Moenie net sink nie

Dis makliker om op te gee.

Gaan lê is minder moeite as bly staan.

Om verbitterd te wees kom meer natuurlik as om te vergewe.

Hoe sterker die maalkolk is, hoe minder krag het jy om te bly spartel. Te bly staan. Te vergewe.

En dan gee jy op.

Ek glo persoonlik dat dit een van die duiwel se grootste wapens teen ’n mens is – om jou so mismoedig en moeg te maak dat jy uittree. Gaan lê. Heeltemal opgee.

As golf na golf oor jou breek. As elke probeerslag ’n terugslag is. As elke keer wat jy hoop uitloop op teleurstelling. Dis wanneer dit baie makliker is om op te hou spartel en te sink.

Dis maklik om op te gee. Enige iemand kan dit doen. Maar jy is nie sommer enige iemand nie.

Jy het ’n God na wie jy kan uitroep.

‘Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom. Ek het weggesak in diep modder waarin ek nie kan staan nie. Ek het in diep waters beland waarin die stroom my meegesleur het… Red my uit die modder, dat ek nie wegsak nie, laat my wegkom van my vyande af, weg uit die diep waters. Moenie dat die stroom my meesleur en die diep water my insluk nie, en moenie dat hierdie put toegaan bokant my nie. Antwoord my, Here, in u wonderlike liefde, verhoor my in u groot barmhartigheid! ‘

PSALMS 69:2-3,15-17

Hy sal sy hand uitsteek en jou red. Jou uit die modder uittrek. Hy sal nie die put bokant jou laat toemaak nie. Hy sal jou uitlig, jou op ’n rots neersit, en op vaste grond laat loop.

‘Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ‘n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my ‘n nuwe lied in die mond gelê, ‘n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou! ‘

PSALMS 40:2-4

Jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee.

Moenie opgee nie.

Hierdie tempel

‘Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.’

1 KORINTIËRS 6:19-20

Hierdie is een van daardie gedeeltes in die Bybel wat ’n mens so baie hoor, dat jy dit eintlik nie meer hoor nie.

Dit het egter onlangs vir my nuwe betekenis gekry toe ek in 2 Kronieke gaan lees oor Salomo se tempel.

Salomo het pas die tempel wat hy laat bou het aan God gewy en ’n kragtige gebed tot God gerig. ‘Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul. ‘ 2 Kron. 7:1.

En toe antwoord Hy Salomo in ’n droom met hierdie woorde:

‘Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal geniet. ‘

2 KRONIEKE 7:15-16

Is dit nie wonderlik nie?

Net so, het God ons ook gekies, vir Homself afgesonder, en sy Naam vir ons gegee (Ef. 1:4; 2 Kor. 1:21-22; Joh. 15:16; Kol. 3:17).

Hy sorg vir ons en luister na ons gebede (Mat. 6:26; Jak. 5:16; Mat. 21:22; Mark. 11:24).  

En ons weet dat ons altyd verseker kan wees van sy liefde vir ons (Rom. 8:38-39).

Maar vir my, is die wonderlikste gedagte, dat die Heilige Gees God se magtige teenwoordigheid is wat ons vul – net soos wat Hy die tempel destyds gevul het!

Ek wil myself sien soos wat God my sien. Hy het my gekoop en die prys is betaal. Ek is sy kosbare tempel.

Mag hierdie tempel altyd ’n plek van aanbidding wees.

Niks

Sy Woord kon mens word en onder ons kom woon – dieselfde Woord wat in die begin daar was. By God. Self God. Waardeur alles tot stand gekom het. Die lewe. Die Lig. Daardie Woord.

Niks is vir God onmoontlik nie.

God kon Homself offer vir sy skepping – die volmag om sy lewe neer te lê en dit weer op te neem. Volbring. Versoen. Vergewe.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Hy kan jou roep. Jou weer gebore laat word. Jou beseël as sy eiendom. Jou deel maak van sy koninkryk. Sy Gees in jou laat woon.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Die almagtige God kan jou nuut oormaak. Meesterstuk. Toegerus vir die goeie werk wat Hy spesiaal vir jou beplan het.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Daar is genesing. Beskerming. Leiding. ’n Plan. ’n Toekoms. Alles wat ten goede meewerk.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Hy gaan weer kom. Regverdig oordeel. Die vyand finaal verslaan. ’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde skape.

Niks is vir God onmoontlik nie.

Jy en jou boksie

Waarom sit ons so selde om dieselfde vuur?

Laat iemand se boksie nou net anders lyk as joune. Of, nog erger, laat hulle nou net waag om glad nie in enige boksie te pas nie …

Ek dink meeste van die tyd is dit net omdat ons nie mekaar se stories ken en verstaan nie. Ons vergeet dat almal uniek anders geskape is. Elkeen het ʼn ander perspektief oor die lewe en oor God. ‘n Perspektief wat gevorm word deur ons stories.

Ons sien elkeen net ’n gedeelte, maar dink ons het alles gesien. Dan stry ons met mense wat ’n ander gedeelte gesien het. Intussen is nie een van ons
verkeerd nie, maar nie een van ons is ook heeltemal reg nie.

God is net eenvoudig soveel groter as wat ons ooit kan dink.

Paulus waarsku vir Timoteus: “Moet jou nie met dwase en sinlose strydvrae inlaat nie, want jy weet tog dat dit net rusies veroorsaak.” (2 Tim 2:23)

Die wêreld raak al hoe meer vyandig teenoor God en Christenskap. Moet ons nie juis nou mekaar versterk en opbou eerder as om mekaar in geestelike hoogmoed te kritiseer en af te breek nie?

