil omdat daar kos in was en ʼn moeilike baas beteken jy het ʼn werk.

‘Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. ‘

1 TESSALONISENSE 5:16-18

So, daarom is ek dan nou dankbaar daarvoor dat ek hierdie kon skryf en dankbaar teenoor jou wat hier lees en sommer net dankbaar vir die lewe wat ek het.

Baie dankie 🙂

Groete

Madeleine

Passop vir die mos-feite

Ons almal ken dit goed. Die mos-feite. Hulle klink min of meer so:

“Daardie persoon is mos eintlik van die pad af…”

“So en so se huwelik is mos op die rotse…”

“Daardie kerk is mos eintlik besig met dwaalleer…”

“Die covid-intenting is mos eintlik die merk van die dier…”

“Daardie pastoor het mos jare reeds ʼn drankprobleem…”

En omdat daar ʼn mos vooraan is, word dit nou ʼn feit soos ʼn koei en moes jy dit mos eintlik geweet het. Maar nou weet jy en kan dit gerus ook maar oordra. Moet net nie die mos uitlaat nie.

Getrou dra jy die mos-feite oor aan die volgende persoon en voel sommer baie slimmer as die arme mens wat nie geweet het dit is mos so nie. Want hierdie is mos eintlik algemene kennis.

Die probleem met mos-feite is dat dit baie selde feite is. Meeste van die tyd is dit niks anders as skinderstories of sameswerings nie. 

Ek het deur die jare geleer dat die mense wat so lief is vir die woord mos, gewoonlik ook diegene is wat my wil laat verstaan dat hulle slimmer of meer op datum met die lewe as ek is.

Jesus waarsku ons in Mat 12:36 dat ons eendag sal moet rekenskap gee oor ligsinnige woorde. Mos-feite.

As ʼn volgeling van Jesus Christus, moet dit wat jy praat die waarheid wees en moet dit goed en opbouend wees. (Eph. 4:25, 29)

Woorde kan nie teruggetrek word nie. As dit uit is, is dit uit.

Iemand neem dalk ʼn lewensbelangrike besluit op grond van die mos-feit wat jy so oortuigend oorgedra het. Of ʼn vriendskap word beëindig as gevolg van jou mos-feite. Iemand verlaat dalk die Kerk waar God haar geplaas het, of mis die boodskap wat God hom wou gee omdat jou mos-feite hulle laat twyfel in die kerk en die prediker. Eendag sal jy moet rekenskap gee oor hierdie mos-feite.

Moet dus nie toelaat dat mos-feite jou intimideer nie. Moet dit ook nie sommer net oordra nie.

Praat eerder net die waarheid en los die mos uit.

Groete

Madeleine