Jy sal onthou dat ek so ’n rukkie terug vertel het hoedat ek die moed bymekaargeskraap het om vir ’n digkompetisie in te skryf. Dit was juis hierdie brawe stap wat my laat besluit het om ’n digbundel aan te pak. Nou wonder jy seker wat  van die kompetisie geword het, nè? Wel, kom ek bring jou op hoogte en deel  dan sommer terselfdertyd ook ’n lessie wat die Here my geleer het uit hierdie ervaring.

INK Skryf in Afrikaans het altesaam 1560 inskrywings ontvang waarvan hulle 616 gedigte gekies het vir publikasie in hulle bloemlesing, Inspraak 2.  Die wenners word eers in November hierdie jaar aangekondig tydens die gala-aand.

My gedig, My hart klop in Afrikaans, is een van die wat opgeneem gaan word in hulle bloemlesing! Dit is vir my persoonlik ‘n baie groot prestasie en ook ‘n ongelooflike groot eer.

Nog groter, was egter dit wat ek geleer het n.a.v. wat gebeur het net voordat ek hierdie wonderlike nuus ontvang het. Kom ek vertel…

INK het ook ‘n Facebook-groep waarvan ek deel  is. Een middag maak ek die groep oop en daar sien ek ’n aankondiging boaan die bladsy waarin die wenners van die digkompetisie bekend gemaak word en die organiseerders bedank word vir die pragtige aand. My hart sak sommer in my skoene. ‘n Mens neem mos maar aan ’n kompetisie deel met ’n verwagting.

Hoe hard ek ook al myself probeer troos daarin dat ek nie te veel van my eerste digkompetisie kon verwag het nie, is dit tevergeefs. Moedeloosheid begin groei in my hart en voor ek weet besluit ek dat ek nie ’n digter se sout werd is nie en sak ek weg in ‘n donker put van selfbejammering. Die put word ’n maalkolk wat my dieper insuig totdat ek oortuig is daarvan dat ek liewer my patetiese poging om te skryf heeltemal moet opgee en dat ek oor die algemeen eintlik maar ’n nul op ’n kontrak is.

Toe is dit asof die Heilige Gees in my hart fluister: “Wie is jy nou weer?”

En net daar tref dit my soos ‘n baksteen teen die kop: Ek is besig om my identiteit op die fondasie van my skryfwerk te bou en nie op Christus nie!

Ek het onmiddellik hardop bely dat ek heel eerste, boweal, ‘n kind van God is. Gekies, gekoop en gemerk. Ek behoort aan Hom. My vreugde lê daarin en nie in my sukses as skrywer of op enige ander gebied in my lewe nie. My lewe behoort aan die Here.

Later daardie middag kry ek sowaar ‘n e-pos met ‘n amptelike brief wat my meedeel dat my gedig gekies is vir publikasie, asook ’n uitnodiging na die gala-aand.

Jy kan seker net dink hoe verbaas ek was!

Het ek my dan die aankondiging op Facebook verbeel?

Natuurlik gaan soek ek die aankondiging en raai wat? Ek kry hom nie. Wat ek toe wel besef, is dat Facebook sommerso rond en bont aankondigings uit die argiewe van groepe gaan haal en dan boaan bladsye plaas. Dit wat ek gesien het, was dus heel waarskynlik die wenners van ’n vorige jaar!

Die hele gebeurtenis het my net weer bietjie perspektief gegee en my gedwing om my prioriteite te orden.

Plaas God eerste en die res sal volg soos dit moet en volgens Sy wil – want Hy laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom lief het.

Wees geseën

Madeleine