Ek vra maar net.

4 reaksies op “Jy en jou boksie”

  1. elsabeskryf Avatar

    Ai, jy is reg. As ons net die moed het om die boksies se kante plat te trap, wag daar ‘n verrassende nuwe wêreld daar buite.

    Liked by 2 people

    1. Madeleine Venter Avatar
      Madeleine Venter

      Baie waar!

      Like

  2. daisyopdiestoep Avatar

    Praat jy darem nou die waarheid.

    Liked by 1 person

Laat ‘n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op ‘n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

Eenvoudig

Dis eenvoudig. Daar hoef nie lang stukke daaroor geskryf te word nie. Dis nie moeilik om te verstaan nie. Dit is doodeenvoudig net woorde wat gelees moet word en dan moet wortelskiet in jou hart.

En as dit nodig is om dit weer en weer en weer te lees omdat die saadjie op harde grond val en heeltyd opgepik word, dan lees jy dit weer en weer en weer.

Jy lees dit en dink daaroor en skommel dit in jou kop rond totdat jou hart omgeploeg is en die saadjie kan wortelskiet in vrugbare grond. Want eers dan gaan jy werklik kan doen wat die woorde vir jou sê om te doen en eers dan word jy weer gebore.

Ek praat van Romeine 10:9-10

Lees dit…

“As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered.”

Afrikaans ’83

Lees dit weer…

“Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is (sy krag, gesag en majesteit as God aanvaar) en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want as ons glo met ons hart (al ons hoop en vertroue op Christus vestig), word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely (dat Hy die Messias, die Seun van die lewende God is), word ons verlos.”

Die Toeligtings Bybel

En nog ‘n keer…

“En ek sê vir mense om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om met jou woorde te erken Jesus is die Here en om met alles in jou te glo God het Hom uit die dood laat opstaan. As jy dit glo, spreek God jou vry van al jou sondes. En as jy dit met jou mond bely, word jy verlos.”

Die Boodskap

Gaan doen dit nou.

Plant daardie saadjie

So ‘n paar jaar gelede word ek en my man albei ernstig siek – voedselvergifting. Ek was gedehidreer en moes dringend by ‘n hospitaal uitkom. Omdat my man self ook siek was, het my broer ons hospitaal toe gery. Op pad sê hy: “Madeleine, ek weet dit voel vir jou asof jy gaan doodgaan, maar jy sal nie, hoor?” In my toestand, het ek  hom heel waarskynlik nie eens geantwoord nie en hy het seker gedink ek hoor hom nie.

Dit was egter daardie woorde wat my deurgetrek het. Terwyl ek daar in die hospitaal op ‘n drip gelê het, het ek die hele tyd vir myself gesê: “Ek sal nie doodgaan nie.”

Hy het nooit besef hoe baie daardie woorde vir my beteken het nie. Woorde waarop ek  moontlik nie eens gereageer het nie.

Hoeveel keer het jy al vir iemand geglimlag wat nie terug glimlag nie? Of ‘n kompliment gegee wat nie erken word nie. Miskien het dit gelyk asof jou raad op dowe ore val en jou bemoedigende woorde geen impak maak nie. Die waarheid is, jy sal dalk nooit weet watter groot verskil dit in daardie persoon se lewe gemaak het nie.

Die einste broer van my getuig hoedat ‘n verpleegster se stelling, dat hulle oor ‘n paar dae beter gaan voel, hom bemoedig het toe hy en sy vrou albei deur ‘Die Virus’ platgetrek is.  Elke keer wanneer hy sleg gevoel  het, het hy net homself herinner daaraan dat die verpleegster gesê het hy gaan oor ‘n paar dae weer beter voel.

Ons lees in Spreuke 18:21 dat die tong mag het oor lewe en dood.

Het jy al daaroor gedink dat jou optrede direk of indirek die verskil tussen lewe en dood vir iemand kan beteken?

Soms voel dit wat jy doen klein en onbelangrik, maar dit is juis waarom Jesus hierdie gelykenis vertel het:

‘Hy het ook gesê: “Hoe sal ons die koninkryk van God voorstel, of met watter gelykenis sal ons dit uitbeeld? Dit is soos ‘n mosterdsaadjie. Wanneer dit in die land geplant word, is dit die kleinste van al die soorte saad daar in die land. Maar as dit eenmaal geplant is, kom dit op en word dit groter as al die tuinplante. Dit kry sulke groot takke dat die voëls in sy skaduwee kom nes maak.” ‘

MARKUS 4:30-32

So moenie ophou om daardie saadjies te plant nie. Wie ook al daardie mosterdsaadjie in die land geplant het, sou dalk nooit in sy leeftyd gesien het hoedat dit ‘n groot boom word nie. Net so sal jy dalk nooit sien hoedat die saadjies wat jy vir God se koninkryk plant vrug dra nie. Moenie dat dit jou ontmoedig nie.

Ek dink aan Jesus se opdragte om lief te hê, te dien en te vergewe waarvan ons lees in die Evangelies. Ook aan Paulus se riglyne vir ‘n Christelike lewe in Rom. 12:9-21 en Ef. 4:25-31. Wanneer ons hierdie riglyne volg, sal ons optrede outomaties lig en sout vir die wêreld wees.

Glimlag vir die nors tannie wat by jou verbystap. Antwoord die ongeskikte winkelklerk vriendelik. Praat die kollega wat die heeldag loop en kla moed in. Komplimenteer die klasmaat wat met almal skoorsoek…

Jy weet nooit of jou optrede dalk net die saadjie van lewe is wat in daardie persoon se hart gaan wortelskiet nie.